Dié gesellighede het gewissel van klein en intiem soos wat boer Damian op sy stoep aangebied het, tot 'n saal met meer as honderd gaste soos in boer Graham se geval.

Die boere Hentie en Willem boer naby mekaar in die Clanwilliam-distrik, en daarom het dié twee ook sommer by mekaar se gesellighede opgedaag!

Maar voor die aand se vrolikhede kon begin, het elke boer eers die geleentheid gekry om hul twee moontlike pasmaats beter te leer ken.

Hentie het vir Hantie en Hester 'n braaiontbyt gemaak, waarna hulle op die plaas rondgery en na die blomme gekyk het. Hantie het die kurkprop van 'n bottel vonkelwyn met 'n mes oopgekap, wat Hentie nogal beïndruk het. Hy beskryf altwee as “sulke nice dames wat soveel van die omgewing hou”.

Hentie maak vir Hester en Hantie ‘n braaiontbyt.
Hentie maak vir Hester en Hantie ‘n braaiontbyt.

Op Damian se plaas begin die dag deur die kraal skoon te skraap.

Boer Damian het sy twee gaste vroegdag in die werk gesteek deur die krale skoon te skraap. “Dis iets wat ons maar so elke nou en dan moet doen,” verduidelik hy.

Terwyl hy later die dag inkopies gaan doen het, het Andrew en Ivan ingespring en die stoep met helder liggies in 'n kuierarea omskep.

Damian verduidelik hy het 'n uiteenlopende groep vriende. “Hulle is nie baie nie, maar hulle is kwaliteitvriende.”

Hy sou wel baie graag sy pa, wat twee jaar gelede oorlede is, by vanaand se kuieraand gehad het, sê hy.

Boer Theunis het weer die oggend saam met Marcia en Renette by sy ma gaan ontbyt eet. “My ma se woorde raak nooit op nie, en dit maak die kuier gemakliker,” beskryf hy die oggend.


Daarna het die meisies ingespring en gehelp met die slaai vir die aand se geleentheid.

Willem stel vir Carissa en Sanel aan die gaste voo
Willem stel vir Carissa en Sanel aan die gaste voor.

Boer Willem, Carissa en Sanel het 'n piesangbrood as padkos gebak waarna hulle na die tee-aanleg gery het. Hier het Willem vir die twee meisies gewys hoe die tee gesif en die fyner en growwer tee van mekaar geskei word.

Gedurende die aand se kuier het hy vir sy familie en vriende gesê hy hoop hulle kry die meisies getem, want hy kon nog nie.

Niks is beter as om die dag met 'n koppie boeretroos te begin nie, voel boer Graham. Hy het 'n fles koffie gepak waarna hy saam met Ilne en Nikola deur die lande gestap het om die besproeingstelsel te inspekteer. Later het hulle die koffie langs 'n plaasdam geniet.

Ilne, Graham en Nikola op pad om ‘n koppie boeretr
Ilne, Graham en Nikola op pad om ‘n koppie boeretroos te geniet.

Die doel van die kuieraand was sodat die boere kon uitvind wat hul familie en vriende van hul moontlike pasmaats dink, sodat dit hulle met hul keuses kan help. Maar dit lyk nie of hul insette eintlik gehelp het nie!

Só voel die boere na episode 8:

Hentie: Jou kop sê een ding, en jou hart iets anders, maar ek luister maar na altwee. Ek ervaar in hierdie stadium wel vir Hester 'n klein bietjie meer warmer as vir Hantie.

Damian: Na die kuieraand voel ek daar is iemand wat bietjie uitstaan.

Theunis: Ek wil nie my hart oopmaak om uit te vind die ander persoon is net halfpad daar nie. Dit is maar uit vorige ervarings, is ek meer skugter. As dit 100% kom, sal ek 100% gee.

Willem: Voor hierdie dag was ek aangetrokke tot altwee dames, maar na die aand was daar een wat 'n bietjie meer uitgestaan het.

Graham: Ek is terug by sqaure one. Partykeer dink ek Nikola is die een, ander kere dink ek Ilne is die een. Dis 'n gevoel van magteloosheid, maar ook van baie opgewondenheid.