Dit was die aangrypende verhale wat ons weke, maande en selfs jare geboei het – stories van ondenkbare tragedie en verskriklike verlies, en die moed waarmee mense dit verwerk het.
Nou, vir ’n tweede keer, besoek Huisgenoot van die grootste stories uit ons geskiedenis opnuut op die kassie.
Nadat Huisgenoot: Ware Lewensdramas verlede jaar op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai is, wys die tweede seisoen van dié reeks van 16 Augustus af op VIA.
Nuwe aflewerings word Donderdae om 20:00 uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.
Dié keer word gekyk na verhale soos dié van die brandslagoffertjie Pippie Kruger, Ina Bonnette en die “Modimolle-monster” wat haar laat mishandel het, die 17-jarige moordslagoffer Anika Smit, wie se hande raaiselagtig afgekap is, en die vreemde verhaal van adv. Barbie, oftewel Cézanne Visser, en Dirk Prinsloo.
Daar word gepraat met van die sleutelmense in elke verhaal, kenners vertel hoe gebeure agter die skerms ontvou het en Huisgenoot se joernaliste vertel van hul ervarings terwyl hulle oor die gebeure geskryf het.
Hier is ’n voorsmaak.
Die raaiselmoord: Anika Smit
Haar toekoms was voor haar, maar toe word Anika Smit op 17 ’n moordslagoffer. Nes haar afgekapte hande nooit opgespoor kon word nie, is haar moordenaar vandag nog soek.
Anika het op 10 April 2010 vir haar pa, Johan, gesê sy gaan nie skool toe nie, want sy het oorontsteking.
Toe Johan die middag by hul huis in Pretoria kom, was sy dogter dood.
Haar ekskêrel Nico Venter is in hegtenis geneem, maar die aanklag is vier maande later laat vaar.
’n Oudklasmaat, André “Smiley” van Wyk, het ’n bekentenis by die polisie afgelê, maar dit later teruggetrek.
“Bitter min aan dié saak laat ’n mens nie af en toe wonder nie,” vertel die destydse Huisgenoot-joernalis Herman Scholtz, deesdae Rapport se nuusredakteur.
“Daar is die pot op die stoof en die ‘vrou’ met die stootwaentjie waarin die arms kon gewees het, en haar pa se verontwaardiging dat die polisie hom ook ondervra het.
“Ek was destyds ’n joernalis in Rapport se Pretoria-kantoor en die hele wêreld het iets te sê gehad en feit en fabel verkondig. Om op die feite gefokus te bly was die grootste uitdaging. Byna almal met wie jy pas ná die voorval te doen gehad het, was getraumatiseer: die skoolmaats, familie, selfs professionele mense.”
Herman het later vir ons ’n onderhoud gevoer met die laaste ondersoekbeampte in die saak, kapt. Mike van Aardt. “Polisiebeamptes wil selde met die media oor hul werk praat,” vertel hy. “Dit was baie duidelik hoeveel passie en werk hy in die ondersoek gestort het. Die saak het hom baie gepla.” Mike het vertel dit bly een van die sake wat die meeste by hom spook.
Die huurmoord op sy vrou: Christopher en Jayde Panayiotou
In April 2015 is die land geskok toe ’n onderwyseres van Port Elizabeth een oggend voor werk wegraak en haar lyk die volgende dag in ’n veld buite Uitenhage gevind word.
Jayde Panayiotou is drie keer geskiet. Sowat twee weke later is haar man, Christopher, in hegtenis geneem en daarvan beskuldig dat hy sy vrou se moord beplan het.
Dit het kort daarna op die lappe gekom dat Christopher, ’n sakeman, jare lank ’n verhouding gehad het met ’n werknemer, Chanelle Couts.
“Ek’t Christopher gebel kort nadat Jayde se lyk gevind is; hy’t regtig hartseer geklink,” onthou Huisgenoot se joernalis Joanie Bergh.
Maar twee jaar later is Christopher saam met sy medebeskuldigde Sinethemba Nemembe skuldig bevind aan die jong vrou se dood. Die dag toe Christopher skuldig bevind word, sal Joanie altyd bybly.
“Christopher se hele familie het reg agter hom in die voorste bank gesit. En twee banke agter hulle was Jayde se familie. Die oomblik toe die regter sê Christopher is skuldig, het Jayde se familie en ondersteuners opgespring, gejuig, hande geklap en gefluit.
“Op dieselfde oomblik het Christopher se ma, Fanoula, haar kop laat sak en saggies begin huil. Sy pa, Costa, het sy arm om sy vrou gesit. Dit was ’n hartseer kontras.”
Christopher se familie het daarna vertel hulle het ’n dubbele verlies gely, want hulle het hul skoondogter én hul seun verloor.
Die ontvoerde baba: Zephany Nurse
In April 1997 is ’n dogtertjie in die Groote Schuur-hospitaal gebore, maar twee dae later is Zephany Nurse uit haar wiegie gesteel.
Sewentien jaar later het Zephany se verhaal opslae gemaak toe sy met haar biologiese ouers herenig nadat dit geblyk het ’n medeleerder is eintlik haar biologiese suster.
“Almal wou ’n onderhoud met Zephany voer,” vertel ons joernalis Marelize Potgieter, “maar niemand het geweet waar sy was nie. Familie en vriende het jou die deur gewys. Zephany se biologiese ouers, Morné en Celeste Nurse (middel bo met Zephany), was so getraumatiseer, hulle wou nie praat nie.”
Ná vele probeerslae het Marelize eindelik ’n eksklusiewe onderhoud met Zephany se biologiese ma en kort daarna ook met haar grootmaakma gekry.
Later het Zephany self ook tot ’n onderhoud ingewillig. Zephany het intussen ’n dogtertjie gehad en is nou ’n tweede keer swanger.
Dat Zephany ongeag alles lief bly vir haar grootmaakma, selfs al is sy skuldig bevind, sal Marelize altyd bybly.
“Niks kan ’n kind skei van die liefde van ’n ouer wat regdeur hul grootwordjare daar is vir hulle nie.”
Die jaloerse eks: Ina Bonnette en die ‘Modimolle-monster’
Ina Bonnette se eksman, Johan Kotzé, het haar begin 2012 laat verkrag en gemartel. Sy was op ’n bed vasgebind toe sy hoor hoe hy haar 19-jarige seun, Conrad, doodskiet.
Die media het Johan kort ná sy eerste hofverskyning die “Modimolle-monster” gedoop weens die wreedheid van sy dade.
Vyf jaar later het Jana van der Merwe met Ina kontak gemaak vir ’n onderhoud met die vrou wat uit die as herrys het. “Dit het ses maande geduur om Ina se vertroue te wen,” vertel Jana.
Ina het toe vertel haar eks het ’n brief uit die tronk geskryf waarin hy haar verskoning vra en om vergifnis pleit.
“Sy het nie belanggestel nie,” vertel Jana. “Of hy berou het, is iets waaroor die leser self moes besluit. Ina dink beslis nie so nie.”
Die vreemde paar: Dirk Prinsloo en adv. Barbie
Cézanne Visser, oftewel adv. Barbie, en haar eks Dirk Prinsloo is in 2002 aangekeer weens bedrog, onsedelike aanranding en die vervaardiging van kinderpornografie.
Dirk het in 2005 landuit gevlug en is in Belarus aangekeer weens ’n bankroof. Cézanne het haar tronkstraf uitgedien.
Die voormalige Huisgenoot-joernalis Lucia Swart-Walters, nou redakteur van tvplus, vertel Cézanne se ma, Susan Lemmer, wou eers nie instem om oor haar dogter te praat nadat dié by die skandaal betrek is nie.
Eers maande later het Susan gebel en gesê sy sou die oggend ná Cézanne se vonnisoplegging ’n onderhoud toestaan. Dit sou op sakdag gebeur en Lucia moes Susan net ná die hofsitting ontmoet en haar artikel vinnig skryf.
“Vier blaaie is vir my oopgehou,” onthou Lucia. Maar die onderhoud kon eers seweuur daardie aand gebeur. Lucia moes haar artikel in ’n rekordtyd skryf en dit is eers omstreeks eenuur die oggend drukkery toe gestuur.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET