Boer Albert
Boer Albert Smit van Clanwilliam is een van die topvyfboere in die reeks Boer soek ’n vrou. Foto: Gallo Images/Corrie Hansen

Dis die baas van die plaas wat besluit wanneer jy jou ry moet kry – nie jy as die kuiergas nie. 

So werk dit mos op Boer soek ’n vrou. Of hoe?

Maar daar kry boer Albert Smit (25), die kykNET-maatsoekreeks se hubare teeboer van Clanwilliam, toe sommer ’n afjak. Hy wou nog nie vir Trudie, ’n ouditeur van Stellenbosch, huis toe te gestuur het nie, maar toe kies sy sommer self om haar tasse te pak.

Albert lag nou daaroor, maar hy erken dit was alsbehalwe snaaks toe dit tydens die vervaardiging van die episode gebeur het. “Dit was ’n f***p, daar is nie ’n ander woord nie.”

Die reeks se vertroude resep is dat elkeen van die vrygeselboere drie vroue na die plaas nooi en hulle dan een-een huis toe stuur. Oplaas bly net die vrou oor wat sy hart vinniger laat klop. 

Niemand het dit verwag nie. Die vervaardiger Berdene is dié kant toe, daai kant toe. Die hele crew, almal was geskok. Jy kon sien hulle wonder wat pas gebeur het.

Boer Albert
Albert het twee skaaphonde op die plaas, Milo (langs hom) en Maya. Foto: Gallo Images/Corrie Hansen

Die kameras draai, die vertrek is vol afwagting . . . Albert vra Mariska, die blonde student van Kaapstad, om huis toe te gaan. Vir Marlia, ’n fisioterapeut van Hermanus, vra hy om te bly. Ook vir Trudie wil hy beter leer ken – maar sy sê nee, dankie. En daar word Albert toe sommer “uitgestem”.

“Dit het my totaal en al onkant betrap. Ek en Marlia is daar onder die kameras uit na die agterdeur toe om te praat,” vertel hy. 

“Niemand het dit verwag nie. Die vervaardiger Berdene is dié kant toe, daai kant toe. Die hele crew, almal was geskok. Jy kon sien hulle wonder wat pas gebeur het.”

Die opstal was behoorlik in rep en roer.

“Die bakkie wat die meisies huis toe neem, was net ingerig vir een meisie met ’n kamera. Hulle moes êrens heen ry om nog een te kry, en toe moes hulle ekstra onderhoude met my en die meisies doen,” vertel hy. 

“Ons het daai aand eers tienuur klaar gemaak. Dit was ’n malhuis.”

’n Oomblik is die rooikop Albert se gelaat selfs rooier as gewoonlik terwyl hy dit herleef, maar dan lag hy diep uit sy maag.

“Ek was nie kwaad nie, net baie verbaas.” 

Oor Trudie se opmerkings in ’n vorige episode – dat sy gesprekke in die huis as oppervlakkig ervaar – sê Albert dit was vir hom moeilik om “diep” te raak met ’n groep. 

“Ek is eerder iemand wat een-tot-een met jou oor dieper dinge gesels. Teen die tyd dat die uitstemmery gebeur, was daar nog nie die tyd om alleen saam met die meisies te wees nie.”

Maar ondanks die verleentheid voor die kamera, is hy nie spyt oor sy deelname nie. “Dit is ’n ervaring wat jy nooit weer gaan kry nie. Jy ontmoet soveel mense, en jy leer soveel van jouself en ander. Jy kyk met ander oë na die wêreld.” 

Hoe dinge verder tussen hom en Marlia in die program ontvou, mag hy nie verklap nie, maar wanneer jy hom oor ’n spesiale persoon in sy lewe pols, glinster sy oë.

“Ek het beslis steeds hoop vir liefde.”

Die drie vroue wat op die plaas by Albert kom kuie
Die drie vroue wat op die plaas by Albert kom kuier het. Van links is Mariska, ’n student van Groenpunt, Marlia, ’n fisioterapeut van Hermanus, en Trudie, ’n ouditeur van Stellenbosch. Foto: Verskaf

In lewende lywe is Albert dieselfde vriendelike gasheer wat jy op die kassie leer ken. 

By die plaashuis lok die reuk van varsgebakte croissants jou na die keurige ontbyttafel met vrugte, kaas en jogurt. Hy het die croissants sommer self gebak, vertel hy.

Met volgepakte bordjies byderhand vertel Albert hy het met die jare nog nooit ’n episode van Boer soek ’n vrou misgeloop nie.

Ek het nie gedink daar is ’n kans dat hulle wéér ’n boer van Clanwilliam sal kies nie.

“Van kleins af het ek gesê ek gaan eendag ook inskryf, maar ek was nooit ernstig nie.”

Hy was in ’n verhouding tot hy 20 was. En toe dié eindig het almal gespot hulle gaan hom nou inskryf. Hy het altyd geskerm dat hy eers sy kombuis se restourasie wil voltooi, maar op ’n dag was dit klaar, en die verskonings ook. 

“Ek was een aand by my suster Nicolene toe sy weer neuk. Ek het ’n glas wyn in die hand gehad, dalk een te veel gedrink, maar toe sê ek: ‘Oukei, kom ons doen dit en kry klaar.’ Ek het nie gedink daar is ’n kans dat hulle wéér ’n boer van Clanwilliam sal kies nie.”

Albert by die tee wat besig is om te droog. Die me
Albert by die tee wat besig is om te droog. Die meeste van hulle tee word uitgevoer. Foto: Gallo Images/Corrie Hansen

Boer Willem en boer Hentie van Clanwilliam was albei onder die topvyfboere in die vorige seisoen van Boer soek ’n vrou. Willem het liefde gevind by Sanel, en hulle het intussen verloof geraak, terwyl Hentie en Hantie in die reeks bymekaargekom het en steeds dolgelukkig is. 

Dié paartjie moes ’n struikelblok oorkom toe Hentie tydens die inperking sy werk as plaasbestuurder verloor het. Hy het Pretoria toe getrek vir ’n nuwe werk, terwyl Hantie toe reeds al die pad uit Pretoria Clanwilliam toe getrek het om by hom te wees. Sy het intussen weer teruggetrek Pretoria toe. 

Die gemeenskap van Clanwilliam is klein, en Albert en Willem ken mekaar al is hulle in verskillende vriendekringe. Albert vertel Willem sal met tye by hom inloer om te hoor hoe hy die gebeure in die program ervaar. 

Sy ouers, Wimpie (56) en Marietjie (52), en susters, Annemie (22) en Nicolene (21), was ook ondersteunend.

“Aan die heel begin het my pa gevra wat my besiel, maar namate die episodes verloop het en mense vir hom boodskappe gestuur het oor my wat op televisie is, het hy dit begin geniet.” 

Die gesprek word onderbreek deur Milo, die bruin skaaphond wat hinkepink oor die grasperk naderkom. Hy het ’n duwweltjie in sy poot, en terwyl hy daarvan verlos word, is daar kans om jou aan die panorama van sitrusboorde, teelande en wingerd te verlustig.

“Die boerdery is in my bloed,” vertel Albert. “My oupagrootjie het hier geboer. Ek woon in my oumagrootjie Matie se huis, die oudste op die plaas.”

Toe hy die eerste keer agter die plaasbakkie se stuurwiel klouter, kon sy voete nie lekker die pedale raak nie. Hy en sy susters is deur sy ma, ’n gekwalifiseerde onderwyseres, tuis onderrig eerder as om hulle na ’n kosskool te stuur.

Op 17 jaar het Albert, ’n geesdriftige fotograaf, ’n fotoateljee op die dorp begin. Later het hy ook fotorame van hout gemaak en op skoue en kunsfeeste verkoop.

Vier jaar gelede het hy permanent kom boer. “Hier is heeltyd veranderinge, nuwe sitruskultivars en uitbreidings. Jy gaan nie sommer my wortels hier uitkry nie.” Al wat nog kort is ’n maat ewe verknog aan die plaaslewe.

Die gesprek draai terug Trudie. “Ek dink tog Trudie het dalk te vroeg afleidings gemaak,” skerm hy so effens.

“Ek en Marlia het maklik gesels, sy is die bubbly een van die drie. Wanneer ek ’n onderwerp opgehaal het, het sy saam gepraat, en wanneer ek iets gesê het, het sy eerste geantwoord. Ek dink Mariska en Trudie het gedink ons kliek, maar dit was aan die geselskant,” vertel hy. 

“Ons het gekliek, maar daar was ’n deur oop vir Trudie, want ’n mens weet nooit wat langs die pad kan gebeur nie. Sy is ’n oulike meisie, ek het baie van haar gehou.”

Boer Albert
Boer Albert staan reg met varsgebakte croissants in sy gerestoureerde kombuis. Foto: Gallo Images/Corrie Hansen

Tog sou hy vir Marlia gekies het as hy in daardie stadium finaal moes kies, voeg hy by. En Trudie se besluit het hom nie negatief oor die res van die program gemaak nie. 

“Elke negatiewe ding het ’n positiewe kant, elke donker wolk het ’n silwer randjie. As ’n ding sleg lyk, dan draai jy hom om sodat hy goed lyk. Ek is happy met hoe ek alles gedoen het. Nou, ná die tyd, sien ek hoe alles uitgewerk het en dit maak sin.”

Albert sit selde vir lank stil. Gewapen met ’n sekel gaan wys hy ons hoe ’n mens tee oes.

“Jy moet hom hier van onder af sny,” verduidelik hy. “Nie te lank nie, en nie te kort nie.” 

In die somer begin die bedrywighede op die plaas vroegdag en staan hy al vyfuur op, vertel hy. “Ek sal maklik voor middagete my tienduisend treë inkry!”

En hopelik stap hy sy lang draaie binnekort nie meer alleen nie.

  • Boer soek 'n vrou word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (Dstv-kanaal 144 ) uitgesaai.