Oor net ’n paar dae gaan gesinne landwyd weer weekliks voor die kassie inskuif om die 11de seisoen van die gewilde pasmaat-program Boer Soek ’n Vrou te volg.

Dié trefferreeks begin op Donderdag 18 Oktober en het ’n splinternuwe aanbieder, die sangeres Leah, wat die leisels by Minki van der Westhuizen oorneem.

In afwagting op die nuwe reeks, het ons gaan kyk hoe dit met ’n paar van die gewildste (en ook berugste) boere gaan.

Boer Johan

Boer Johan het in Januarie vanjaar gesê hy's niemand se skoothondjie nie.

Die eskapades van Boer Johan van die vorige seisoen sal nog lank nie vergeet word nie. Hoewel Johan Uys eers vir die jonger Marilyn van Droogenbroeck gekies het, het hul liefdesbootjie sommer tydens die seisoen al gesink.

Dit het later op die lappe gekom dat hy met een van die ander deelnemers, Marita Schoombie, 'n verhouding aangeknoop het sowat vier maande nadat hy haar van sy plaas af weggestuur het.

Dit was ook van korte duur, het sy aan Huisgenoot vertel en die tweetjies is sedert Julie 2018 weer enkellopend. 

Boer Fanie

Boer Fanie en Bernice voor hul plaashuis. Foto: Corrie Hansen

Fanie en Bernice Marx van die sesde seisoen het in Junie 2017 afgehaak en sowat ’n jaar later is hul eersteling, Anya, gebore.

In ’n onderhoud met Huisgenoot het Bernice gesê: “Ons het nie beplan om so vinnig kinders te hê nie, maar ná die troue het dinge gebeur soos dit moes.”

Boer Gerrie

Gerrie Rossouw en Carna het in Augustus 2015 getrou. Foto: kykNET

Nog ’n paartjie wat onlangs aan hul eersteling die lewe geskenk het, is Gerrie en Carna Rossouw, van die sewende seisoen. Die dogtertjie heet Sanri en sy is in September 2017 gebore.

Boer Carl

Hoewel Carl Möller eers nie die liefde van sy lewe in die tiende seisoen van Boer Soek ’n Vrou kon vind nie, is hy wel met ’n ander deelnemer nou in ’n verhouding.

Danél Saayman het aanvanklik vir Boer Jacques Vlok ingeskryf, maar het later met Carl begin uitgaan.

“Daar is 'n pad om te kies in die lewe.  die een wat ek kies is saam met jou,” het Danél onlangs by ’n foto van haar en Carl geskryf.

Boer Kevin

Boer Kevin en Natashja ken mekaar reeds 11 jaar lank. Foto: Facebook

Kevin Isted het kykers van die sewende seisoen die harnas ingejaag toe hy sommer albei sy deelnemers huis toe stuur.

Hoewel sy trouvrou nie tussen die deelnemers te vinde was nie, het Kevin aan die begin van vanjaar verloof geraak aan sy jarelange vriendin Natasja Fourie. Hulle is op 28 April naby Lady Grey getroud.

Bronne: kykNET.dstv.com, Facebook