Dié keer pak hy nie oorsese roetes aan soos in die vorige seisoene toe hy die Camino in Spanje gestap en Japan verken het nie. Vir sy jongste staptog het hy die plaaslike Pelgrimstog van Hoop aangepak, wat ses jaar gelede deur die teoloog Frederick Marais uitgelê is.
“Die Pelgrimstog van Hoop was beslis ’n lewenshoogtepunt. Ek het die voorreg gehad om al wyd te reis én te stap, maar hierdie was werklik ’n tuiskoms om hier in die Wes-Kaap ’n wonderlike roete onder baie uitdagende omstandighede te stap,” vertel Erns. Hy was sommer opnuut weer betower deur Suid-Afrika se natuurskoon, gasvrye mense en boeiende stories en geskiedenis.
“Ek het tydens hierdie reis besef hoe kosbaar Suid-Afrika se erfenis is, hoe ons mense oor grense heen kan saamstaan en ’n verskil maak. Ek voel opnuut verbind tot hierdie kontinent. En dat lank en ver stap dikwels die beste medisyne is vir liggaam en gees,” sê hy.
Erns se jongste staptog het by sy huis in die Kaapse woonbuurt Brooklyn begin en sowat 26 dae en byna 370 km later in Kaap Agulhas, die suidelikste punt in Afrika, geëindig.
Met dié dat hy ’n bietjie langer op ’n paar dorpies gekuier het, was 18 van dié dae stapdae en het hy soms tussen 18 en 20 km per dag gestap.
“Die grootste uitdaging was beslis om seker te maak ek en die kameraspan – ons was vyf in totaal – kan die reeks skiet in wat toe die episentrum van die virus was, sonder om covid-19 op te doen,” verduidelik Erns.
“Ons het die projek met groot onsekerheid begin en daar was geen waarborg dat ons veilig gaan wees nie, veral nie met infeksies wat toe nog stewig op pad na ’n piek was nie. Maar ons het al die regulasies en protokol gevolg en die basiese dinge gedoen soos gereeld hande was en sanitiseerders byderhand hou, die dra van maskers en sosiale distansiëring.”
Die kameras het in Junie, op die dag dat die inperking na vlak drie verlaag is, begin rol.
“Op die Camino in Spanje is daar op enige gegewe dag honderde medepelgrims wat elk teen sy of haar eie pas stap, en daar is lekker spontane interaksies en kuiers,” vertel Erns. “Die grootste verskil was dat ek dié keer die enigste pelgrim was wat in Junie hierdie roete gestap het.”
Omdat hy die roete alleen moes aandurf, is besluit dat ’n hele paar bekende gaste dele van die staptog saam met hom sou aandurf.
“Sommige gaste, soos HemelBesem, Dave Pepler en Lynelle Kenned, moes ver reis om by ons aan te sluit langs die roete,” vertel Erns.
“Dit was vir my ’n groot voorreg om dele van die Pelgrimstog van Hoop saam met mense te stap wat my inspireer en vir wie ek baie respek het,” sê hy.
“Kabous Meiring het my buite Franschhoek herinner dat niemand ’n risikovrye lewe kan leef nie. En dat ons as Suid-Afrikaners gemaak is om ons vele uitdagings te hanteer. Ek en Dana Snyman het buite Villiersdorp gesels oor sy wonderlike Swarthond-projek wat help om die stigma oor depressie en selfdood te breek,” verklap Erns.
“Die ekoloog Dave Pepler se sonderlinge vermoë om ’n plantjie in ’n stuk natuurlike veld te wys en die wetenskap dan met die letterkunde en filosofie te verbind sal my lewenslank bybly,” vertel hy.
- Elders: Pelgrimstog van Hoop begin op Woensdag 30 September om 20:00 op kykNET.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET