Boer Willem
Boer Willem. Foto: kykNET.

Net soos sy boerdery vir hom geluk bring, net soveel vreugde put hy uit sy seun en dogter, onderskeidelik vyf en ses jaar oud, wat nou in Kaapstad op skool is.

“Dit is die twee goedjies waarop ek die trotste in my lewe is,” vertel die geskeide pa. “Hulle is my hart se punt. Ek is baie emosioneel wanneer dit by hulle kom.”

Maar wat vir hom minder geluk bring, is die jakkalse en rooikatte wat sy lammers vang. Nou laat hy donkies tussen die skape loop om dié roofdiere te verwilder. Hy boer nie net met merino-skape nie, ook met beeste. Dan plant hy ook lusern en mielies wat as voer dien, vertel die boer wat nou die vierde geslag op dié plaas is.

Sy plaasopstal is 'n geskiedkundige tweeverdiepinghuis met 'n groen sinkdak. Twee wye stoepe hardloop halfpad om die huis op die grondvloer sowel as die boonste verdieping. By die voordeur is 'n ry roosbome geplant wat deel vorm van die groot en netjiese tuin. Op die stoep staan ‘n tuisgemaakte braai waar hy gereeld saam met sy vriende en familie kuier. 

“Ek hou van gesels, kuier en lag,” vertel Willem. “Ek dink mense lag te min en vat die lewe heeltemal te ernstig op.”

En hoe moet die vrou lyk wat dalk saam met hom in dié pragtige ou huis wil woon en saans 'n vleisie op die kole gooi?

“Sy moet van mense hou, maklik kan ontspan, kan lag en moet ‘n goeie sin vir humor hê,” droom Willem van daardie een. “As sy van honde hou, is dit 'n bonus!”

En o ja, stylvolheid sal ook in haar guns tel.

“Ek hou van 'n vrou wat mooi aantrek en mooi na haarself kyk.”

Die belangrikste vir hom is egter dat hiérdie droompasmaat sy vriend moet wees. “As jy saam met iemand is vir wie jy lief is, kry jy daardie gevoel van soveel vrede en gelukkigheid.”   

Vang Boer Willem dalk jou oog?

Is jy lus vir ’n lewe op ’n plaas in die Suid-Vrystaat?

  • Dan moet jy vir hom voor middernag op 29 Julie 2021 ’n brief skryf om deel te wees van hierdie avontuur.
  • Die volledige inskryfvorm is op kykNET se webblad beskikbaar.
  • Voornemende pasmaats kan ook nou weer hand-afgelewerde briewe of pakkies stuur mits dit nie oop kosprodukte bevat nie.
  • Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, sal ook aanvaar word.Vir enige navrae kontak 079 335 5137 of stuur ’n e-pos na boer@marche.media
  • Onthou, jy moet ouer as 21 en ongetroud wees.