Maar een mens kry meer lof as dié boere: Die aktrise en sangeres Leah is 'n groot gunsteling onder kykers.

Die aktrise van Susters en As Jy Sing-faam het kykers se voete behoorlik onder hulle uitgeslaan, sê Wilmer Muller, ’n reklamebeampte vir Boer Soek ’n Vrou.

“Dis wonderlik dat Leah dadelik in kykers se hart ingekruip het. Nes die vorige aanbieders sal sy ook volksbesit word,” sê hy.

Boer Johan Foto: Verskaf

Wilmer sê die vervaardigers en regisseur van dié program het hard gewerk om te verseker die 11de seisoen van Boer Soek ’n Vrou sal kykers weer boei deur opregte, eerlike stories van die boere se soeke na liefde te vertel.

Kykers was vol lof op die program se amptelike Facebookblad. Veral Leah is goed ontvang.

“Dit was so lekker om weer my gunstelingprogram te kyk. Leah, jy is pragtig!” het Rinette Els op Facebook geskryf.

Boer André Foto: Verskaf

In die sosiale media gons dit behoorlik oor boer André (35), ’n skaap- en angoraboer van Colesberg in die Noord-Kaap, en boer Johan (30), ’n beesboer op Reivilo in Noordwes.

“Ek hou die meeste van boer André,” het Rochelle Gonsalves Strydom op die program se Facebookblad geskryf.

En Anchen Jankowitz het dit beaam: “Verseker boer André,” het sy laat hoor.

Maar dis Johan se blou oë wat kykers veral opval. “Ek kies beslis boer Johan met daardie blou oë,” het Victoria Visser gekoer.

In die volgende episode, wat op 25 Oktober uitgesaai word, durf Leah die lang stofpaaie aan om die boere met die “sakke vol briewe” te verras wat elkeen ontvang het.