Beáta Bena Green is vir eers klaar met die telenov
Beáta Bena Green is vir eers klaar met die telenovelle Arendsvlei. Foto: Instagram

Beáta (24) se karakter, die skoolsekretaresse Kim Claassen, het uit haar pos bedank om haar hart te volg nadat sy poskaarte ontvang het wat klaarblyklik van Maurice (Danny Ross) kom. 

Danny Ross en Béata Bena Green in 'n toneel uit Ar
Danny Ross en Béata Bena Green in 'n toneel uit Arendsvlei. Foto: kykNET&kie/Arendsvlei

Kykers het dié karakter leer ken as die onderwyser Nathan Abrahams, maar hy is later ontmasker as een van die moeilikheidmaker Wendy (Rehane Abrahams) se makkers en het die gemeenskap van Arendsvlei verlaat. 

“Kim het Maurice met haar hele hart lief en sien werklik ’n toekoms saam met hom. Die bietjie hoop wat sy gekry het toe hy oënskynlik kontak gemaak het, het haar oortuig. Sy voel hy is die moeite werd,” laat Beáta hoor. Sommige kykers is egter oortuig dat die poskaarte wat Kim ontvang het, eerder van Bompie (Jarrid Geduld) as van Maurice af kom. 

In ’n video wat deur die televisiekanaal kykNET & kie se Instagram-blad gedeel is, het Beáta vertel dat alhoewel Kim se besluit skielik was, dié karakter nie later spyt wou wees nie. 

View this post on Instagram

Gisteraand het Kim, vertolk Beata Green, Arendsvlei verlaat! Kyk hier om te sien hoe sy voel haar karakter wat "die liefde" volg en dalk die toekoms van haar karakter! ????

A post shared by kykNET&kie (@kyknetkie) on

“As Beáta sou my raad aan Kim wees, volg altyd jou hart, maar maak seker dat jy ’n plan B het,” sê die boorling van Paarl in die Boland. 

“Dit was so verfrissend om uit my eie skoene te klim en Kim te word. Ek was mal daaroor om ’n karakter wat die teenoorgestelde van my is, te leer ken en pret met haar te hê,” vertel die aktrise aan Huisgenoot.

“My laaste dag op stel was so gevul met nostalgie. Ek het teruggedink aan die pad wat ek met Arendsvlei gestap het sedert die begin daarvan en het skoon ’n knop in my keel gekry.”

Sy gaan al haar medesterre verskriklik mis, vertel Beáta, maar in besonder vir Melanie du Bois (Ronel Cupido), Crystal-Donna Roberts (Janice Cupido), Melissa de Vries (Sasha Daniels), Roberto Kyle (Lee-Roy Foster) en Maria Valente De Almeida (Samantha Abrahams). 

“My gunsteling-herinnering is beslis dié van my eerste dag. Dit was ’n wonderlike dag. Ek was so senuweeagtig, maar my geloof was so groot soos ’n mosterdsaadjie, en dit het vrugte afgewerp,” onthou Beáta. 

“Ek het ook so baie lesse geleer, maar een wat vir my uitstaan, is dat dit wat jy insit, bepaal wat jy uitkry. So as jy hard werk, sal jy suksesvol wees.”

En nou kyk sy net vorentoe. 

“Ek is nou gereed om my vlerke te sprei en nuwe goed te probeer. Ek is opgewonde om die groei wat met nuwe dinge gepaardgaan te ervaar,” laat sy hoor.