Boer Nelis
Boer Nelis

Nelis van Heidelberg, Gauteng, onthou hoe hy as seun saam met sy oupa in die bakkie gesit en sing het. “Gelukkig het niemand ons gehoor nie, want ek dink nie daar was baie toonvastheid tussen ons nie. As dit moeilik gaan, sing ek nog steeds in die bakkie!”

Nelis is die vierde geslag op die plaas “nadat my oupagrootjie in 1937 as weeskind Transvaal toe gekom het”. Sy en sy ouers se huise is op die oorspronklike plaas gebou, maar nadat sy pa twee jaar gelede onverwags oorlede is, boer hy en sy ma vandag alleen met beeste, skape en wild.

“My pa se dood het my in die diepkant ingegooi,” vertel hy. “Ek moes vinnig oorneem en planne maak, so daar was nie eintlik tyd om gras onder my voete te laat groei nie.” Benewens die boerdery bedryf ma en seun ook ’n gasteplaas en trouvenue, terwyl Nelis ook by die mynboubedryf in ’n finansiële hoedanigheid betrokke is.

Dit klink omtrent of dié veelsydige boer met soveel ysters in die vuur ’n besige man kan wees! “Al rol ek af en toe snags in die bed rond, het ek ’n rustigheid wanneer ek groot besluite moet neem,” vertel hy.

En dit is juis dié rustigheid van hom wat hy met ’n pasmaat wil deel. “Ek en jy, ’n lekker kampvuur, goeie wyn en ’n dik steak onder die volmaan op ons plaas naby die dam,” beskryf hy sy ideale romantiese afspraak.

“Ek is op soek na ’n lewensmaat saam met wie ek elke dag die mooi in die lewe kan geniet. Sy moet gemaklik wees met haarself, hou van avonture en gereed wees om die lewe aan te gryp. Ek soek iemand sonder drama en voorgee, iemand wat spontaan kan lag en speel en met wie ek oor die toekoms kan droom en dit laat waar word.”

Nelis vertel hy het in ’n soort kluisenaar ontaard omdat hy permanent op die plaas is. “Ek weet nie waar om te begin om op een impulsiewe middag Pretoria toe te ry om ’n klomp mense te gaan ontmoet nie. Ek kan dit nie sien gebeur nie.”

Hy het wel al ’n les of twee uit vorige verhoudings geleer, vertel hy. “Kyk die kat altyd goed uit die boom, maar moenie te versigtig wees nie. Jy mag dalk net ’n goue geleentheid misloop.”

Voel jy gereed om daardie goue geleentheid saam met Nelis aan te gryp?
  • Dan moet jy vir hom voor middernag op 29 Julie 2021 ’n brief skryf om deel te wees van hierdie avontuur.
  • Die volledige inskryfvorm is op kykNET se webblad beskikbaar.
  • Voornemende pasmaats kan ook nou weer hand-afgelewerde briewe of pakkies stuur mits dit nie oop kosprodukte bevat nie.
  • Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, sal ook aanvaar word.Vir enige navrae kontak 079 335 5137 of stuur ’n e-pos na boer@marche.media
  • Onthou, jy moet ouer as 21 en ongetroud wees.