1. Desember

Drama. Die Burgerseuns pak vir Kersfees by hul ouers af, maar dinge raak gou krapperig. Die spanning loop hoog toe Ingrid (Juanita de Villiers) se skoonma, Nanette (Henriëtta Gryffenberg), haar oor haar in vitro-behandelings uitvra.

Francois (Jacques Bessenger) vind ’n swangerskapstoets en Dawid (Reynard Slabbert) loop ’n ou liefde (Leandie du Randt Bosch) raak.

SONDAG 20 JANUARIE 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

2. Stille Nag

Drama. Marius Weyers en Sandra Prinsloo, wat saam in die drama Twee Grade van Moord te sien was, speel weer ’n paartjie in dié TV-fliek oor ’n gesin, die Van der Hovens, wat in twee kampe verskeur is.

Oukersaand is hul seun Gerhard (Luan Jacobs) nog nie tuis nie omdat hy in hegtenis geneem is oor sy betrokkenheid by die vryheidstryd in Suid-Afrika.

SONDAG 27 JANUARIE 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

3. Vat ’n Kans

Romantiese komedie. Die 32-jarige Lisa (Nastassja Pretorius) is die produksiebestuurder van Vat ’n Kans! – ’n werklikheidsreeks vir loslopers wat liefde soek.

Sy self is ongelukkig wanneer dit by die liefde kom. Dan steel een van die deelnemers, Christo Dippenaar (Stefan Vermaak), ’n sjarmante jong boer, haar hart. Ook met Amalia Uys en Angelique Gerber.

SONDAG 3 FEBRUARIE 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

4. Boesman, My Seun

Drama. Ná sy ma se dood konfronteer ’n seun sy outokratiese pa wat gereeld sy wil op hom afdwing. Vir sy pa is die oorlewing van “die volk” sy dryfveer, maar sy seun is anders ingestel en rebelleer teen sy verstikkende omgewing.

Dié drama is uit die pen van Deon Opperman, wat in 2006 met die Hertzogprys vereer is. Met Marius Weyers, Gustav Gerdener en Kaz McFadden.

SONDAG 10 FEBRUARIE 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

5. Bottervisse In Die Jêm

Romantiese drama. Dié fliek is gegrond op Deon Meyer se kortverhaal. Stiaan Smith speel ’n siniese kunstenaar, Christo Nienaber, wat ’n nuwe lewenslus ontdek.

Sy gebroke wêreld word op sy kop gekeer toe die wysneusseuntjie Buks Barnard (Dirk Jacobs) ongenooid by sy tuisateljee opdaag. Ook met Nadia Valvekens en Leandie du Randt Bosch.

SONDAG 17 FEBRUARIE 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

6. Playboyz

Komedie. Vyf vriende sit elk met sy eie probleme. Onder hulle is Sean (Deànré Reiners), ’n rykmanskind wat sy studie opskop en onterf word; en die aspirantrugbyspeler Ryno (Arno Greeff), wie se eksmeisie hom dagvaar vir meer onderhoudsgeld vir hul seuntjie.

Die klomp besluit dan om op ’n vreemde manier geld in te samel. Ook met Stefan Ludik.

SONDAG 24 FEBRUARIE 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

7. Aantrekkingskrag

Drama. Prof. Zak de Villiers (Johan Scholtz), ’n wiskundige en kosmoskenner, en sy vrou, Leonor (Franci Swanepoel), gesels in hul sitkamer ná ’n studenteopvoering van hul seun se produksie van Hamlet. Zak het die regisseur en hoof van die dramadepartement, Martin (Gustav Gerdener), genooi vir ’n drankie.

Dié was voorheen getroud met sy vrou se suster – vir wie Leonor ook genooi het. Martin daag dan op met sy nuwe stukkie, die jeugdige Suzzi (Nastassja Pretorius).

SONDAG 3 MAART 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

8. Die Skandaal

Komedie. ’n Oorlog in die kleine breek uit toe die eksentrieke Josie (Neil Sharim) ’n patio by sy huis op ’n landgoed wil bou en die beheerliggaam dit afkeur. Met behulp van sy broer, Hardus (Viljé Maritz), neem hy wraak en saai amok. Die Skandaal is deur Deon Opperman, Lizz Meiring, Hannes Meiring en Eric Nobbs geskryf.

SONDAG 10 MAART 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

9. Droomman

Romantiese drama. Liza is ’n bibliotekaresse. Op ’n dag kom ’n vreemdeling, Adam, na die biblioteek en dadelik is daar ’n vonk tussen hulle.

Hy kom elke dag terug, en ’n verhouding sonder woorde groei tussen hulle. Maar eendag ontdek Liza wat in sy verlede skuil. Met Charlenè Brouwer en Armand Aucamp.

SONDAG 17 MAART 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

10. Draadloos

Komedie. Die aktrise van Hotel en Nommer 37 Sandi Schultz is Miriam, die pastoor van ’n klein kerkgemeenskap wat na afloop van ’n erediens deur ’n onverwagte besoeker van Kaapstad genader word. Dié wil die gemeente se kerkdiens op ’n nasionale radiostasie uitsaai.

Miriam en die kerkraad is eers skepties, maar gryp dan die geleentheid aan. Ook met Shaleen Surtie-Richards en Solomon Cupido.

SONDAG 24 MAART 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.


11. Oorlewing C-Blok

Romantiese drama. Pietie Beyers en Leandie du Randt Bosch speel twee jong mense, Daniël en Klara, wat in dieselfde woonstelblok bly. ’n Eksentrieke hawelose vrou, Denise (Elize Cawood), smous daar weggooigoed uit ’n winkeltrollie.

Denise se ryke lewenservaring het ’n ingrypende invloed op die twee. Gegrond op die radiodrama deur Erica Harris.

SONDAG 31 MAART 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

12. Soek Jy ’n Lift

Komedie. Dis liefde met die eerste oogopslag toe Frannie (Adam Heyns) en Carmen (Mila Guy) mekaar ontmoet. Binne maande vra hy die jawoord.

Ná hul droombruilof kom hulle giggelend by die hotel aan vir hul huweliksnag. Maar dan word hulle vasgekeer in die hysbak.

SONDAG 7 APRIL 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.

13. Die Dag Is Bros

Drama. Elsa (Franci Swanepoel), voorheen ’n lektor in die Afrikaanse letterkunde, berei ’n driegangmaaltyd vir Brian (Suidooster se Dean-John Smith) se verjaardag. Hy was ’n jeugmisdadiger wat ’n tweede kans onder Elsa se vlerk gegun is.

Daar word speletjies gespeel saam met Tertius (Kaz McFadden) – ’n vreemde kind wat kersiebloeisels aandra uit Japan. Maar die dag neem ’n aangrypende wending nog voor die kos kan koud word.

SONDAG 14 APRIL 20:00

Deon Opperman
Foto: Verskaf.