In die voorlaaste episode het die vyf boere, waarvan nou net vier elkeen ’n moontlike pasmaat het, by die Camp Figtree Lodge naby die Addo-olifantpark in die Oos-Kaap opgedaag vir ’n weeklange vakansie.

Daar is min dinge wat ’n mens so lekker kan laat ontspan soos ’n vakansie in die ongerepte natuur, maar die boere en hul metgeselle het ook van dié wegbreekkans gebruik gemaak om te bieg en hart oop te maak.

Boer Kobus

Die vakansiegangers bewonder drie mak olifante.
Die vakansiegangers bewonder drie mak olifante.

In ’n skokwending het kykers voorverlede week gesien hoe Boer Kobus albei sy laaste twee kuiergaste op sy plaas in die Randfonteindistrik in Gauteng huis toe stuur. Hy het nie sterk genoeg gevoelens vir een van hulle ontwikkel nie, het hy aan Huisgenoot vertel.

Daarom daag hy toe alleen op by die vakansienaweek. En breek die nuus: daar bestaan ’n moontlikheid dat hy ’n ander potensiële pasmaat volgende week na die reünie sal nooi.

Dié geheime bewonderaar, ook van die Wesrand, het sy inskrywing verlede jaar vir die Boer soek ’n vrou-reeks gesien en met hom kontak gemaak terwyl die verfilming van die reeks reeds begin het.

Haar woorde aan hom was: “Indien jy aan my die geleentheid sal gee om jou lewe te verryk en ek kom eendag in die Hemel, sal jou oorlede vrou aan my dankie sê vir dit wat ek vir jou gedoen het vir die res van jou tyd op aarde”, vertel Kobus.

Daardie woorde het hom hoendervleis gegee, erken hy. “Toe antwoord ek dat ek nou in die (verfilmings-) proses is, en ek kan nou niks doen nie.”

Maar toe pak die twee gaste op sy plaas hul tassies. Hy sê hy gaan probeer om dié vrou te oortuig om saam met hom na die reünie-naweek te kom.

Boer Déan

Déan en Marné. Sy sê hulle is nie nou in ‘n ernsti
Déan en Marné. Sy sê hulle is nie nou in ‘n ernstige verhouding nie.

Dit is duidelik dat die macadamia-boer van Nelspruit, Déan, eers die kat goed uit die boom wil kyk. Hy erken hy het al baie sy kop gestamp as dit by hartsake kom, want hy raak te vinnig verlief.

“Maar met hierdie hele proses het ek my forseer om dit bietjie rustiger te vat.”

Sy blondekopgas, Marné, stem saam. “Op hierdie stadium sal ek nie sê ons is nou in ’n ernstige verhouding nie. Ons altwee gee dit kans om te kyk waarheen dit gaan.”

Boer Niel

Die liefde blom tussen Niel en Chereze.
Die liefde blom tussen Niel en Chereze.

Dit lyk egter nie of Niel, die vrugteboer van Grabouw, en Chereze nog tyd benodig om te dink nie. Dié twee is duidelik verlief en het die heeltyd hande vasgehou.

Hy som haar vol lof op in een sin: “Sy tap nie energie van my nie. Sy is die kalmte wat ek nodig het.”

Boer Richann

Boer Richann en René hou piekniek tydens die vakan
Boer Richann en René hou piekniek tydens die vakansieweek.

Dit was vir kykers ook duidelik dat die bok- en skaapboer van Vredefort, Richann, die skoot hoog deur het. Hy het reeds in verlede week se episode openlik erken dat hy en die blonde dosent van Bloemfontein, René, nou in ’n verhouding is.

Hy sê dat hulle soveel raakpunte op ’n intellektuele vlak het. “Ek kan rêrig lekker met haar gesels. Sy is baie slim en ’n baie interessante mens.”

Tog voel sy “dit is nog steeds early days.

“Daar is maar nog baie goed wat ’n mens sal moet uitfigure en uitsorteer, soos maar in enige verhouding.”

Boer Albert

Vir Marlia was die vakansienaweek egter teleurstellend nadat die rooikopboer Albert van Clanwilliam erken het: “Van my kant af voel ek niks meer as net vriendskap nie.”

Sy sê as sy voor die tyd geweet het dit gaan net bly by ’n vriendskap, dan sou haar uitkyk bietjie anders gewees het tydens die vakansieweek.

Hoe gaan al hierdie intriges eindelik afspeel? Wel, ons gaan eers weet wanneer die laaste episode van Boer soek ’n vrou op Donderdag, 15 April, op kykNET (kanaal 144) op die lug gaan wees.

  • Inskrywings vir Boer Soek ’n Vrou 14 (2022) open op 15 April wanneer die huidige seisoen eindig.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe