Ná ’n besige dag in die son en stof, word daar op elke plaas gebraai, ’n glasie wyn geskink en gekuier, terwyl die boere ’n moontlike pasmaat probeer identifiseer.

Boer Albert se kuiergaste, Mariska, Trudie en Marl
Boer Albert se kuiergaste, Mariska, Trudie en Marlia, daag by sy plaas op. Foto: Verskaf

Boer Richann van Vredefort het die meisies verras met ’n sagte speelgoed-skapie as geskenk op elkeen se bed.

“Moet hulle nou maar die skapie vashou as hulle nie vir jou kan vashou nie?” wou die aanbieder, Marciel Hopkins, tong-in-die-kies by hom weet. Natuurlik het hy vir haar ook 'n skapie gegee wat sy dadelik “Buksie” gedoop het.

Sy was ook verbaas toe sy sien dat daar sommer drie yskaste en vier vrieskaste in Boer Kobus se kombuis staan. Natuurlik vol proviand, want dit lyk of dié boer van Randfontein beplan om lekker te kuier gedurende die week.

Toe die meisies op sy plaas aankom, wou Michellé by hom weet of hulle hom darem nou ’n hallo-drukkie mag gee. Marciel het dadelik gekeer en gesê: “Nee, maar jy mag ’n elmbogie vryf!”

Die dames wat vir Boer Kobus gaan kuier het, moes
Die dames wat vir Boer Kobus gaan kuier het, moes dadelik saam na die kraal om die beeste te help uitkeer. Foto: Verskaf

Boer Albert van Clanwilliam is hierdie seisoen se bondel energie, en Marciel het hardop gewonder of hy darem lank genoeg sal kan stilsit om almal beter te leer ken.

Een van sy meisies, Trudie, het sommer voor hul aankoms al verklap dat sy baie opgewonde is om “daai baie oulike, aantreklike outjie weer te sien, want sy persoonlikheid is regtig flambojant”.

Boer Albert het sy vroue-gaste geleer hoe om te pl
Boer Albert het sy vroue-gaste geleer hoe om te ploeg. Marlia het egter die rem van die trekker te laat getrap en deur ’n heining gery. Foto: Verskaf

Boer Déan van Nelspuit is weer die deelnemer met die skerp sin vir humor, maar ook met ’n effe sarkastiese aanslag. Toe hulle die aand om die braaivleisvuur staan, wou Megan by hom weet hoekom hy so stil is.

“Ek is altyd stil; ek is maar besig met my eie dinge,” het hy droogweg geantwoord.

In Nelspruit het Boer Déan die meisies gaan wys ho
In Nelspruit het Boer Déan die meisies gaan wys hoe lyk sy klein Macadamia-plantjies. Foto: Verskaf

Boer Niel, die forsgeboude man van Grabouw, het sý gaste weer geleer hoe om tussen vier soorte appel-kultivars te onderskei. Sheri het gebieg dat hoewel sy nog altyd van ouens met ligte hare hou, sy hom baie aantreklik vind. 

Hentie se advies

Dit is baie lekker as daar soveel mense op een slag by jou aanklop, sê Hentie Kruger wat in seisoen 12 liefde gevind het by Hantie Fourie. 

“Maar ja, dit is senutergend ook, want ’n mens weet nie wat om te verwag nie.”

Deesdae woon Hentie in Pretoria waar hy organiese rooibostee in die noorde van die land bemark. Sy raad aan die boere wat nou 'n keuse moet maak tussen die drie dames wat op die plaas kuier, is om net hulself te wees.

“Daar is baie moeilike besluite wat gemaak moet word waarvoor jy nie veel kans kry nie. Wees daarom oopkop en geniet dit net.”

• 'Boer soek ’n Vrou' word op Donderdae om 20:00 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai.