MOEILIKE TONELE

Die radio- en TV-man Maurice Carpede het kykers se bloed omtrent laat kook as die sukkelende aktrise Valdonia (Gerwen Simon) se aggressiewe man, die moles­maker en rokjagter Ridwaan “Waanie” Matthews. 

Waanie, ’n vragmotorbestuurder, was ’n lang ruk afwesig uit Valdonia en hul dogter, Chantel (Menicia Sass), se lewe, maar het onlangs na Arendsvlei teruggekeer. 

Waanie het gou sy ware kleure gewys en by ’n ander vrou geslaap – en dit in sy vrou se huis.

Sy manewales het nie net die kykers omgekrap nie, maar ook vir Maurice self. “Ek wil hom sommer bykom. Hy maak my die duiwel in,” sê die 52-jarige akteur.

Dit was vir hom moeilik en emosioneel uitputtend om van die tonele te verfilm, sê hy. 

maurice carpede,menicia sass,arendsvlei
Hy het kykers rooi laat sien as die moeilikheidmaker en rokjagter Waanie in Arendsvlei. Die rol van sy dogter in die telenovelle, Chantel, word deur die aktrise Menicia Sass vertolk. Foto: Penguin Films

Net soos sy karakter wat ’n ruk lank nie in sy dogter se lewe was nie, het Maurice sy biologiese pa ook eers dekades ná sy geboorte ontmoet. Hy was toe in sy 30’s. 

Sy pa se afwesigheid was nie vir hom ’n daadwerklike probleem nie, sê Maurice. 

“Dis omdat ek hom nooit rêrig geken het nie. Die leemte wat hy gelaat het, is goed gevul deur ander vaderfigure in my lewe soos my ooms en veral my oupa Pierre Carpede.”

Met Waanie was dit anders. Dié het uit Chantel se lewe gekom en gegaan en was nooit daar wanneer sy hom die nodigste gehad het nie. 

“Daar is ongelukkig derduisende Waa-nies in ons samelewing. Die meeste van ons ken dalk ’n Waanie.”

TERUG MET MENING

Maurice was in 2013 laas gereeld op die kassie as aanbieder van Veldfokus in 50/50. Toe kom die kykNET & kie-telenovelle Arendsvlei vanjaar oor sy pad. 

“Dis net jammer dat dit met ’n karakter soos Waanie moet wees. Die man maak my bang om in die openbaar gesien te word. Een van die dae gaan ek lekker rustig in ’n winkelsentrum rondloop, dan gaan ’n antie my met haar handsak bykom,” sê Maurice, wat ook aanlyn onder kritiek deurgeloop het oor sy rol.

“Ek het vroeër vanjaar, op dieselfde tyd as Arendsvlei, ook aan die TV-produksie The Riviera gewerk. Dis gegrond op die aktrise Quanita Adams (wat die hawe-lose vrou Laetitia in Arendsvlei speel) se lewe en ek speel die rol van ’n skoolhoof daarin.” Dié reeks word vroeg volgende jaar op SABC2 uitgesaai. 

“Ek sien uit na wanneer dit op die kassie is. Hopelik sal dit die ‘skade’ wat Waanie aan my reputasie gedoen het in ’n mate herstel,” laat hy laggend hoor.

RADIOWERK

Maurice woon die afgelope ses jaar in die Moederstad en is ’n omroeper op die Kaapse radiostasie Smile 90.4FM. 

“Ek is van die ontstaan van die radio­stasie af by hulle betrokke. Ek en Angel Campey, my mede-aanbieder van die middagprogram, het groot pret saam in die ateljee. 

maurice carpede,radio-omroeper,smile fm
Saam met Angel Campey, sy medeaanbieder van die middagprogram op die Kaapse radiostasie Smile 90.4FM. Foto: Instagram/@smile904fm

“Was dit nie daarvoor nie, sou ek Jacaranda FM beslis baie meer gemis het,” vertel hy oor dié Gautengse radio­stasie waar hy byna 15 jaar gewerk het voor hy Kaap toe verhuis het. 

“Ek kry gereeld boodskappe in die sosiale media van mense daar bo in die noorde wat vra of ek nie maar wil terug-keer na die stasie toe nie en sê dat hulle my stem oor die radio mis. Dis vir my ’n groot pluimpie.”

GROOTWORDJARE

Maurice het op die Vrystaatse dorpie Ficksburg by sy ouma aan moederskant, Florence Carpede, grootgeword. 

“Ek en my vriende was die meeste van die tyd in die veld of op die oewer van die Caledonrivier,” vertel hy. 

“As ek nie daar was nie, was my neus in ’n boek by ’n kerslig. Ons het nie elektrisiteit gehad daardie jare nie.

“My pa was Tswana en my ma (Fidelia) is ’n bruin vrou wat Afrikaans grootgeword het. My ouma Florence was ’n Tswana-vrou wat baie goed Afrikaans kon praat.

“Die gemeenskap op Ficksburg waarin ek grootgeword het, was oor die algemeen tweetalig – Afrikaans en Suid-Sotho. Is dit waar my liefde vir die taal vandaan kom? Nee, nie noodwendig nie. Afrikaans is bloot ’n baie mooi taal.

BESTEM VIR DIE VERMAAKBEDRYF 

Maurice is al 26 jaar in die vermaakbedryf. Hy onthou hoe hy altyd as kind vir sy ma gesê het hy gaan “eendag op TV wees”. 

Hy het egter nie gaan stilsit en besluit hy wil op radio en televisie wees nie, vertel hy. “Dit het net gebeur. Ek glo dit was so bestem,” sê hy.

Maurice het al in onder meer die sepie Generations verskyn en was ook veld­aanbieder vir die joernaalprogram Pasella en musiekprogram Sweepslag. 

Hy het destyds regte aan die Univer-siteit van die Vrystaat studeer, maar het besluit om sy studie te staak. 

“Wanneer ek vandag terugkyk oor my lewe en studentejare, dink ek ek sou ’n uitstekende regsgeleerde gewees het, maar dit sou nie soveel pret gewees het soos dit wat ek nou doen nie. Die besluit om nie my regsgraad te voltooi nie is ’n besluit wat ek nie self geneem het nie. Ek glo my lewe, of dan nou ‘die lewe’, het daardie besluit namens my geneem.” 

TUISLEWE

Maurice het onlangs buite Somerset-Wes met sy meisie van die afgelope vyf jaar, Amanda (44), getrou. 

Dis die beste gevoel om Amanda, ’n bibliotekaresse aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, eindelik sy vrou te noem, sê Maurice. 

“Ek en Amanda het mekaar op Tinder ontmoet. Ek het dadelik van haar gehou en haar bossiekop-afro is wat eerste my aandag getrek het. Ek het regs ge-swipe.” 

maurice carpede,akteur,troudag
Maurice en sy vrou, Amanda, op hul troudag. Foto: Dewald Kirsten

Amanda is ook ’n vennoot in ’n maat­skappy wat aan die stuur is van ’n beweging wat mense aanmoedig om hul hare natuurlik te dra. In sy vrye tyd tree Maurice gereeld as fotograaf op by geleenthede wat sy vrou reël. 

“Baiekeer moet ek maar Instagram-husband speel en meer foto’s van haar neem as wat ek self graag sou wou neem,” sê hy en lag. 

Die paartjie het ’n 17-jarige dogter, Caitlin Cooke. “Ek het in hul lewe gekom toe sy 12 jaar oud was en sy is soos my eie dogter,” vertel Maurice. 


Blitsvrae
  • Watter liedjie boer tans op jou speellys? ”Dance Monkey” van Tones and I. 
  • Watter woord of frase gebruik jy gans te veel? “Genaaade” en “kwaai lappies” en dan natuurlik my radio-­slagspreuk: ‘Kom ons gaan huis toe, Kaapstaaad!’ ”

  • Watter onderhoud wat jy al gevoer het, staan vir jou uit as iets besonders? Sjoe! Ek het al baie onderhoude gevoer, maar die een wat my die meeste bybly, is my heel eerste radio-onderhoud by die Universiteit van die Vrystaat toe die huidige Kovsie FM nog Radio Shimla was. Margaret Gardiner (Mej. Heelal van 1978) het in 1988 daar ’n draai kom maak. Die ander omroepers was óf te bang óf te skaam om met haar te gesels; daarom het ek aangebied om die onderhoud te voer, op voorwaarde dat dit in Afrikaans gedoen word. My Engels was toe nog baie vrot. Margaret was te vinde daarvoor mits sy ’n paar sinnetjies in Afrikaans op papier kon neerskryf en lees.
  • Wie sou jou speel in ’n fliek oor jou lewe? Will Smith. Mense het al dikwels vir my gesê ons lyk na mekaar, maar sy Afrikaans laat veel te wense oor. So ek dink iemand soos Jarrid Geduld (Abie Pakkies in die rolprent Ellen: Die storie van Ellen Pakkies) sal my uitstekend kan speel. Hy is ’n onge­looflik talentvolle akteur, en ek het baie respek vir sy werk. 

  • Wat sal lesers verbaas wees om te weet oor jou? Ek is skaam, of eerder: Ek is ’n introvert. Ek is ongemaklik tussen vreemdelinge; daarom is dit vir my moeilik om in winkelsentrums rond te stap of in ’n restaurant te sit. Maar wanneer ek tussen vriende en kollegas is, kan ek nogal kaatjie van die baan wees. 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.