Die laaste episode het toe inderdaad ’n paar interessante verrassings opgelewer, net soos die aanbieder, Leah, verlede week aan Huisgenoot vertel het.

Soos die gewoonte in die vorige seisoene reeds gevestig is, is daar tydens die laaste episode reünie gehou om uit te vind watter boere liefde in die reeks gevind het, en wie nog enkellopend is.

Vanaand het kykers gesien hoe die boere die een na die ander by die pragtige Blue Bay Lodge in Saldanhabaai opdaag om saam te kuier. Sommige met metgeselle, en sommiges alleen!

Menige TV-kyker se wenkbroue het sekerlik gelig toe die grapjas tussen die boere, Réan van Groblershoop in die Noord-Kaap, aan die begin van die program sonder sy Engelssprekende Rox-Zee by die hotel opdaag.

Dié twee was dan in verlede week se program nog so openlik verlief? Nee, dit is darem nie so erg as wat dit lyk nie, het Réan later gerusgestel. “Rox-Zee het ’n bietjie in Engeland gaan kuier, en die vliegkaartjies is reeds lank gelede gekoop.”

Boer soek ’n vrou
Foto: kykNET.

Vanaf Engeland “het sy gereeld vir my sulke morsige ringfoto’s gestuur”, verklap hy.

Oor sy deelname aan die program sê hy: “Ek het meer gekry as wat ek gesoek het. Ek is dankbaar vir die geleentheid om my trophy wife te kon ontmoet. Ek kry sommer ’n knop in die keel!”

Dit was seker nie ’n verrassing toe Duncan, van Verkykerskop in die Vrystaat, alleen by die reünie opdaag nie. Kykers het immers verlede week gesien hy en Kelly was effens ongemaklik in mekaar se geselskap tydens hul vakansie. Duncan sê “dinge het nie so goed vir ons uitgewerk nie”.

Cassie en Alyssa het saam opgedaag en is steeds so spelerig met mekaar soos kykers hulle leer ken het, maar die twee sê hulle is nie in ’n verhouding nie.

Natuurlik was dit geen verrassing dat Toanette en Nardus hand aan hand en met sterre in hul oë by die reünie was nie.

Sy is baie bly dat sy deelgeneem het, sê Toanette. “Die idee van die program is tog om iemand te ontmoet, en ek het ’n baie spesiale iemand ontmoet!”

Boer Toanette en Nardus. Foto: kykNET.

Nadat die liefdessake vroeër in die reeks nie so rooskleurig vir André uitgewerk het nie, het hy tot almal se verbasing met ’n onbekende blondine, Rozanne, kom reünie hou. En lyk dié twee nie hoogs verlief nie!

André verduidelik gemeenskaplike vriende het hulle aan mekaar voorgestel. “Sy het sommer die eerste dag wat sy op die plaas kom kuier het, die name van al 11 my honde geken!”

Sy mening oor die reeks is dat dit ’n proses is wat jou lewe verander. En natuurlik is die reüniedag gesellig afgesluit met vonkelwyn en ’n heildronk op die liefde en geluk.