Boer Hannis (23) boer in Brakfontein, tussen Dunde
Boer Hannis (23) boer in Brakfontein, tussen Dundee en Vryheid in KwaZulu-Natal. Foto: KykNET

Vandag is hy dankbaar dat sy ouers “aangehou het om hom op universiteit te kry”, vertel Hannis (23), wat in Brakfontein, tussen Dundee en Vryheid in KwaZulu-Natal, boer. Hy het uiteindelik sy B.Com-graad in landbouekonomie en risikobestuur by die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom verwerf.

“Op universiteit ontmoet jy soveel mense en leer jy soveel meer lewenslesse as net die graad waarmee jy daar wegstap.”

Hannis het ’n wyduiteenlopende boerdery. Op die lande staan gewasse soos koring, sojabone en mielies. Hy spekuleer met speenkalwers, en op die kantlyn is daar ’n klein wildboerdery wat in bosbokke spesialiseer.

Hy woon in ’n groot klipopstal met 'n groen dak. As jy op die lang stoep voor die huis sit, word jy omring deur digte bome.

Maar hierdie huis raak nou te groot en te alleen vir hom. “Jy wil nie meer by die huis kom en alleen die blinders toetrek, self die ligte aansit en op jou eie voor die stoof gaan staan nie,” vertel hy. Dan lag hy breed. “Ek sál voor die stoof gaan staan, maar dan moet ek ten minste net met iemand kan gesels!”

Daardie spesiale iemand is avontuurlustig, met haar eie identiteit en kan ’n warm, huislike omgewing skep. “Ons moet dinge saam kan doen. As ek sê kom ons stap die berg uit, moet sy sê dit is reg en haar tekkies gaan aantrek.”

Hannis verklap dat netheid vir hom belangrik is. “Om skoon en netjies te wees, wys dat jy selfrespek het. Ek kry skaam as my bakkie vuil is. Ek sal nie sommer iewers heen gaan met ’n vuil bakkie nie.”

En nee, hy is beslis nie “stereotipies romanties” nie. “My idee van om romanties te wees is om twee perde op te saal en koffie te gaan drink bo op die berg. Ek glo om dinge saam te doen is belangriker as om net geskenkies aan te dra.”

Tong in die kies waarsku Hannis dat hy dalk “bietjie hardegat” kan wees. Maar teenoor daardie ene wat saam met hom voor die stoof wil kom staan, sal hy baie lojaal wees . . .  

Skryf nou in!

Trek Boer Hannis dalk jou oog, en is jy lus vir ’n lewe op ’n plaas in KwaZulu-Natal? Dan moet jy voor middernag op 29 Julie 2021 vir hom ’n brief skryf om deel te wees van hierdie avontuur. 

Die volledige inskrywingsvorm is op kykNET se webblad beskikbaar.

Voornemende pasmaats kan ook nou weer handafgelewerde briewe of pakkies stuur mits dit nie oop kosprodukte bevat nie.

Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, sal ook aanvaar word.
Vir enige navrae, bel 079-335-5137 of stuur e-pos na boer@marche.media.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.