Vanaf 1 Oktober is Arendsvlei vier dae per week op
Vanaf 1 Oktober is Arendsvlei vier dae per week op die kassie. Foto: kykNET

Nóg drama

Maande lank wou kykers van die Afrikaanse telenovelle Arendsvlei weet: Wanneer kry ons meer as drie episodes per week? Nou is dit amptelik. Van 1 Oktober is dié gewilde reeks vier dae per week op die kassie te sien. En dis nie al goeie nuus nie. Op 28 September begin ’n splinternuwe seisoen.

“Ons is baie dankbaar ons kan vir nog ’n seisoen die stories van Arendsvlei se mense vertel. Ons het omtrent elke dag navrae gekry oor ’n moontlike vierde episode en is opgewonde om eindelik die nuus met kykers te deel,” sê Tarryn Josephs, publisiteitsbestuurder van Penguin Films, wat Arendsvlei vervaardig.

View this post on Instagram

4 Days a Week #Arendsvlei?? ??@kyknetkie ??@atlanticfilmstudios

A post shared by ARENDSVLEI (@arendsvlei) on

Die hoofskrywer, Theltom Masimila, is dankbaar die reeks word so goed deur kykers ontvang. “Ek was 24 jaar oud toe ek Arendsvlei aan kykNET voorgelê het, en ek het nooit gedink ek sal op 25 die hoofskrywer en vervaardiger van een van die land se grootste telenovelles wees nie.”

Wat wag?

Die reeks het twee jaar gelede sy debuut op kykNET & kie gemaak en speel op die Kaapse Vlakte af. Dit draai om die lief en leed van inwoners op die fiktiewe dorpie Arendsvlei en die leerders van die Hoërskool Arendsvlei.

Kykers kan hulle gereedmaak vir hope drama en nuwe karakters in die jongste aflewering. Die tweede seisoen het met ’n dubbele moord geëindig en seisoen drie begin met die nasleep van dié tragedie.

Die matriekklas van 2020 skryf hul eindeksamen en die hoof, Beatrice (Jolene Martin), verdwyn toe iemand uit haar verlede onverwags opdaag.

Kykers ontmoet ook die gesin van die skurk Bompie Galant (Jarrid Geduld), en die verhouding tussen die feeks Wendy (Rehane Abrahams) en haar tronkvoël-pa, Pieter (Ivan Abrahams), bereik breekpunt nadat dié op parool vrygelaat is.

ONTMOET DIE NUWE ARENDSVLEIERS

DIE GALANT-GESIN

Kykers het al kennisgemaak met die skurk Bompie Galant. Die Stroomop-aktrise Ilse Klink sluit by die rolverdeling aan as Bompie se ma, Dorothy Galant. Niemand kan verstaan hoekom ’n gerespekteerde en sagmoedige vrou soos sy met Desmond Galant, die gevaarlikste misdadiger op Arendsvlei, getroud is nie.

“Dorothy is vir my baie uitdagend, veral haar tweeledigheid, want ek het nog nooit so ’n karakter gespeel nie,” sê Ilse. Op die eerste dag op die stel was almal ’n bol senuwees, onthou sy. “Die jong mense het baie van my verwag, so dit was intense en ook groot pret.” 

Ilse Klink vertolk die rol van Dorothy Galant. Fot
Ilse Klink vertolk die rol van Dorothy Galant. Foto: kykNET

Die jong aktrise Chelsea Thomas, wat voorheen ’n rolletjie in die dramareeks Melody gehad het, speel Dorothy se tienerdogter en Bompie se suster, Angelique. Dié is ’n nuwe leerder aan die Hoërskool Arendsvlei. Sy sien baie van haarself in haar karakter wanneer sy op die stel is, sê Chelsea (20).

“Sy is teruggetrokke, maar staan ook vir niks terug nie. Dis presies hoe ek is – unstoppable!” Dis vir haar ’n groot voorreg om teenoor die ervare aktrise Ilse Klink te speel, vertel sy. “Ek leer so baie by haar, en ek sê gereeld vir haar hoe unreal dit voel om teenoor haar te speel.”

Chelsea Thomas. Foto: kykNET
Chelsea Thomas. Foto: kykNET

DIE NUWE POLISIEMAN

Die gesoute akteur Brendon Daniels van Sara se geheim-faam was nog altyd ’n groot aanhanger van Arendsvlei.

“Dit word deels verfilm in die omgewing waar ek woon,” sê hy oor die telenovelle wat by ’n tegniese skool in Eersterivier, Kaapstad, geskiet word. Nou sluit hy by die rolverdeling aan as kapt. Krige, ’n jare lange pel van Lionel (Jody Abrahams). Brendon se karakter word van Clanwilliam af na die Bellville-polisiekantoor in die Kaap verplaas. Hy loop dan weer vir Lionel raak en veroorsaak groot drama onder Lionel se meisie, Janice (Crystal-Donna Roberts), se dak.

“Kapt. Krige streef na eerbaarheid en is toegespits op regverdigheid en versoening,” vertel Brendon (48). “Dit is verrykend om teenoor Jody te speel. Ons was saam te sien in die fliek Four Corners en as akteur hou hy daarvan om gedagtegange uit te daag.”

Brendon Daniels. Foto: kykNET
Brendon Daniels. Foto: kykNET

DIE BURGERS

Nancia Dorland (21) vertolk die rol van die skooldogter Candice Burger. Haar karakter is by geboorte deur haar biologiese ma verwerp en sy het swaar onder haar stiefma grootgeword.

“Dis my eerste professionele rol en die Arendsvlei-familie het my met ope arms verwelkom,” vertel dié oudleerder van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Nancia speel ook tans Tessa Brink in die nuwe kykNET-dramareeks Kompleks.

Nancia Dorland. Foto: kykNET
Nancia Dorland. Foto: kykNET

Die aktrise Carmen Maarman (41), wat ons as Maggie Jantjies in die kykNET-sitkom Lui maar op, Belinda gesien het, maak haar verskyning as Candice se selfbehepte stiefma, Natalie Burger. Die twee het nog nooit regtig ’n band gehad nie en sit nie langs dieselfde vuur nie.

“Sy is kompleet die teenoorgestelde van my; sy is maar ’n piece of work,” lag Carmen. “Ek wou nog altyd in Arendsvlei speel, en ek voel baie geseënd en dankbaar om te kan werk en boonop iets te doen waarvoor ek lief is.”

Carmen Maarman. Foto:kykNET
Carmen Maarman. Foto:kykNET

DIE ANDER NUWE LEERDERS

Chad Baai het die eerste keer van Arendsvlei gehoor toe een van sy beste pelle, die akteur Dillon Windvogel, net ná matriek die rol van Vernon Booysen in dié telenovelle losgeslaan het. Nou is Chad (21) gereed om in sy vriend se voetspore te volg en sy stempel af te druk as die nuwe Hoërskool Arendsvlei-leerder Kaleb Jakobs.

Kaleb is oorspronklik van Clanwilliam en het sy ouers in ’n motorongeluk verloor toe hy baie jonk was. Die hardwerkende tiener versorg sy sewejarige boetie, Bobby, en sal eerder werk vir wat hy het as om bakhand te staan vir aalmoese.

“Ek het ná matriek ’n hoofrol in die musiekspel Fame vertolk en was ook verlede jaar in David Kramer se musiekspel Danger in the Dark te sien.”

Chad Baai. Foto: kykNET
Chad Baai. Foto: kykNET

Inge Isaacs was reeds in seisoen twee te sien as die hoërskoolleerder Emmie Langeveld wat dwelms by Zane Meintjies (Gershwin Mias) gekoop het. Maar hierdie keer is dié oudleerder van die Hoërskool The Settlers in Bellville, Kaapstad, terug vir ’n groter storielyn.

“Ek is baie opgewonde hieroor en kan nie wag om dieper in my karakter se storie te delf nie,” sê Inge (23).

Inge Isaacs. Foto: kykNET
Inge Isaacs. Foto: kykNET

DIE GEHEIMSINNIGE MAN

Clayton Evertson (34) is geen vreemdeling op die kassie nie. Hy was al te sien in die kykNET-dramareeks Vloeksteen, die bonatuurlike rillerreeks Die spreeus en meer onlangs in die kontemporêre Wilde Weste-rolprent Flatland. In Arendsvlei leer kykers hom ken as die aantreklike Jake Sylvester wat bang is om met mense bande te smee nadat hy sy pa verloor het. Jake het ’n droë humorsin en is hoogs intelligent – en hy weet hoe om mense verkeerd op te vryf.

“Jake is ’n onvoorspelbare en ingewikkelde ou uit eie keuse en dit maak hom ’n lekker karakter om te speel,” sê Clayton ingenome. “Hy is doelbewus misterieus, nie net om sy doelwitte te bereik nie; hy probeer ook sy kwesbaarheid beskerm.” 

Clayton Evertson. Foto: kykNET
Clayton Evertson. Foto: kykNET

’N NUWE STEL

Kykers ken al die Hoërskool Arendsvlei, Anton se bakkery, Wendy se kroeg en die res van die Arendsvlei-inwoners se huise. Hulle gaan nou die eerste keer ’n splinternuwe stel, die Galant-gesin se huis, ook sien, sê die hoofskrywer, Theltom Masimila.

“Die kunsafdeling het ’n pragtige huis vir die Galants gebou, en ons kan nie wag om dit vir die kykers te wys nie.”

Chelsea, wat Angelique speel, span uit in die Gala
Chelsea, wat Angelique speel, span uit in die Galant-­gesin se huis. Foto: kykNET

  • kykNET & kie | Maandag tot Donderdag om 20:00