Die trane het behoorlik gevloei toe Deidré dié week Die Kontrak tydens die uitklopkonsert verlaat het.

Haar laaste optrede was ’n weergawe van Riana Nel se liedjie Die Moeite Werd, en nes die lirieke van dié liedjie lui, was haar reistog op die program wat nou ten einde geloop het ook die moeite werd.

“Eers het ek ’n brawe masker opgesit,” vertel sy oor die oomblik toe sy hoor dat sy die een is wat die program gaan verlaat.

“Maar toe ek agter die verhoog kom, het ek in trane uitgebars. ’n Mens is net so teleurgesteld; dis so ’n groot droom – en jy droom soveel jare daaroor. Om daardie droom dan so amper te verwesenlik, maar dan die program moet verlaat, is baie hartseer.

“Ek móés daaroor huil. Maar as ek nou terugdink, het ek vrede in my hart. Ek kan nie die Here se wil vir my lewe bevraagteken nie . . . Ek weet groot dinge is steeds vir my bestem, al was dit nie Die Kontrak soos ek gehoop het nie.”

Sy is spyt oor niks nie, vertel Deidré, selfs al was haar stem ook krapperig tydens die laaste konsert.

“Ons almal op daardie verhoog baklei ewe hard vir ’n loopbaan in musiek . . . Maar Demi-Lee en Ivan [die toptweedeelnemers] baklei al net so ’n klein bietjie langer. My tyd sal kom; ek weet dit sal.”

Selfs al verlaat sy ook die program, staan sy steeds in verwondering dat sy wel die topdrie gehaal het, veral omdat sy so ampertjies nie vir die werklikheidsreeks ingeskryf het nie.

“Ek doen alles altyd op die laaste nippertjie,” terg sy.

“Dus het ek amper nie hierdie geleentheid van ’n leeftyd gekry nie. Ek het die aand voor die inskrywings gesluit het eers my video’s ingestuur. Dewald Wasserfall, my mentor, het nog so ewe vir my gesê my inskrywing is amper misgekyk. Ek is bly dit was nie – dit was ’n geleentheid wat my in elke opsig gevorm het.”

Op net 16 jaar oud skryf dié kranige jong sangeres reeds haar eie liedjies.

Boonop is sy vanjaar reeds besig om haar matriekeindeksamen deur afstandsonderrig te voltooi – en daarna wil sy al haar energie op musiek fokus.

View this post on Instagram

i don't think i'm this or that,but i'm all me - Eazy E

A post shared by D E I D RÉ (@deidrebarnarddd) on

“Die Kontrak het my soveel van myself en van die bedryf geleer. Ek kon nie vir ’n beter mentor as Dewald vra nie . . . Ek voel ná die reeks nog meer ywerig om my drome te bewaarheid. Ek is nou sterker, wyser, ek weet meer van musiek en die nuanses van ’n optrede as voorheen. Ek gaan met alle mag my drome najaag,” vertel sy.

Deidré beoog om reeds in 2019 ’n enkelsnit bekend te stel, sê sy. Boonop wil sy sommer gou by feeste landwyd op die verhoog wees.