Hierdeur is geskiedenis gemaak, want dit het nog nooit gebeur dat drie boere van dieselfde dorp in die reeks se top-5 beland nie! Is daar iets in die water van Clanwilliam dat die boere daar so naarstiglik opsoek na liefde is? Of is dit weens ’n tekort aan dames dat hulle toe maar hul vangnette op nasionale TV wyer moes gooi?

Albert (25), die rooibos-, sitrus- en skaapboer wat Clanwilliam in die huidige seisoen verteenwoordig, lag uit sy maag toe Huisgenoot hom hieroor pols. Dis nou ’n goeie vraag, sê hy.

“Maar nee, ek dink ek is maar net te vol st****,” sê hy tong in die kies. “Maar eintlik het ek tog mos nou maar hierdie perfeksionistiese streep in my as dit by meisies kom!”

Boonop het hy ook ’n “gevaarlike sin vir humor”, soos hy dit stel. “Ek sal partykeer ’n grap maak oor ’n ernstige saak, net om die spanning te verlig.”

Hentie en Willem, die twee Clanwilliam-boere wat in seisoen 12 in kykers se harte ingekruip het, was boonop bure, en het albei as suksesverhale uit daardie seisoen gestap. Hentie en sy Hantie is nog dolverlief en Willem het in Julie verlede jaar vir sy Sanel die jawoord gevra.

“Ek dink dit is eintlik heel toevallig,” vertel Hentie oor Albert se deelname. “Ek ken vir Albert en ek dink hy het gesien watter sukses ek en Willem gehad het, en toe besluit om ook ’n kans te vat,” sê hy.

Hantie en Hentie woon en werk nou albei in Pretori
Hantie en Hentie woon en werk nou albei in Pretoria. Die paartjie is nog dolverlief. Foto: Corrie Hansen

Deesdae woon Hentie in Pretoria waar hy organiese rooibostee in die noorde van die land bemark. Sy geliefde Hantie het ook in Desember, ’n jaar nadat sy uit Pretoria getrek het om by hom in Clanwilliam te gaan bly, teruggetrek daarheen. 

“Ek kan nou nie vir jou sê of daar iets in die water in Clanwilliam is nie,” lag Hentie. “Dit is maar ’n klein plekkie. Daar is nie baie moontlikhede nie, so jy moet jou platform om vlerk te sleep ’n bietjie verbreed,” verduidelik hy.

Albert verklap dat ’n medeboer en vriend van hom in Clanwilliam reeds te kenne gegee het dat hy vir die volgende seisoen gaan inskryf.

Kykers het juis vanaand in die derde episode van die huidige seisoen van Boer soek ’n vrou gesien dat die dames nogal gaande is oor die vyf nuwe boere. 

Toe Shernica die vertrek binnestap waar Albert op haar wag vir hul blitsafspraak, het sy sommer met die sitslag in verwonderdering uitgeroep: “Jis, maar jy is mooi!” Sy het haar hand vinnig oor hand mond gesit en skaam begin giggel.

Uit vanaand se episode: Boer Albert lag te lekker
Uit vanaand se episode: Boer Albert lag te lekker toe hy gekomplimenteer word oor sy aantreklike voorkoms. Foto: Verskaf

Ronél het weer vir Kobus (53) van Randfontein gesê: “Sjoe, jy is mooier as mooi, hoor!”

Mieni het dieselfde oor Kobus ná hul ontmoeting gevoel. “Hy is aantreklik, ’n mens kan maklik op hom verlief raak,” was haar mening.

Kykers kon duidelik vanaand die opbou van die onderliggende spanning tussen al die deelnemers aanvoel, want volgende week moet die vyf boere elkeen drie meisies kies om by hulle op hul plase te gaan kuier.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe