Boer Albertus
Boer Albertus

Hy weet wel dat hy nooit van sy plaas in die afgeleë Roggeveld-omgewing tussen Calvinia en Middelpos in die Noord-Kaap sal weggaan nie. “Hier sal ek dood op hierdie plaas,” sê Albertus (38) in sy tipiese Namakwalandse aksent. “Ek weet nie waar die aksent vandaan kom nie, dis maar hoe ek praat.”

Hy en Engels is glad nie maats nie. “Engels praat ek glad nie,” sê hierdie skaapboer sommer dadelik. “Ek luister hom, maar dan verstaan ek hom ook nie.”

Maar hy verstaan dat dit nou tyd is om ’n maatjie te kry, want hy is baie lief vir gesels en om sosiaal saam met vriende te verkeer. Hy is nou al ses jaar alleen op die plaas nadat hy in 2014 ná ’n huwelik van vyf jaar geskei is, en hy hou net mooi niks van die eensaamheid nie. “Jy kan nie die pad op jou eie stap nie,” voel hy.

Daardie ideale maat moet kan lag en ’n sin vir humor hê, maar hy soek nie ’n vrou wat op die dorp werk nie. “Sy moet saam met my hier op die plaas wees, sy moenie ander dinge wil doen nie. Op die plaas kan sy doen waarvoor sy lief is. Sy moet vinnig planne kan maak en maklik aanpas, want hier is ons tussen niks en nêrens. Ons is min hier op die platteland, en ons wat hier is moet bymekaar staan. Sy moet lief wees vir die Karoo en veral vir my skape.”

En wat kan Albertus na die tafel bring in ’n verhouding? “My beste eienskap is dat ek met hierdie hande kan werk,” sê hy. “As jy met jou hande kan werk sal jy altyd gelukkig wees en altyd iets hê om te eet.”

Eerlikheid en kommunikasie is ook vir hom belangrik. As iets jou pla, praat daaroor. Moenie jou emosies opkrop nie, is sy lewensfilosofie. “Die waarheid maak nóú seer, maar die leuen maak vir áltyd seer.”

Trek Albertus jou aandag en hou jy van die ongerepte natuur in die Roggeveld?
  • Dan moet jy vir hom voor middernag op 29 Julie 2021 ’n brief skryf om deel te wees van hierdie avontuur.
  • Die volledige inskryfvorm is op kykNET se webblad beskikbaar.
  • Voornemende pasmaats kan ook nou weer hand-afgelewerde briewe of pakkies stuur mits dit nie oop kosprodukte bevat nie.
  • Digitale inskrywings, wat deur ’n video vergesel kan word, sal ook aanvaar word. Vir enige navrae kontak 079 335 5137 of stuur ’n e-pos na boer@marche.media.
  • Onthou, jy moet ouer as 21 en ongetroud wees.