In vanaand (8 November) se episode van die gewilde werklikheidsreeks moet vanjaar se topvyfboere, Rèan, André, Toanette, Duncan en Cassie, elkeen drie kandidate kies wat hulle nooi om verder op hul plase te gaan kuier.

“Dit was een van die stresvolste ervarings in my lewe wat ek nooit ooit weer wil oor doen nie,” vertel Gloudien Nieuwoudt oor haar ervaring in die sesde seisoen van die dié reeks. Jan Nieuwoudt het haar – toe 43 – en twee ander vroue gekies om in 2013 saam na Ceres te gaan na ’n vrugte-, groente-en-pluimveeplaas waar hy voorman was.

“Chauvinis”, “casanova” en “boelie” is Jan destyds toegesnou. “Ek’s Suid-Afrika se mees gehate man, selfs meer as (die EFF-leier, Julius) Malema,” het boer Jan destyds aan Huisgenoot gesê nadat ’n storm om sy kop losgebars het ná ’n episode waar al drie vroue op die plaas was.

“Moenie ’n haardroër aanskakel nie, want ek sal jou vloek,” het Jan (toe 52) onder meer in daardie gewraakte episode gegrom. Die kykers was woedend oor hoe hy met sy vrouegaste praat; daarna het sy status getuimel van die seisoen se gewildste boer tot die een oor wie niemand ’n goeie woord te sê gehad het nie.

“Die ervaring kan jy nie vir iemand anders beskryf nie. Dit is net jy en die ander twee vroue. Daar is nie familie of vriende wie se raad jy kan vra nie,” voeg sy by. Sy en Jan was getroud.

“Dit was ’n lekker gevoel om te weet jy is onder die topdrie deelnemers. Maar jy is maar senuweeagtig en onseker oor wat voorlê. Jy weet nie wat om te verwag nie. Jy kan jou nie daarop voorberei nie. Jy is in ’n situasie wat jy nie weet wat volgende gaan gebeur nie.

“Aan die een kant is dit baie opwindend, maar dis ook spanningsvol. My raad aan elkeen van die vroue is om net jouself te wees. Moenie probeer om die persoon te beïndruk nie. My siening was, aanvaar my nes ek is. En ja dit gebeur dat jy onmiddellik tot die ander persoon aangetrokke voel.

“My ervaring was dat jy mooi moet dink wat jy voor die kameras sê. Jy het moontlik kinders en mense wat voorheen deel was van jou lewe aan wie jy moet dink. Jy wil nie mense seermaak of benadeel nie.

“Ek is tot vandag toe nie spyt dat ek aan Boer Soek ’n Vrou deelgeneem het nie. Ek was ’n skaam en teruggetrokke mens, maar dit het my uit my dop laat kruip.”

Gloudien en Jan was byna drie jaar lank getroud, maar hul skeisaak is op 14 Augustus verlede jaar in die hooggeregshof van Kaapstad afgehandel.

Die wond is nog rou. Soos Gloudien dit stel. “Dit bly maar nog vir my ’n moeilike en emosionele saak om oor te praat.