Sy bruingebrande arm – die arm van ’n boer wat sommer baie in die son kom – is liefdevol om haar skouer gevou waar hulle styf teen mekaar op die bank sit.

Sy speel ’n rukkie lank met sy vingers en hand terwyl hulle gesels, en vou haar vingers dan in syne. Noudat die kollig van die gewilde kykNET-maatsoekprogram Boer soek ’n vrou ’n bietjie verdof het, kan dié boer en sy nuwe meisie eindelik ontspan en sommer net verlief wees.

Kykers het eers onlangs op die kassie ontdek boer Graham en Ilne, van die 12de seisoen van dié reeks, het liefde by mekaar gevind en ’n paartjie geword, maar hulle gaan eintlik al sedert einde Augustus verlede jaar uit.

Om dié verwikkeling nie voortydig vir kykers te bederf nie, moes hulle vier maande lank hul nuutgevonde liefde geheim hou sodat die reeks eers volledig uitgesaai kon word.

Terwyl dit nog op die televisie gewys het, het Graham in November vir Ilne in Potchefstroom, haar tuisstad, gaan kuier. Hulle het in die Mooirivierwinkelsentrum gestap en gesels toe ’n verbyganger skielik hul oog vang.

“Ons loop nog so ingedagte, toe laat sak die vrou haar kop, en toe sy dit weer oplig, glimlag sy en sê: ‘Ag nee, f**, man. Daar spoil julle nou alles vir my!’ ” onthou Graham (27) met ’n laggie.

“Tydens die verfilming het ’n mens eintlik so min tyd gehad om alleen te kuier of met mekaar te gesels. Ná die tyd kon ons mekaar op ’n dieper vlak leer ken,” vertel Ilne (21) oor die tyd wat verloop het sedert die kameras in Augustus ophou draai het.

Boer Graham,Line,Boer,Boer soek vrou
Die tweetjies in die kombuis. Hulle is albei lief daarvoor om kos te maak en het al ’n paar keer in die kombuis hand bygesit vir middag- of aandete. Foto: Fani Mahuntsi

Waar Graham nou in die sitkamer van sy plaashuis buite Cradock in die Oos-Kaap oor die reeks sit en besin, besef hy opnuut hy sou Ilne uit die staanspoor as pasmaat kies.

“Toe ons reg aan die begin die briewe ontvang waaruit ons die top-10 moes kies, was dit vir my geen kwessie dat sy een van hulle sou wees nie,” onthou hy.

Dié patroon het hom by elke uitvalronde herhaal. “Ek het altyd geweet sy gaan deur na die volgende ronde toe,” sê Graham. “Haar glimlag en blougroen oë het beslis van die begin af vir my uitgestaan.”

Dit is ook vir hom lekker hoe sy “nie nonsens praat nie” en dat hulle gereeld sinvolle gesprekke kan hê.

“Sy kan baie grappig wees, en dit is lekker om daardie humorsin in ons verhouding te hê, maar ons kan ook oor dieper dinge gesels. Ons is op ’n emosionele vlak baie dieselfde,” sê hy ingenome.

“Graham maak altyd vir my die lewe lekker en lig,” voeg Ilne vrolik by. “Dit is lekker om by hom te wees.”

Die jong boer glimlag ietwat verleë toe sy oor hom praat en hou haar hand stywer vas. Hoe baie het sy lewe nie verander sedert hy daardie eerste keer in haar blougroen oë gekyk het nie . . .

Ilne het verlede jaar die TV-episode misgeloop waarin die boere aan kykers en voornemende deelnemers bekendgestel is omdat sy daardie aand by ’n vriend gebraai het. Maar sy het die volgende oggend op Facebook na die boere se video’s gekyk en dadelik by Graham aanklank gevind.

“Hy het selfversekerd en rustig gelyk. Dit het gelyk of hy presies weet wat hy soek en waarheen hy op pad is,” vertel sy nou.

“Dít is nie wat jy vir my gesê het nie,” spot Graham. “Jy het gesê jy kon nie ophou na my kyk nie!”

“Ag, is nie,” gooi Ilne wal voor Graham erken hy maak net ’n grappie. ’n Glimlag spoel oor haar mond en hy bloos.

Maar dan bieg Ilne: “Maar ek hét die video oor en oor gekyk.” Sy vertel sy sou nie in haar wildste drome gedink het sy sal voor die TV-kameras in ’n verhouding beland nie, maar dat ’n mens tog hoop in jou hart het wanneer jy inskryf.

Want wie weet? Sy is die oudste van drie dogters, woon steeds by haar ouers in Potchefstroom en ontvang in Maart haar B.Com.-graad in bedryfsielkunde en arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-universiteit op dié studentedorp. “Kan ek gou ’n bietjie fyn brag?” vra Graham.

Dan spog hy: “Sy het haar graad cum laude geslaag.” Maar die slimkop wil selfs verder studeer en haar honneursgraad in bedryfsielkunde aan Unisa behaal.

“My eerste opsie was om nou te kyk of ek my honneursstudie langafstand kan doen en ’n deeltydse werk kan kry,” vertel Ilne.

Hoekom? Want die afstand tussen Potchefstroom en Cradock is mos ver, en dan kan sy dalk nader aan haar jong boer se plaas trek. “Ek gaan nou iewers begin uitkyk vir ’n plekkie in Cradock,” vertel sy opgewonde.

Boer Graham,Line,Boer,Boer soek vrou
Ilne wil ’n deeltydse werk in die omgewing kry om nader aan Graham te wees. Foto: Fani Mahuntsi

Graham het in 2016 sy graad in siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch behaal voor hy in 2017 terug plaas toe is om saam met sy pa, Erik, met beeste te boer. Hy het einde verlede jaar aan Huisgenoot vertel die Oos-Kaapse gemeenskap is op sy knieë weens die voortslepende droogte, maar dat water uit die Visrivier help op die plaas waar hy en pa Erik boer.

Hy vertel geesdriftig dat hulle binnekort vir hom sy eie huis op die plaas gaan bou, en hy gaan sy ingenieursagtergrond inspan om sommer sélf met die beplanning en bouwerk in te spring.

“As ons nou my huis klaar gebou het, en Ilne hier in die dorp op Cradock bly, langafstand kan studeer en deeltyds kan werk – dan kan julle volgende jaar hierdie tyd weer hierso sit,” vertel Graham en knipoog betekenisvol.

Hoewel die laaste episode van die reeks waarin die verliefdes mekaar gevind het eers op 9 Januarie vanjaar uitgesaai is, het Graham al einde Augustus verlede jaar vir Ilne gevra om sy meisie te wees.

Sedertdien is drie weke die langste tydperk wat hulle mekaar nie gesien het nie.

As hy nie vir haar in Potchefstroom kan gaan kuier nie, kom maak sy haar vir ’n wyle op die plaas tuis. Tydens die pas afgelope somervakansie het Ilne juis sowat ’n maand lank by Graham op die plaas gekuier.

“Sy pas so goed hier in. Sy is heeltyd op haar gemak, dis asof sy al jare hier in die huis by ons kuier,” vertel Graham.

Hoewel die boerdery en melkery hom baie besig hou, is daar altyd tussendeur tyd vir ’n “lekker vinnige koffie”, of dat Ilne gou saam met Graham op die motorfiets spring om iets op die plaas te gaan doen. “Hulle kom drink graag elke oggend 11:00 by die huis tee,” vertel Ilne oor Graham en sy pa. En smiddae en saans eet hulle ook saam met Graham se ma, Celest, middag- en aandete.

“Graham se gesin is baie vriendelik en verwelkomend. Dit voel nie meer of ek hier kuier nie; dit voel werklik soos ’n tweede huis,” sê Ilne. Ook op die dorp weet almal nou dat Cradock se TV-boer en Ilne ’n paartjie is.

“Die vreemde deel van ’n bietjie in die kollig wees, is mense dink hulle weet presies wie jy is omdat jy elke Donderdagaand in hul sitkamer gekuier het,” sê Graham.

Hulle moet af en toe met mense geselsies aanknoop oor hul verhouding, maar dit pla hulle nie regtig nie. Hulle vertel van ’n paartjie wat hulle onlangs sommer in die Wimpy op Cradock genooi het om by hulle ’n draai in Plettenbergbaai te kom maak. “Ons moet dié uitnodigings begin aanvaar, ons sal baie vakansies hê,” lag Ilne.

“Mense wil ook net gesels. Mense like ’n love story,” vertel Graham. Dan bly hy ’n paar sekondes stil voor hy laat val: “En ek like dit ook!”