HOPE DRAMA EN KINKELS

Dié reeks, wat in 2015 ’n Golden Globe vir die beste dramareeks gewen het, boei kykers al drie seisoene lank.

Dit het vier jaar gelede afgeskop met die pa van vier, Noah Solloway (Dominic West), wat sy vrou, Helen (Maura Tierney), verneuk.

Hy knoop ’n buite-egtelike verhouding aan met Alison Lockhart (Ruth Wilson), ’n vrou wat hy ontmoet het tydens ’n uitstappie saam met sy gesin by ’n eetplek, waar sy as kelnerin werk.

Elke episode het twee dele – een waar Noah sy weergawe van die gebeure vertel en die ander soos sy skelmpie, Alison, dit onthou.

Dominic West en Sanaa Lathan in ’n toneel uit The Affair. Sy speel die hoof van die skool waar sy karakter klas gee.

In die derde seisoen het Noah Alison gelos en het hy ’n nuwe liefdesbelangstelling, ’n professor in die letterkunde, Juliette Le Gall, wat deur die Franse aktrise Irène Jacob vertolk word.

In die jongste seisoen trek Noah Los Angeles toe om nader aan sy jonger kinders te wees. Maar hy sukkel daar om by sy nuwe lewe aan te pas. 

Intussen werk Alison as ’n berader. Haar eksman, Cole (Joshua Jackson), en sy tweede vrou, Luisa (Catalina Sandino Moreno), woon in Montauk, New York.

Natuurlik is daar weer hope drama en kinkels. In die lusmaker, wat in Mei uitgereik is, sê Noah in ’n oproep van ’n foonhokkie aan Cole: “Daar het al 72 uur verloop en niemand het haar gesien nie. Die polisie het haar as vermis aangemeld.”

Wie kan dit wees? Daar is flitse van sy eksvrou, Helen, Alison en Cole se vrou, Luisa . . .

DIE NUWE GESIGTE

  • Sanaa Lathan, wat al in flieks soos The Best Man gesig gewys het, is te sien as Janelle Wilson, die hoof van die skool waar Noah nou klasgee. En haar kollegas verpes haar tawwe raakvathouding.
  • Die Iron Fist-ster Ramón Rodríguez speel die vloot-veteraan Ben, wat vir Alison ogies maak.
  • Phoebe Tonkin, oftewel Hayley van die vampier­reeks The Originals, en Amy Irving van Alias is te sien as onderskeidelik Daphne en Nan Perino, wat ’n geheimsinnige verbintenis met Cole se pa het.
BRONNE: DIGITALSPY.COM, REFINERY.COM, TVLINE.COM
THE AFFAIR SEISOEN 4 M-NET | BEGIN WOENSDAG 22 AUGUSTUS om 22:00

The Orville

Star Trek 2.0

Dié splinternuwe wetenskapsfiksiekomediereeks op M-Net speel af in die jaar 2417. Dis soortgelyk aan reekse soos Star Trek.

Die kaptein

Seth MacFarlane speel Ed Mercer, die kaptein van die vaartuig USS Orville. Seth is ’n groot Trekkie-­aanhanger en ’n droom is verwesenlik toe hy sy eie weten­skapsfiksieprogram kry.

Die eks

Ed se eksvrou, Kelly Grayson (Adrianne Palicki), het hom met ’n ruimtewese verneuk. ’n Jaar later word sy as sy eerste offisier aangestel omdat niemand anders beskikbaar is nie.

Die skeppers

Seth, wat vir die animasiereeks Family Guy verantwoordelik is, is ook die skepper van dié reeks, wat jou lag­spiere sal prikkel.

M-NET | MAANDAE 17:00

Survivor: Cambodia

Survivor-koors

As jy nie genoeg van die plaaslike Survivor-reeks kan kry nie, kan jy regskuif vir die 31ste seisoen van die Amerikaanse weergawe.

Welkom terug, Jeff

Jeff Probst is weer terug in die Survivor-aanbiederstoel. Hy is al van die eerste seisoen, wat in 2000 begin het, by dié reeks betrokke.

’n Tweede kans

Twintig deelnemers uit die vorige 30 seisoene keer terug vir ’n tweede geleentheid om agteraf te konkel en in moeilike toestande op ’n eiland te oorleef.

Die kykers praat

Kykers van dié gewilde program het self aanlyn gestem vir hul gunstelingdeelnemers om terug te keer.

SABC 3 | MAANDAE 19:30

TV-flieks / 23-29 Aug

DIE WONDER­WERKER

KYKNET (Drama)

Dié fliek vertel die verhaal van die Afrikaanse skrywer en digter Eugène Marais. Dit speel af in 1908 op die Van Rooyens se plaas, Rietfontein, in die Waterbergdistrik.

Hy kom dodelik siek met malaria op die plaas aan. Hy word deur ’n 19-jarige meisie versorg en raak verlief op haar. Met Dawid Minnaar en Anneke Weidemann.

SATERDAG  25 AUGUSTUS 20:00 2012. 119 MIN. O13

MEISIE

SABC 2 (Drama)

’n Jong skoolonnie van Kaapstad verskuif na ’n skool op Riemvasmaak in die Kalahari. Daar ontferm sy haar oor ’n meisie wat haar pa se bokke oppas en nie skool toe gaan nie.

Dié meisie is verstommend goed in wiskunde en die nuwe juffrou verander haar en haar pa se lewe. Met Renate Stuurman en Abrina Bosman.

SONDAG 26 AUGUSTUS 16:00 2007. 87 MIN. O

FAHRENHEIT 451

M-NET (Aksie)

Dié rolprent speel in die toekoms af in ’n ­samelewing waar boeke verbode is omdat geglo word dit saai verdeeldheid en maak mense ongelukkig.

’n Brandweerman begin boeke in die geheim lees en ontdek ’n vertroulike, ondergrondse rebelliegroep wat dit hul taak maak om die literatuur te beskerm.

Hy sluit by die rebellie aan. Met Michael B. Jordan, Aaron Davis en Michael Shannon.

SATERDAG 25 AUGUSTUS 21:002018. 100 MIN. O13G

CAPTAIN AMERICA: THE WINTER SOLDIER

E.TV (Aksie)

Steve Rogers, oftewel Captain America, probeer in die moderne wêreld aanpas. Hy word in ’n web van intrige gedompel toe ’n S.H.I.E.L.D.-kollega aangeval word.

Hy span dan kragte saam met die Black Widow en die Falcon om twee vyande, Hydra en ’n sluipmoordenaar wat net bekend is as The Winter Soldier, te stuit. Met Chris Evans, Scarlett Johansson en Sebastian Stan.

SONDAG 26 AUGUSTUS 20:00 2014. 136 MIN. O13

PETE’S DRAGON

M-NET (Fantasie)

’n Houtkerwer vertel gereeld stories oor ’n geheimsinnige draak, wat diep in die woud woon.

Sy dogter glo dis net wolhaarstories – tot sy Pete, ’n 10-jarige weeskind, ontmoet wat sê hy woon in die woud saam met ’n goedgesinde reusedraak. Met Bryce Dallas Howard, Robert Redford en Oakes Fegley.

SONDAG 26 AUGUSTUS 13:30 2016. 102 MIN. O

The House

M-NET (Komedie)

’n Desperate paartjie moet ’n plan beraam om hul dogter se peperduur universiteitskoste te dek. Hulle besluit dan om kragte met hul buurman saam te span om ’n ondergrondse dobbelplek in sy huis te begin.

Die geld begin inrol, maar is dit te goed om waar te wees? Met Will Ferrell en Amy Poehler.

SONDAG 26 AUGUSTUS 20:30 2017. 88 MIN. 16GT

Het jy gehoor?

Foto: VIA

Ek Wou Nog Sê, ’n spesiale dokkie wat verlede jaar eksklusief op VIA uitgesaai is, word van 28 Augustus ’n splinternuwe TV-reeks. In dié geselsprogram verken Coenie de Villiers en die digter Daniel Hugo poësie.