In die jongste episode van 'Boer soek ’n vrou' kry die boere kans om alleentyd saam met hul vrouedeelnemers te bring.
In die jongste episode van 'Boer soek ’n vrou' kry die boere kans om alleentyd saam met hul vrouedeelnemers te bring. Foto: kykNET.

Die vroue se weeklange kuier op die plase is nou besig om baie vinnig tot ’n einde te kom, en die boere sal binnekort moet besluit watter een van hul gekose vroue alleen op die plaas moet agterbly.

“Op die meerderheid van die plase loop die gemoedere effens hoog . . .” som die aanbieder Marciel Hopkins die situasie met die jongste episode op.

Om met hierdie besluit te help, kon die boere baie meer alleentyd saam met elke vrou deurbring en het elkeen die geleentheid aangegryp om mekaar beter te leer ken en ’n goeie tyd te hê.

Dinge het ’n bietjie stram geraak op Niel se plaas toe kykers uitvind dat dié boer en Chereze sommer al die vorige aand alleen gesels het. Niel bieg ook dat hy vir Chereze ’n lekker stywe drukkie gegee het, “want sy was maar emosioneel”.

Boer Niel, Chereze en Monique klink 'n glasie op '
Boer Niel, Chereze en Monique klink 'n glasie op 'n wonderlike week saam. Foto: Verskaf.

Dié alleentyd het Monique egter nie te veel ontsenu nie. “Ek fokus nou net op my en hom, want dit is eintlik hoekom ek hier is,” vertel sy selfversekerd.

Die vroue kry albei die kans om saam met Niel oor hul toekoms te gesels, en Niel bieg dat dié ervaring beslis meer emosioneel is as wat hy gedink het. 

Op boer Richann se plaas word plaatkoekies vir ontbyt gemaak.

“Ek voel ’n bietjie soos ’n buitestaander in dié stadium,” verklap Marizel, hoewel sy vir Richann met haar bakvernuf beïndruk. “Ek is seker dat ek nie die een is wat hy gaan kies nie,” bieg sy later.

Richann laat hoor dat hy ná sy alleentyd saam met elke vrou ’n “groter rustigheid oor hom” het.

Marizel en René spot vir Richann oor sy braaivleis
Marizel en René spot vir Richann oor sy braaivleisvuur wat eers nie wil vlamvat nie. Foto: Verskaf.

Boer Kobus leer vir Lynette en Maxie hoe om ’n pyl en boog te skiet en dit is duidelik dat albei vroue hoop dat Kupido notas neem.

Dit is veral Kobus se manier om sommer by albei vroue hand by te sit wanneer hulle “die wapen” hanteer, dat die kwik ’n bietjie styg.

Boer Kobus wys vir Lynette hoe om pyl en boog te s
Boer Kobus wys vir Lynette hoe om pyl en boog te skiet. Foto: Verskaf.

“Ek glo daaraan ’n mens moenie iemand se tyd mors nie. Ek is hier vir hom, en ek glo en vertrou ek gaan die een wees wat hy kies,” sê Lynette.

Maxie skok met haar vermoede dat Kobus hulle sommer albei huis toe gaan stuur.

Marlia het ook kykers se oë laat rek toe sy bieg dat sy nie van rooibostee hou nie. Dít terwyl boer Albert, ’n rooibos-, sitrus- en skaapboer van Clanwilliam in die Kaap is.

“Ek het nog nooit rooibostee gedrink nie. Ek is nie lief vir rooibostee nie. Ek was nie mal oor die reuk wanneer ek dit al vir mense gemaak het nie,” verduidelik sy.

Al is Marlia die enigste vrou wat nog by Albert op die plaas kuier, maak sy dit in die episode duidelik dat sy graag wil hê dat Albert haar moet vra om langer aan te bly. Haar wens word later in die episode bewaarheid.

Albert en Marlia gesels met Marciel oor hul gevoel
Albert en Marlia gesels met Marciel oor hul gevoelens vir mekaar. Foto: Verskaf.

By boer Déan word die dag afgeskop met ’n adrenalien-belaaide roete in die natuur met motoraangedrewe skopfietse.

Déan merk op dat Marinel sowel as Marné mededingend is, maar dat Marinel ’n klein bietjie harder vir sy aandag baklei.

Boer Déan gesels met die vroue oor sy moeilike bes
Boer Déan gesels met die vroue oor sy moeilike besluit wat voorlê. Foto: Verskaf.

In sy alleentyd maak Déan dit aan die vroue duidelik dat hy gereed is om in die nabye toekoms te “settle”.

Maar vir die kykers is dit nou duidelik dat daar vir die meeste boere nog eers ’n moeilike besluit voorlê, voor hulle aan settle kan dink. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe