Die possakke het behoorlik gebult met briewe, foto’s en geskenkies toe Leah in Donderdagaand se episode die land deurkruis het om die top-10-boere se briewe af te lewer.

Die vyf boere wat die meeste pos gekry het, het natuurlik nou die geleentheid om elkeen 10 briefskrywers te nooi sodat hulle mekaar in volgende week se episode, 1 November, kan ontmoet.

Boer Toanette

Boer Toanette Foto: Verskaf

Die grootste verrassing vir kykers was natuurlik toe Toanette (23), wat ’n wildboerdery in Modimolle, Limpopo, het, onder die topvyf-boere is.

Dit is die heel eerste keer in die geskiedenis van hierdie werklikheidsreeks dat ’n vrou onder die topvyf is, wat natuurlik ’n heel ander dinamika aan die reeks bring.

Boer Duncan

Boer Duncan. Foto: Verskaf

Die beesboer van Verkykerskop in die Vrystaat Duncan (36) vertel hy was baie verras toe Leah met soveel briewe by hom opdaag.

“Ja, ek was baie opgewonde,” vertel hy. “Ek het nie geweet wat om te verwag nie.”

Hy sê dit is maar moeilik om ’n keuse te maak met net ’n brief en ’n foto in jou hand, maar hy het maar net sy instink vertrou.

Boer André

Boer André. Foto verskaf

Vir André (35) wat boer met skaap en angorabokke in Colesberg, Noordkaap, was dit weer makliker.

“Op papier kry jy darem ’n prentjie wie die ander persoon is,” vertel hy.

Hy sê hy was “versigtig optimisties” toe Leah by sy plaas opdaag.

“Jy wonder in jou agterkop of jou toekomsprentjie dalk net in daardie possak sal lê.”

Boer Cassie

Boer Cassie. Foto: Verskaf

Cassie (28) is stomgeslaan oor die hoeveelheid moeite wat die briefskrywers gedoen het.

“Jissie, ek was net oorweldig!” vertel die saai- en beesboer van Elandslaagte in KwaZulu-Natal.

Dit was vir hom moeilik om ’n keuse te maak, maar sy sussie, Thea, het hom darem bygestaan. Hy vertel daar was een brief wat sy sommer dadelik weggevat het, want sy het gemeen “dié meisie is net moeilikheid”.

Maar eintlik het hy gedink sy is pragtig, bieg hy nou.

Boer Rèan

Boer Rèan. Foto: Verskaf

Rèan (26) voel weer dit was nie ’n moeilike keuse nie, “veral omdat ek nie te veel wou verwag nie”.

Tog het hy in sy agterkop gewonder of “daar darem ’n meisie vir my gaan wees”, vertel Rèan, ’n wingerd- en pekanneutboer van Groblershoop, Noord-Kaap.

Ook het hy dit in sy agterkop gehou dat "papier baie geduldig is", en dat die foto en brief waarmee hy in sy hand sit nie dalk die ware persoonlikheid van die skrywer weerspieël nie.

Gaan hierdie vyf boere dalk liefde in die reeks vind? Kykers sal eers nog geduldig op hierdie antwoord moet wag.

    •    Toanette is ook hierdie Sondag, 28 Oktober, op die Kwêlabank te sien (kykNET, kanaal 144)