Vanaand begin die 11de seisoen van die gewilde werklikheidsreeks om 20:00 op kanaal 144.

Verlede jaar het Kupido met groot ywer sy liefdespyltjies geskiet en vyf van die top-10 boere het liefde gevind nadat hulle vir die program ingeskryf het.

Gaan dit weer die geval wees? Net die tyd sal leer. Die reeks eindig op 10 Januarie volgende jaar. 

Vanjaar se deelnemers is tussen 23 en 36 jaar oud en 'n vroueboer is weer onder die top-10. 

Die sanger en aktrise Leah neem die leisels by Minki van der Westhuizen as aanbieder oor.

Vanaand kan kykers sien hoe Leah die land deurkruis om die top-10 boere te ontmoet, hul leefwêreld te leer ken en hul liefdesreis saam met hulle te stap. Die boere is: 

Boer Byron (28): Hidroponiese boerdery in Kraaifontein, Wes-Kaap.

Boer Byron Foto: Verskaf

Sy ideale vrou moet hom kan uitdaag, hom vertrou en steun in die besluite wat hy neem, sê hy.

Boer Johan (30): Beesboerdery op Reivilo, Noordwes.

Boer Johan Foto: Verskaf

Hy hoop om 'n saggeaarde en spontane vrou te kry. Betroubaarheid is ook 'n belangrike eienskap.

Boer André (35): Skaap- en angorabokboerdery in Colesberg, Noord-Kaap.

Boer André Foto: Verskaf

Sy lysie vir 'n trouvrou sluit in sy moet gelowig wees, vriendelik, spontaan, aanpasbaar en iemand met goeie kommunikasievermoë. 

Boer Duncan (36): Beesboerdery, Verkykerskop, Vrystaat.

Boer Duncan Foto: Verskaf

Hy hoop om iemand te vind wat van die buitelewe hou en op 'n plaas sal wil bly, 'n goeie sin vir humor het en iemand wat vir ander omgee.

Boer Marx (24): Skaap- en beesboerdery, Barkly-Oos, Oos-Kaap.

Boer Marx Foto: Verskaf

Hy is op die uitkyk vir 'n intelligente vrou wat mooier van binne is as van buite, en iemand wat nie bang is om haar hande vuil te maak nie. 

Boer Cassie (28): Saai- en beesboerdery, Elandslaagte, KwaZulu-Natal.

Boer Cassie Foto: Verskaf

Selfvertroue en iemand wat gemaklik is met wie en wat sy is, beskryf hy van die eienskappe in sy droomvrou. “Emosionele volwassenheid is belangrik, asook iemand wie se familieverhoudings gevestig is.” 

Boer Schalk (26): Eksotiese wildboerdery, Vaalwater, Limpopo

Boer Schalk Foto: Verskaf

Hy hoop om iemand in die reeks te vind wat hom sal liefhê vir wie hy is en hom sal aanvaar en verstaan. “En iemand met wie ek my dag en gebeure kan deel.” 

Boer Rèan (26): Wingerd- en pekanneutboerdery, Groblershoop, Noord-Kaap.

Boer Rèan Foto: Verskaf

“Sy moet kan lag, lekker lag,” beskryf hy sy trouvrou. Ander eienskappe waarvoor hy in die reeks sal uitkyk, sluit in iemand wat ondersteunend en saggeaard is, maar ook 'n bok vir sports.

Boer Frikkie (28): Wildboerdery, Paterson, Oos-Kaap.

Boer Frikkie Foto: Verskaf

Die vrou wat sy aandag sal trek, is iemand wat van diere hou en wat goed met sy familie oor die weg sal kom. “Sy moet avontuurlustig wees en sommer net in die bakkie sal spring om vir die naweek weg te breek.”

Boer Toanette (23): Wildboerdery, Modimolle, Limpopo.

Boer Toanette Foto: Verskaf

Sy hoop om iemand te vind wat weet wat hy in die lewe wil hê, wat drome het en daaraan werk om dit te bewaarheid.