Die 28-jarige Chané Mynardt, ’n administratiewe klerk, is egter Donderdagaand ná sowat vier weke,van die eiland in El Nido in die Filippyne afgestem. En hoewel die blondekop nie baie lank blond was nie (haar hare het later ’n roesbruin-skakering gekry ná sy dit probeer was het), het sy tog voorgegee om ’n “hulpelose blondine” te wees, verklap sy oor haar strategie op die eiland.

Sy verklap haar aanvanklike bondgenootskap met die deelnemer Tom was ook bloot strategies. “Omdat Tom baie luidrugtig en bombasties is, het hy die aandag van my af getrek. Baie mense het dus gedink ek volg hom, maar ek het hom eintlik tot my voordeel gebruik,” vertel sy.

“Dit was ook my doelwit om nie as ’n bedreiging voor te kom nie.”

Chané is na Donderdagaand se episode saam met Vusi die tweede lid van die jurie, wat later sal moet besluit watter een van die laaste twee die R1 miljoen-prys sal wen.

“Ek was nogal teleurgestel dat ek so gou deel van die jurie geword het. Maar dit was ongelooflik om daarna ’n warm stort te vat en op iets sags te slaap.”

Haar eerste ete nadat sy uitgestem is, was in Ponderosa, waar lede van die jurie tuisgaan. “Niks sal ooit weer so lekker smaak nie,” sê sy oor haar eerste groot bord pasta en vrugte ná weke van ’n bietjie vrugte, rys en skraapsels vis.

Chané het 6 kg verloor terwyl sy aan Survivor deelgeneem het.

“Ek wil in Bloemfontein ’n dieet begin wat op Survivor se beginsels gegrond is,” skerts sy.

Chané sê dit was vir haar ’n groot aanpassing om skielik met wild vreemdelinge oor die weg te moet kom en boonop bondgenootskappe en ooreenkomste met hulle te moet aangaan.

Maar die ontspanne eilandleefstyl was beslis die lekkerste. “Wanneer ons nie besig was om rond te hardloop om genootskappe te smee of immuniteitsimbole (wat verhoed dat jy uitgestem kan word) te soek nie. 

“Ons lewe is so stresvol. Ek het op die eiland besef ’n mens kan met baie min oor die weg kom en steeds baie gelukkig wees.”