Die ouderdomme van vanjaar se boere wissel tussen 23 en 53, terwyl die Vrystaat die provinsie is wat die meeste boere opgelewer het. Daar is ook een vroueboer, Mary-Lou van die Paarl, onder die top-10-boere.

Belangstellendes wat vir een van hierdie 10 boere wil skryf, moet dit voor 29 Julie doen.
 
Boer soek ’n vrou, wat vanjaar weer deur Marciel Hopkins aangebied word, sal van Januarie 2022 op kykNET uitgesaai word.

Kykers sal dan die boere se liefdesreis kan volg en oudergewoonte sal die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang het.

1. Boer Albertus (38)

Skaapboerdery op Calvinia, Noord-Kaap

Boer Albertus. Foto: Verskaf
Boer Albertus. Foto: Verskaf

Hy is in 2014 geskei, maar hou nie van eensaamheid nie. Hy is baie lief vir geselskap, vertel hy. Sy pasmaat is nie iemand wat op die dorp wil werk nie, maar iemand wat saam met hom op die plaas kan wees. Sy moet aanpasbaar wees, ’n sin vir humor hê en kan lag – want hy hou van grappe maak.

2. Carel (29)

Gemengde en saaiboerdery op Perdekop, Mpumalanga

Boer Carel. Foto: Verskaf
Boer Carel. Foto: Verskaf

Die tipe meisie waarna hy soek, is iemand wat goed na haarself kan kyk, op haar eie voete kan staan en wat emosioneel sterk is. Hy sien haar as elegant. Sy hoef nie aktief betrokke by die boerdery te wees nie, maar kan haar eie onderneming op die dorp hê.

“So kan ons ruimte vir mekaar skep.”

3. Gerhard (30)

Skaap- en wildboerdery op Beaufort-Wes, Wes-Kaap

Boer Gerhard. Foto: Verskaf
Boer Gerhard. Foto: Verskaf

Hy sê hy is iemand wat betroubaar en eerlik is en nie in agendas glo nie. ’n Vrou wat by hom sal pas, is ’n liefdevolle en spontane mens, asook ’n natuurliefhebber. Sy moet bereid wees om inisiatief te neem en “ook haar eie ding te kan doen”. 

4. Hannis (23)

Vee en saaiboerdery op Brakfontein, KwaZulu-Natal

Boer Hannis. Foto: Verskaf
Boer Hannis. Foto: Verskaf

Sy idee van romanties wees, is om twee perde op te saal en koffie te gaan drink bo op die berg. Hy glo om saam dinge te doen is belangriker as om net geskenkies aan te dra. Sy ideale pasmaat moet aktief wees en lief wees vir die natuur.

5. Johan (28)

Vee en saaiboerdery op Marquard, Vrystaat

Boer Johan. Foto: Verskaf
Boer Johan. Foto: Verskaf

Hy vertel hy het van kleins af altyd met klein trekkertjies gespeel en modderplase in die tuin gebou. Die regte persoon vir hom is iemand wat lekker kan lag en ’n sin vir humor het. Sy moet ook ’n sagte geaardheid hê.

“Ek soek nie iemand wat oordonderend is nie, maar sy moet selfstandig wees.”

6. Mary-Lou (53)

Wynboerdery in die Paarl, Wes-Kaap

Boer Mary-Lou. Foto: Verskaf
Boer Mary-Lou. Foto: Verskaf

Hierdie Engelssprekende boer hou van lekker kos en goeie wyn om daarmee saam te gaan. Haar een dogter is nou in matriek en die ander ’n student op Stellenbosch. Sy beskou haarself as iemand met ’n sterk persoonlikheid.

Haar ideale pasmaat moet dieselfde agtergrond, belangstellings en opvoeding as sy hê. En iemand wat avontuurlustig is en van staptogte hou.

7. Nelis (31)

Veeboerdery op Vaal Marina, Gauteng

Boer Nelis. Foto: Verskaf
Boer Nelis. Foto: Verskaf

Hy erken dat geduld iets is waaraan hy kan werk. Vir hom is die ideale vrou iemand wat spontaan, eerlik en opreg is. Sy moet haar man kan staan en ’n goeie argument kan voer, maar moet steeds ’n sagte hart hê. Hy glo die regte vrou sal hom ook sagter maak en ’n ander uitkyk op die lewe gee.

8. Boer Petré (25)

Gemengde boerdery op Vierfontein, Vrystaat

Boer Petré. Foto: Verskaf
Boer Petré. Foto: Verskaf

Hy hou van ’n georganiseerde omgewing en is effens perfeksionisties. Om by hom te pas, moet jy sy sin vir humor verstaan en weet wanneer om iets met ’n knippie sout te vat. Sy moet ’n sterk persoonlikheid hê wat nie heeltyd net sê, 'Ja, dit is reg, kom ons doen dit', nie. Sy moet haar eie drome hê.

9. Tyson (33)

Saai- en beesboerdery op Bergville, KwaZulu-Natal

Boer Tyson. Foto: Verskaf
Boer Tyson. Foto: Verskaf

Hy is Engelssprekend, maar hy voel sy Afrikaans is heel goed. Hy hou nogal van Afrikaanse meisies, hoewel hy nie eintlik enige voorkeure het nie. Dis wel vir hom belangrik dat sy pasmaat ’n sterk verhouding met God het en sal hou van die omgewing waar hy boer.

10. Willem (37)

Skaap- en beesboerdery op Philippolis, Vrystaat

Boer Willem. Foto: Verskaf
Boer Willem. Foto: Verskaf

Hy dink eerlikheid is sy beste eienskap. “Ek sal eerder met iemand eerlik wees al benadeel dit my, as om later probleme te hê,” verduidelik hy. Die belangrikste ding in ’n verhouding vir hom is om vriende met mekaar te wees. Hy hou van ’n vrou wat mooi aantrek, goed versorg en stylvol is.

Skryf so in vir jou gunstelingboer

Tref een van hierdie boere dalk jou oog en sal jy hulle graag beter wil leer ken? Is jy ongetroud, ouer as 21 en wil jy op ’n plaas woon?

Dan moet jy voor middernag op 29 Julie 2021 vir jou gekose boer ’n brief skryf om deel te wees van hierdie avontuur.

Die volledige inskrywingsvorm is op kykNET se webblad beskikbaar.
 
Voornemende pasmaats kan nou weer hand-afgelewerde briewe of pakkies vir boere stuur, mits dit nie oop kosprodukte bevat nie.

Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, sal ook aanvaar word.