Die top-5-boere van seisoen 13 van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou het in vanaand se episode elkeen drie dames gevra om hul tassies te pak. Maar nie om huis toe te gaan nie, wel om op die plaas te kom kuier!

In vanaand se episode: Déan en Marinel leer mekaar
In vanaand se episode: Déan en Marinel leer mekaar beter ken.

Die boere se keuses was: 

Richann: Annemien, Marizel en René 

Boer Richann. Foto: Donna Lewis

Kobus: Michellé, Lynette en Maxie

Boer Kobus

Albert: Mariska, Trudie en Marlia

Boer Albert. Foto: Donna Lewis

Déan: Megan, Marinel en Marné 

Niel: Sheri, Monique en Chereze 

Boer Niel. Foto: Donna Lewis

In vanaand se episode: Mariska is een van die drie
In vanaand se episode: Mariska is een van die drie meisies wat by Albert op sy plaas gaan kuier.

Agter die skerms

Boer Niel (33), die vrugteboer van Grabouw in die Wes-Kaap, sê dit was vir hom makliker om keuses te maak ná die blitsafsprake en uitstappie as wat die geval was toe hy aanvanklik slegs ’n foto en ’n brief gehad het om ’n mening te vorm.

“As jy iemand voor jou sien, kan jy daardie persoon se energie optel en haar menswees ervaar,” verduidelik hy toe Huisgenoot hom hieroor pols.

Maar hy sal altyd met gemengde gevoelens terugdink aan die dag toe vanaand se episode verfilm is. “Op die dag toe ek my keuses moes maak, was dit ook die roudiens van my suster Margaret se skoonpa, Baas Weideman, wat in September oorlede is. Ek ken hom al van my kinderjare af.”

Boer Richann (30), die skilderbokboer van die Vredefortdistrik in die Vrystaat, verklap dat hy die aand voor die blitsafsprake weer deur die briewe van sy aanvanklike 10 dames gegaan het.

“Maar toe ek hulle eers in lewende lywe ontmoet, was dit makliker om eers vyf en toe drie dames te kies. Dit is belangrik om te sien hoe elkeen hulself in ’n gespreksituasie hanteer.”

Boer Kobus (53), wat ’n gemengde boerdery in Randfontein, Gauteng, het, onthou weer ’n komiese voorval tydens die groepafspraak terwyl hy en sy vyf dames om die piekniektafel gesit en kuier het.

Die kameraspan het op dié dag gesukkel met agtergrondgeluide toe daar onverwags ’n vliegtuig met ’n groot geraas oor hulle vlieg. Kobus het opgespring en met sy hande in die lug op die vliegtuig geskreeu: “Gaan weg, gaan weg!”

“Skielik los een van die kameramanne alles en hardloop weg, en ons almal bars uit van die lag!”

In vanaand se episode: Kobus maak sy keuses bekend
In vanaand se episode: Kobus maak sy keuses bekend.

 Raad

Dit is belangrik om van die begin af te weet wat jy in ’n maat wil hê, is Toanette Els se raad aan die boere wat nou keuses moet maak. Kykers was gaande oor haar toe sy in 2018 in die 11de seisoen van Boer soek ’n vrou die eerste vroulike boer geword het wat dit tot die top-5 gemaak het.

“Jy ontmoet so baie mense op een slag en partykeer kyk jy goedjies mis. Maar as jy presies weet wat jy in ’n maat wil hê, dan sal jy fine wees. Jy moet ook van die begin af jouself wees. En die ander deelnemers moet ook van die begin af presies weet wat jou waardes en standaarde is.”

Toanette sê dit is maklik om voor die kameras iets anders voor te gee as wie jy werklik is, maar wanneer die program verby is, dan ken jy nie meer daardie persoon nie.

Sy is glad nie spyt dat sy aan die reeks deelgeneem het nie, vertel sy. “Dit was ’n wonderlike ervaring. Jy ontmoet baie mense en jy maak wel vriende. Ek het baie goeie vriende met van die ander boere geword.”

  • Boer soek ‘n vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.