View this post on Instagram

??‍??

A post shared by Lindsey Abrahams (@lindsey_lady_rose) on

Nadat sy in 2012 aan die Milnerton Hoërskool in Kaapstad gematrikuleer het, het Lindsey in 2015 ’n BA.-graad in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, met drama en sielkunde as hoofvakke. Sy het al rolle vertolk in die televisiereeks Knapsekêrels en ook die sepie Suidooster, albei op kykNET. 

Lindsey het voorheen aan die tydskrif Kuier vertel dat sy van kleins af skaam was en dit nog nie heeltemal afgeskud het nie. Toneelspel laat haar toe om iemand anders te wees en dit maak haar gemaklik en minder angstig.

Die aktrise het ook Kaapstad verruil vir Johannesburg, maar sy vertel aan Huisgenoot dat sy die see en die strand ongelooflik baie mis.

"In die Kaap is ’n groot hoeveelheid strande waaruit 'n mens kan kies, en jy hoef nie ver te ry om tyd in die natuur deur te bring nie. Johannesburg is 'n bietjie van ’n betonoerwoud, en die natuur hangouts is nie altyd so volop en veilig soos wat dit in Kaapstad is nie," sê Lindsey. 

Deesdae kry sy so twee keer per jaar kans om ’n uitgerekte draai in die Kaap te maak. 

Maar Johannesburg is darem nie heeltemal vreesaanjaend vir haar nie en sy geniet dit om die stad te verken.

"Ek hou daarvan om nuwe plekke te vind om te kuier; iets wat 'n bietjie off the beaten track is. Ek is nie iemand vir ’n groot samedromming van mense nie; ek verkies plekke met ruimte en interessante mense wat hou van gesels. Ek verkies stiller kuierplekke waar ’n mens ten minste ander mense kan hoor praat. Om hierdie soort plekke te vind is soos ’n skattejag, en ek geniet sulke avontuuruitstappies," vertel sy. 

Die aktrise deel ook gereeld foto's en video's in die sosiale media van hoe sy elektriese spierstimulasie-oefeninge doen. 

"Ek oefen gereeld omdat ek my liggaam in toom moet hou. Oefening help ook met ’n mens se gedagtes en geestesgesondheid. Ek hou daarvan om te sweet en op dieselfde tyd my kop se boekrakke uit te pluis," sê sy. 

Lindsey het vroeër vandeesmaand haar 26ste verjaardag gevier. Haar verjaardagwense wil sy nie verklap nie, maar laat val wel dat sy ’n baie groot doel voor oë gestel het en alles gaan insit om dit te behaal. 

En wat sou haar raad aan ’n jonger Lindsey aan die begin van haar akteursloopbaan gewees het? 

"Moenie alle so oordink nie. Ek het soveel geleenthede misgeloop omdat ek te veel daaroor gedink het. Ja, ’n mens moet oordeelkundig wees oor die keuses wart jy doen, maar jy moet dit asseblief nie oordink nie."

"Life isn't hard, you only make it harder by overthinking." 

Die uitdagendste aspek van haar rol as Chanel in die hospitaaldramareeks Binnelanders is die jong verpleegster se kenmerkende kuif, sê sy en lag. 

"Dan is daar die feit dat daar nog nie so baie oor Chanel bekend is nie. Sy is al ’n bietjie op papier uitgelê, maar die ingewikkeldheid van haar verhoudings, verlede en familie is iets wat stadig maar seker ontvou soos die karakter haar voete vind in Pretoria.

"Ek hou van die feit dat Chanel nogal haar man kan staan, en dat sy haar sê kan sê. Sy is ’n jong meisie wat die wêreld aan haar voete het, maar sy besef dit nie altyd nie," sê Lindsey oor haar karakter. 

Op die skerm is Chanel in ’n verhouding met die paramedikus Danny Jantjies (Bradley Olivier), met wie Lindsey weg van die kassie en stel af goeie vriende is. 

Chanel en Danny se verhouding word gereeld getoets deur albei se familie, maar Lindsey sê die verliefdes is mekaar se beskermers en dis een van die redes hoekom kykers hulle dalk nie te veel moet bekommer dat die twee dalk gaan opbreek nie. 

"Ek dink eerstens hulle (Chanel en Danny) is baie goeie vriende; dus gaan dit nie net oor liefdesgevoelens nie, dit gaan ook oor hul wedersydse respek vir mekaar en hulle baie goeie vriendskap. Hulle is beginselvas en weet hulle is nie geregtig daarop om mekaar te veroordeel nie," sê Lindsey. 

"Dit kan dalk ’n baie groot jaar wees vir Chanel, maar dit hang af van hoe sy en Danny verder groei en wat hul visie vir die toekoms is." 

En al geniet sy dit om die rustige Chanel te speel, vertel Lindsey dat haar droomrol die van ’n taai fliekheldin is.

"Ek word altyd as Miss Goody two-shoes beskou, maar sal glad nie omgee om 'n bietjie ’n badass-karakter te speel soos die karakter Xena in die televisiereeks Xena: Warrior Princess  of die rol wat Demi Moore gespeel het in die fliek G.I. Jane nie. Ek dink daar is ’n aksieheld in almal van ons."

Binnelanders word weekaande om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Kom neem deel aan die gesprek.
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Ekstra bron: Kuier