Nou is Brümilda binnekort weer in ’n splinternuwe kykNET-komedie te sien.

Die reeks heet Lui maar op, Belinda en sal vir 13 weke elke Maandag vanaf 8 Julie om 20:30 op kykNET te sien wees.

“Die teks is werklik goed en ek sien Lui maar op, Belinda as ’n drama met ligte oomblikke eerder as ’n tipiese TV-komedie,” sê Brümilda (62).

Die reeks speel af in George in die Wes-Kaap by ’n algemene handelaar, Ian en Ander, waar kykers verskillende kleurvolle karakters sal ontmoet. Die reeks begin waar die nuweling, Wian Taljaard, se karakter, Dirkie, as hoof van sekuriteit by die klein hoekwinkeltjie aangestel word.

Dit is hier waar ons vir Belinda en haar kollegas ontmoet: Annetjie, wat deur die 7de Laan-aktrise Annelisa Weiland vertolk word, en Frans, wat deur die gesoute Eric Nobbs gespeel word.

Annelisa Weiland
Annelisa Weiland is as Annetjie te sien. Foto: Verskaf.

“Ons het baie pret! Van meet af aan was daar ’n gemaklikheid onder ons en dit voel nog soms onwerklik dat ons almal nou die geleentheid kry om teenoor mekaar te speel,” vertel sy oor haar tyd op die stel saam met Annelisa en Eric. 

“Die program is tans in produksie. Ons het vroeg in Mei by Atlantic Studios in Milnerton begin skiet en sal tot middel-Junie aan die woeker wees,” sê Brümilda.

Die karakter Belinda Swanepoel was in die laat 60’s 'n skoonheidskoningin. Ná haar tweede Mej. Struisbaai-titel is sy deur 'n obskure filmmaker opgeraap en het sy in ‘n rits prikkelfilms verskyn, vertel sy oor haar rol as die sosiale vlinder. “Belinda is ook 'n aktrise, maar haar drama-loopbaan het natuurlik 'n ander (en korter) paadjie as myne gestap,” verklap sy oor haar karakter. 

Eric Nobbs
Eric Nobbs speel die rol van Frans. Foto: Verskaf.

Brümilda weet nog nie wat die toekoms vir haar inhou nie, maar is baie opgewonde om weer op die kassie te wees. “Albei genres is harde werk en verg deeglike voorbereiding,” vertel sy oor verskille tussen Binnelanders en die produksie waaraan sy nou werk.

’n Sepie gebruik die multi-kamera-tegniek, en dit verg 'n spesifieke styl en posisionering van die akteur, maar met Lui maar op, Belinda speel ons teenoor een kamera wat jou weer op ander maniere uitdaag en ’n heel ander gevoel vir die akteur en kyker skep,” verduidelik sy. En vir ’n slag kry sy die geleentheid om in Kaapstad te werk, wat altyd 'n plesier is, voeg sy by. 

Lui maar op, Belinda
Die rolverdeling van links na regs: Duncan Johnson, Carmen Maarman, Wian Taljaard, Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland en Eric Nobbs. Foto: Verskaf.

“Ek is versot op die medium en om die stories te vertel, en ek sal definitief nog vir televisie skryf. Ek dink skryf is in hierdie stadium ’n groter passie vir my as wat toneelspel is,” het Chris Vorster onlangs in ’n onderhoud aan Huisgenoot gesê.

Chris, wat beter bekend is vir sy rol in 7de Laan as Ryno Lategan, en tans in die riller Die Spreeus te sien is, is die reeks se hoofskrywer. Die jong skrywer Marcel Spaumer, wat met die storie-idee vorendag gekom het, en Desiré Gardner, albei van Suidooster-faam, is saam met die verhoogakteur Wessel Pretorius, ook op die skrywerspan.

Chris Vorster
Chris Vorster is die hoofskrywer van Lui maar op, Belinda en doseer nou aan die Universiteit van die Vrystaat. Foto: OJ Koloti.

“Ek wou meer leer, veral oor skryf, want skryf is iets wat ek kan doen as ek eendag nie meer kan loop nie,” het Chris onlangs gesê.

Die reeks sal ook ’n paar bekende gesigte soos Marion Holm, Denise Newman, Therese Bam en Hannes van Wyk in gasrolle hê.

“Die sêding dat ’n mens nooit te oud is om te leer nie, is nie om dowe neute daar nie. Ek kry inspirasie van almal saam met wie ek werk – of hulle nou ervare of nog nuut in die bedryf is – ons is almal ’n span met ‘n gemeenskaplike doel voor oë en dit is om van hierdie reeks 'n sukses te maak,” vertel Brümilda.