Boer Tyson
Boer Tyson

Die plaaslewe loop immers soos bloed deur sy are, vertel Tyson (33). Hy het “as ’n laaitie op die plaas grootgeword en in die bakkies en in die groot masjiene soos stropers saam met my pa gery”. Saans het hy en sy broer in hul kamer op die mat met hul eie klein trekkertjies en bakkies “boertjie-boertjie” gespeel.

Niks het intussen verander nie en Tyson boer nou saam met sy broer en pa op die plaas in die Bergville-distrik in KwaZulu-Natal met mielies, sojabone, koring en beeste. “Dit is ’n seën en ’n voorreg om dit te kan doen, maar ek soek ook iemand wat die lewe met my kan deel, van ’n huis ’n tuiste kan maak en saam met wie ek ’n gesin kan begin,” vertel die Engelssprekende boer.

Sy Afrikaans is ook taamlik goed, voeg hy vinnig by, want hy het baie goed in die Afrikaans-klasse op skool gevaar. “Ek hou van Afrikaanse meisies, maar eintlik het ek nie ’n voorkeur nie. Wat wel belangrik is, is dat sy, net soos ek, van God moet hou.”

Tyson is van mening dit verg opofferings van albei partye om ’n verhouding te laat werk. “Jy moet aan die ander persoon dink, aan wat hulle wil doen en wat hulle ambisies is. As dit te kort skiet by een van die twee, dan sal dinge nie uitwerk nie.”

Hy sê hy is nie ’n “grootgroep-mens nie”. Hy sal dikwels dinge op sy eie doen, of net saam met ’n paar vriende kuier. “Dit is waar ek my energie kry.”

Tyson het, net soos boer Déan van die vorige seisoen van Boer soek ’n vrou, ook ’n helikopterlisensie. “Vlieg is seker een van die lekkerste dinge vir my om te doen,” vertel hy. “Daardie ongelooflike gevoel as jy van die grond opstyg is moeilik om aan ander te beskryf.”

Nou wag hy net vir daardie spesiale meisie wat saam met hom die toekoms wil invlieg . . .    

Vang Boer Tyson dalk jou oog?
  • Dan moet jy voor middernag op 29 Julie 2021 vir hom ’n brief skryf om deel te wees van hierdie avontuur.
  • Die volledige inskryfvorm is op kykNET se webtuiste beskikbaar.
  • Voornemende pasmaats kan ook nou weer hand-afgelewerde briewe of pakkies stuur mits dit nie oop kosprodukte bevat nie.
  • Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, sal ook aanvaar word. Vir enige navrae kontak 079-335-5137 of stuur ’n e-pos na boer@marche.media.
  • Onthou, jy moet ouer as 21 en ongetroud wees.