Maar in die sosiale media het kykers reeds hul menings oor die boere begin lug. Hoe voel die vyf boere hieroor?

Boer Kobus

Nee, hy het glad nie verwag dat mense wat hom glad nie ken nie soveel negatiewe kommentaar na sy kant toe sal slinger nie, sê boer Kobus (53).

“Daardie wors-episode is heeltemal uit verband geruk,” voel Kobus, wat ’n gemengde boerdery in Randfontein het. Hy verwys na die braai wat hy en sy drie vroue in episode 5 gehad het toe hy in ’n gewaagde grappie by die vroue wou weet hoe hulle van hul wors hou.

Alle kykers het egter nie van sy grappie gehou nie, en hy is in die sosiale media oor die (braai)kole gehaal.

Hy het nie geweet dit is sosiaal onaanvaarbaar om ’n vrou se voorkoms te komplimenteer nie, sê boer Kobus.

“Daardie paar mense se kommentaar dat ek vulgêr is, was nie by die braai nie. Hulle baseer hul opmerkings op een sin wat ek gebruik het, sonder om te besef dit was eintlik net 10 sekondes van ’n hele aand se heerlike kuier tussen vier volwasse mense. Mense wat jou glad nie ken nie, vorm ’n mening oor jou en oordeel jou dan daarvolgens.”

Sommige kommentators het ook hul (vleis)mes vir hom ingehad omdat hy ná die vroue se aankoms op sy plaas gesê het: “Hulle het almal baie mooi skoon en netjies voorgekom.”

Ook hieroor is hy verbaas. Hy het nie geweet dit is sosiaal onaanvaarbaar om ’n vrou se voorkoms te komplimenteer nie, sê hy. 

Boer Richann

Boer Richann (30) van Vredefort voel dat die vrees vir negatiewe kommentaar moontlik baie voornemende deelnemers kan afskrik om vir die reeks in te skryf. Hy self het dit in gedagte gehou toe hy vir die 13de seisoen ingeskryf het, erken hy.

“Ons is egter voor die tyd deur die vervaardigers hierop voorberei, maar ek dink tog dat dit vir sommige deelnemers wel as ’n skok kan kom as hulle skielik aan die ontvangkant staan van ’n vloedgolf van negatiewe kommentaar.”

Hy self het nog niks negatiefs in die sosiale media oor hom raak gelees nie, maar sê ook dat hy nie juis die sosiale kommentare lees nie.

Boer Niel

Sy “hart het gebreek” toe hy sien hoe sommige kykers die drie meisies aanval wat by hom kom kuier het, sê boer Niel (33) daar uit Grabouw se distrik.

Boer Niel kuier saam met Chereze, Sheri en Monique
Boer Niel kuier saam met Chereze, Sheri en Monique. Foto: Verskaf

“Maar wat daardie mense nie besef nie, is dat dit wat hulle op TV sien net ’n paar minute is wat deel vorm van ’n hele aand se kuier en gesprekke. Hulle het nie die hele aand gesien nie, en het daarom geen kennis van die agtergrond waarteen sekere opmerkings gemaak is nie.”

Hy het hom voor sy deelname daarop voorberei dat sommige sosiale kommentators hom dalk in hul visier sal kry, “maar ek het besluit as ek pak gaan kry, dan sal ek dit vat soos ’n man”.

Boer Déan

Déan (28), die vlieënier-boer van Nelspruit, sê hy het voor die tyd geweet daar gaan baie kritiek kom. Maar hy stem ook saam met Niel dat Facebook-kritici geneig is om kommentaar te lewer oor iets waarvan hulle nie werklik die volle agtergrond ken nie.

Boer Déan neem vir Megan, Marinel en Marné hoog na
Boer Déan neem vir Megan, Marinel en Marné hoog na die wolke in episode 6. Foto: Verskaf

“Ek is byvoorbeeld aangeval omdat ek so stil is. Daar is selfs mense wat wonder hoekom ek dan ingeskryf het. Maar hulle weet nie hoe lekker ek en die drie meisies eintlik gekuier het nie.”

Hy erken dat hy aan die begin van die reeks stiller oorgekom het as wat later die geval sou wees, maar verduidelik dat hy juis in sommige situasies eerder stil gebly het pleks daarvan om dalk iets te sê wat verkeerd opgeneem sou word.

Boer Albert

Boer Albert, die vrolike rooikop van Clanwilliam, sê hy het aan die begin gedink dit gaan hom pla as hy negatiewe kommentaar kry, maar tot dusver het hy nog glad nie eers gaan kyk wat mense aanlyn van hom sê nie.

“Om die waarheid te sê, eintlik worry ek nie wat vreemde mense sê nie.”

‘n Bootvaart op die Clanwilliamdam. Dit was boer Albert se bederfie aan sy plaasgaste Mariska, Trudie en Marlia. Foto: Verskaf
‘n Bootvaart op die Clanwilliamdam. Dit was boer Albert se bederfie aan sy plaasgaste Mariska, Trudie en Marlia. Foto: Verskaf

Miskien som Albert al vyf boere-deelnemers se sienings die beste op as hy sê: “Ek weet wie ek is. My familie en my vriende weet wie ek is. Dit is die belangrikste.”

  • Boer soek ’n vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.