Met sy eerste ontmoeting met die aanvallige blondine het hy skugter soos ’n skoolseun vir haar gesê: “Jy is mooi, maar jy is Engels, maar dis moeilik; my brein maak só” terwyl hy sy wysvingers heen en weer swaai.

En net daar het boer Rèan die liefling van kykers in die huidige seisoen van die kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou geword.

Nes die “Ingelsvrou” Rox-Zee, wat eers bloedrooi gebloos het, het hulle besluit: “You are so cute.” En baie vermaaklik daarby . . . Maar is hy net so ’n platjie weg van die kameras?

Toe ons hom in lewende lywe ontmoet, is hy soos daardie pel wat jou kan laat lag sonder om snaaks te probeer wees en wat enige kuier pret maak, al is daar nie ’n druppel drank betrokke nie.

“Ek dink nie ek is so snaaks nie,” sê Rèan (26). “Ek try maar net die lewe lig maak. Dis suur genoeg; jy hoef nie ook suur te wees nie.”

Al het hy pas ’n Engelse woord geuiter, kry hy nie maklik sy ding in dié taal gedoen nie. Soos hy dit stel: “Dis admin om Engels te praat. Maar as jy wil vry, dan het jy dit nie nodig nie. Vry is ook ’n taal.”

Al die dekor in die plaashuis is Rèan se handewerk. Hy is ook nie lui agter die kospotte nie. Foto: Lentelie Fourie

Dis dié dat hy dit gewaag het om die Engelse Rox-Zee saam met Michelle en Minette te kies om by hom op sy familie se wingerdplaas by Groblershoop in die Noord-Kaap te kom kuier.

“Soos vars seebriesies,” beskryf hy hul besoek. “Drie mooi vroue wat in my belangstel tegelyk op die plaas. Lekker!”

Maar probeer jy hom oor sy gunsteling uitvra, hou hy sy kaarte styf teen sy bors. Ons gesels by ’n koffierestaurant ver van die plaas.

Rèan wil nie nou uitwei oor wat hy hier maak nie. Hy het besluit om vir die gewilde werklikheidsreeks in te skryf, want in die geweste waar hy boer, is vroue “so skaars soos die reën.

“Op die plaas werk jy van sonop tot sononder. Naweke is jy so moeg, jy is nie lus om in Bloemfontein tot halfeen in ’n kuierplek te sit nie. Dis in elk geval nie waar ek my trouvrou wil gaan haal nie.”

Al genade was om voor die TV-kameras vrou te soek. “Hoe anders sou mense weet dat Rèan bestaan?” vra hy met ’n skewe glimlag.

Hy het nooit gedink hy sal in sy soektog ’n Engelse skoonheid teëkom nie. “Ek skrik wanneer ek myself Engels hoor praat. Dit kom op my af soos ’n dief in die nag.”

Hy vee met sy hand oor sy gesig, en die lag borrel uit van diep binne. Ja, hy hoor darem Engels wanneer hy na Engelse TV-programme kyk. “Maar ek praat mos nie dan in Engels terug nie.”

Sophie van Wyk is ’n raakvatter op die plaas. Foto: Lentelie Fourie

Hy is nie ’n boorling van die Noord-Kaap nie, maar het grootgeword op ’n sybokhaar-en-melkplaas by Van Stadensriviermond naby Port Elizabeth, ’n stad waar jy maklik meer Engels as Afrikaans hoor.

Hoe is dit dan dat hy so sukkel om Engels onder die knie te kry?

“Die Hoërskool Framesby in die Baai is solid Afrikaans,” begin hy verduidelik. En hy vermoed ’n kwaai Engelsonderwyseres het daardie vrees vir die Rooitaal by hom ingeboesem.

“Engels is my verdedigingsmeganisme. Jy moet bang wees wanneer ek dit praat. Dan is die wederkoms naby of die girl is mooi,” laat die grapjas hoor.

Van mooi meisies gepraat. Party kykers was vies vir hom toe hy in ’n episode kla omdat Rox-Zee nog wyn wou gaan haal.

“Regtig?” vra hy verbaas.

“Ek weet nie hierdie dinge nie. Ek moet seker Facebook kry.’’ Dan stry hy: “Ek het nie boer Johan vir one gevat nie.”

Hy praat van die boer wat in ’n vorige seisoen kykers omgekrap het toe hy een van sy besoekers berispe omdat hy gereken het sy het te diep in die bottel gekyk.

“Hy het daardie tannie nie reg behandel nie. Dit was cringe!” sê Réan nou.

“Ek het daardie aand self nog ’n bottel wyn gaan haal weg van die kameras,” voeg hy by oor die voorval waaroor hy die kop gewas is.

“Op my plaas wil ek ’n vrou alle vryheid gee wat haar toekom.”

Die ongewone spelling van sy en sy pa, ook Rèan, se naam was sy ouma se idee. “Ek dink sy wou Engels wees,” reken hy.

Pa Rèan kan hoeka goed Engels praat. Rèan jr. is die kleinboet in die gesin. Sy twee susters, ’n tweeling, Karlien en Marie (nou 32), het hom “met die hand grootgemaak; dit beteken hulle het my geboelie”, skerts hy.

Agt jaar gelede het sy pa besluit om die Oos-Kaapse plaas by die see te verruil vir beesgrond in ’n veilige omgewing. Naby die Oranjerivier het hy gekry waarna hy gesoek het – besproeiingsgrond waarop reeds wingerd aangeplant was.

Rèan voer sy troetelgemsbok, Gemma. Foto: Lentelie Fourie

Rèan jr., wat ná matriek wingerdkunde aan die Universiteit Stellenbosch en Elsenburglandboukollege studeer het, was opgewonde oor die moontlikhede om verskillende soorte druiwe op die plaas te verbou.

Hy neem ook die pekanneutbome onder hande. Sy ma, Estelle (58), doen nog al die jare die kantoorwerk op die plaas.

“Ek weet nie wat ek sonder haar sal doen nie. My ma is ’n diep en goeie mens.” Nog ’n “vrou” in sy lewe met wie sy toekomstige een hom sal moet deel, is Lielie, sy vyfjarige Jack Russell.

“Sy is aldag by my. Ook in my bed.” Réan se boerboel, Kallie, “lê maar net in die skaduwee” en “gaan nou en dan vir stappies”. Aan die regterkant van Rèan se lip is ’n litteken.

“Dit was ’n kroeggeveg,” sê hy eers. “Of wag, laat ek aan nog ’n lekkerder storie dink . . .” Die waarheid is dat sy ma se boerboel vier jaar gelede sy lip met haar poot oopgekloof het “dat jy net my tandjies sien”.

Maar dit skeel Rèan min. Hy glo mense sonder littekens het nog nie geleef nie. Noudat hy ’n bekende gesig op die kassie is, herken mense hom op straat.

Die twee vrae wat hy die meeste hoor, is: “Wie het jy gekies?” en “Kry jy geld?”

Dan lag hy maar so lekker dat hulle moet saamlag, en alles om hom skud – nes die tafel waarby ons nou sit. Hy is dankbaar oor al die “gehaltevroue” wat vir hom geskryf het.

Op sy trekker besig om kunsmis aan te ry met Lielie, soos gewoonlik, aan sy sy. Foto: Lentelie Fourie

“Maar trou is nie perdekoop nie. Dis in elk geval nie in ons hande nie,” sê hy, skielik doodernstig.

“Dis in groter hande.” Sy droomvrou moet nes hy die potensiaal in dinge raaksien – veral in die plaasgrond.

“Sy moet nes ek kan droom. Sy moet ondersteunend wees. Deur die dag kry jy so baie gas, jy wil nie ’n moeilike vrou by die huis hê nie. Ek haat ’n bakleiery en mense wat met my lelik is.

“Sy moet goed weet wat in die onderneming aangaan sodat sy nie spandabel is nie. Dit sal lekker wees as sy kan agterkom wanneer ek sukkel en vir my ’n broodjie en koeldrank in die wingerde bring of net kom chat om my rustig te maak. As sy my met die boerdery wil help, is dit goed, maar as sy haar eie ding wil doen, sal ek haar aanmoedig. Ek wil vir my trouvrou ’n oop dansvloer gee.”

Hoe voel hy oor die toekoms?

Net so ondeund as wat boer Rèan se oë lyk wanneer hy met nog ’n kwinkslag vorendag kom, so sielvol is sy bruin kykers toe hy antwoord: “Dit lyk blink.”