Die vrouedeelnemers het darem ’n heerlike braai saam met hul boere se familie en vriende om na uit te sien.

“Die familiebyeenkoms het vanjaar meer betekenis as ooit tevore,” vertel die aanbieder, Marciel Hopkins, in vanaand se episode. “Nie net is dit 'n ontmoeting met die vroue nie; in baie gevalle is dit ook die eerste keer dat familie en vriende kon bymekaarkom,” sê sy.

Boer Richann stel sy twee vrouedeelnemers aan sy k
Boer Richann stel sy twee vrouedeelnemers aan sy kuiergaste voor. Foto: kykNET.

Op boer Richann se plaas moes die vroue sommer vroegoggend hand bysit om sy skape te doseer.

“Hulle het goed gedoseer vir ’n eerste keer. Jy kon sien hulle is nie bang nie,” het Richann beïndruk gesê. 

Daarna het Richann, René en Marizel ’n fles koffie by die brug by Schoemansdrift geniet voor hulle vir die aand se braai moes voorberei. Die ys is sommer gou gebreek toe Richann se gaste luidkeels “Boer Richann, Boer Richann” gedreunsing het.

Boer Déan maak reg vir die kuier.
Boer Déan maak reg vir die kuier. Foto: kykNET.

Boer Déan moes vrede maak met die feit dat hy van Megan moes afskeid neem. 

“Déan was baie ontsteld oor die besluit wat hy moes neem en ons het maar ook nie lekker gevoel daaroor nie,” som Marinel dit in die episode op.

Boer Déan stel Marné en Marinel voor by sy kuier.
Boer Déan stel Marné en Marinel voor tydens sy kuier. Foto: kykNET.

Ná ’n lekker praktiese bestuursles op die trekker is Marinel en Marné na ’n salon toe om reg te maak vir die aand se “makietie”, soos Déan die byeenkoms genoem het.

“Ek dink Déan se familie en vriende gaan twee baie mooi blondies sien. Hulle sal ook kan sien wie pas beter by Déan,” sê Marné.

Boer Kobus.
Boer Kobus. Foto: kykNET.

Ná ’n koppie boeretroos moes Lynette en Maxie vir boer Kobus help om sy beeste te weeg.

Die atmosfeer was ’n bietjie rustiger en kalmer nadat Michellé uit die huis is, voer Lynette aan.

“Ja, ek voel aangetrokke tot albei gelyktydig, maar ek is nog nie so aangetrokke dat ek in ’n verhouding met enigeen van hulle sal kan ingaan nie,” vertel Kobus.  “Liefde is nie net iets wat uit die bos uit spring nie."

Op die kuier moes Kobus wal gooi toe hy uitgevra is of hy al soentjies uitgedeel het.

Boer Albert.
Boer Albert. Foto: kykNET.

Marlia is nou die enigste vrouedeelnemer wat nog by boer Albert kuier, maar dit lyk tog wel of hulle die alleentyd so vroeg in die seisoen geniet.

“Gisteraand was nogal onverwags. Dit het my ’n bietjie onkant gevang, want ek het gedink Mariska is meer die een wat wil huis toe gaan,” vertel Albert in die episode. 

“Toe is ek nogal baie verbaas toe Trudie sê sy wil nie hier wees nie,” onthou hy.

Marlia is nou Boer Albert se enigste vrouedeelneme
Marlia is nou Boer Albert se enigste vrouedeelnemer. Foto: kykNET.

Voorts is met ’n bietjie drama geboer toe kykers uitvind Marlia was aanvanklik nie eens een van die vroue wat Albert sou gekies het om in sy top-10 te wees nie.

Maar ’n lekker 4x4-rit tot by ’n uitkykpunt waar 'n mens Albert-hulle se hele plaas kan sien, het beslis ’n vonk tussen dié tweetjies gewys.

Sou Marciel vir Albert op die spot gevra het hy moet een van die drie vroue kies, sou hy in elk geval Marlia gekies het, hou hy vol.

“Op die oomblik is daar geen twyfel daaraan nie. So ek dink dit gee my vrede in die hart oor alles wat gebeur het,” sê hy.

Boer Niel.
Boer Niel. Foto: kykNET.

Boer Niel, Chereze en Monique het na 'n waterval gestap waar hulle ’n bietjie oor die toekoms gesels het.

Niel se gemoed is getem deur die feit dat albei vroue vrede het oor hoe die pad vorentoe gaan loop.

Tydens die kuier het een van Niel se vriende vertel dat hy beslis nou in die fase van sy lewe is waar hy ’n lewensmaat soek.

Net die tyd, veral die alleentyd saam met die vroue, sal leer watter een eindelik Niel se hart gaan wen, vertel hy.

“In die eeue-oue spel van die liefde is sommige skuiwe voor die hand liggend en ander onvoorspelbaar. En soos ons al gesien het, kan die braai die finale skuif bepaal,” vertel Marciel.

Maar dít sal kykers eers later uitvind.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe