ANDAHR COTTON

Andahr Cotton speel Adam Prins-loo in Spoorloos 2:
Andahr Cotton speel Adam Prins-loo in Spoorloos 2: Heksejag. Foto: kykNET/Sean Brand

Andahr (23) was verlede jaar in Netwerk24 se eerste aanlyn blitssepie, Die testament, as die rebelse Jacques te sien.

In die tweede seisoen van die dramareeks Spoorloos vertolk hy die hoofrol van Adam Prinsloo, wat die aand van sy matriekafskeid in ’n ongeluk is.

Hy skrik 18 maande later uit ’n koma wakker, maar het geheueverlies en moet dan die legkaartstukke in mekaar probeer inpas.

Jy was al te sien in reekse soos Die spreeus en Dwaalster. Hoe was dit om jou eerste hoofrol op TV te vertolk?

Dit was ’n uitdaging, een waar ek my eie grense as mens moes verbreed om die karakter te speel. Dit is wat kuns is; om ’n deel van jouself vir jou kuns op te offer.

Toneelspel is ’n spansport, en ek het met behulp van my regisseurs en medeakteurs die karakter se paadjie gevind.

Vertel ons meer oor jou karakter, Adam.

Hy is ’n jong man sonder ’n verlede. Sy vasbeslotenheid dryf die storie sodat hy sy identiteit kan aanmekaarsit. Op hoërskool was hy die golden boy, sjarmant, sportief en goed in akademie. Adam moet verby die leuens kyk om homself te vind.

Die akteur Andahr Cotton vertolk die hoofrol in di
Die akteur Andahr Cotton vertolk die hoofrol in die nuwe seisoen van Spoorloos. Foto: kykNET

Wat het jy die meeste van die rol geniet?

Adam as tiener was die teenoorgestelde van my op hoërskool – hy was vol vertroue en sjarme. So dit was bevrydend om daardie vryheid te kon speel, daardie soort jong roekeloosheid waar jy voel jy die wêreld kan aanpak.

Daardie vryheid het my baie geleer, en ek het dit geniet om iemand te speel wat so ver verwyder was van my as jong tiener.

Wou jy nog altyd ’n akteur wees?

Ek het op skool die passie gevind deur tienertoneel te doen. Ek het drama op hoërskool as vak geneem en besef dis die enigste ding wat my passievol maak. Ek is baie gelukkig om ’n familie te hê wat my aanmoedig om my drome na te volg. 

Jy het ’n dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Verkies jy teater bo televisie?

Teater vorm die grondslag van toneel. Dis vir ’n akteur soos jou huis, iets waarheen jy altyd sal terugkeer. Maar my liefde vir toneelspeel maak nie dat ek die een bo die ander verkies nie.

5 dinge wat jy oor Andahr moet weet

  • Andahr is op Stilbaai aan die Kaapse Suidkus gebore en het op Somerset-Wes buite Kaapstad grootgeword. Hy is sy ouers, wyle Richard en Bianca, se oudste kind. Hy het ook ’n jonger suster, Azarah (21).
  • Die Hollywood-ster Leonardo DiCaprio is een van sy grootste inspirasies. “Die manier waarop hy van ’n jong ouderdom af rolle aanpak, is verstommend. Sy veelsydigheid, sy energie op die skerm, sy toewyding en ook hoe hy teen aardverwarming veg, inspireer my.”
  • Mense sê gereeld vir hom hy lyk soos die ontslape Australiese akteur Heath Ledger. Heath was onder meer bekend vir sy rol as die Joker in die Batman-fliek The Dark Knight (2008).
Foto: Getty Images/Gallo Images/Instagram/Warner B
Foto: Getty Images/Gallo Images/Instagram/Warner Bros. Pictures

  • Hy is ’n sokkerliefhebber en “lief vir die see en bodyboarding”.
View this post on Instagram

Buffels bay surf #bodyboarding #buffelsbay

A post shared by Andahr Cotton (@andahr_cotton) on

  • As hy nie ’n akteur was nie, sou hy graag dokumentêre flieks wou maak. “Ek sou wou reis en stories vertel wat gehoor moet word,” vertel Andahr. “Dis my passie, en dit hou my honger vir die volgende projek. Ek het ook my oom gehelp aan sy huis bou, en ek lag daaroor, want ek voel die praktiese werk het my beslis sane gehou.”

LEE VISAGIE

Lee Vi­sagie speel ’n fisioterapeut in Spoorloos.
Lee Vi­sagie speel ’n fisioterapeut in Spoorloos. Foto: kykNET/Sean Brand

Lee (27) is veral bekend vir haar rol as Anja Lategan in die SABC3-sepie Isidingo, wat in Maart tot ’n einde gekom het. In Spoorloos: Heksejag speel sy die fisioterapiestudent Christa, wat ook Adam se liefdesbelangstelling is.

Wou jy nog altyd ’n aktrise wees?

Ek wou dit nog altyd doen. Ek het al op vier jaar oud in ons kerktoneelstukke toneelgespeel.

Of dit nou voor die TV, langs die swembad of op ’n verhoog was, perform het ek perform.

Wanneer jy ouer word, kom daar ander beroepsrigtings, maar drama was altyd een van die opsies.

Vertel ons meer van jou karakter, Christa.

In ’n toneel uit Spoorloos. Foto: kykNET
In ’n toneel uit Spoorloos. Foto: kykNET

Sjoe! Wat ’n ongelooflike karakter.

Sy is ’n sterk jong vrou wat nie bang is om vir haarself op te staan nie. Sy is ook nie bang om haar sê te sê as sy nie met iets saamstem nie.

Christa is besig om fisioterapie te studeer wanneer sy in Adam Prinsloo se hospitaalkamer instap, waar sy werk.

Dis hier waar iets omtrent Adam vir Christa aanlok en waar hul storie begin. Dit was ’n eer en ’n voorreg om haar te kon speel.

Sy is passievol oor mense en gee baie van haarself aan ander.

Gérard Rudolf en Elma Postma was jou TV-ouers in Isidingo. Hoe was dit om weer saam met hulle te werk aan Spoorloos?

Toe ek hoor dat ek weer die kans gaan kry om saam met albei van hulle in dieselfde reeks te werk, was ek buite myself van opgewondenheid.

Sy en Elma Postma het dogter en ma in Isidingo ges
Sy en Elma Postma het dogter en ma in Isidingo gespeel en speel nou weer teenoor mekaar. Foto: Instagram/@just_lee636

Dit het gevoel soos ’n mini-familiereünie omdat hulle my ouers gespeel het in Isidingo.

Dit was so lekker juis omdat ons mekaar ken, en daar was ’n gemaklikheid tussen ons.

Wat is jou droomrol?

Ek sal graag in ’n fliek wil speel. Dalk met komedie as genre.

Bloot omdat ek dink dit ’n uitdaging sal wees omdat ek nog nooit so iets gedoen het nie en ek weet komedie is nou nie juis die maklikste om te doen nie. Dit klink dalk soos ’n cliché, maar vir my is elke rol wat ek kan speel ’n droomrol.

Die werk wat ons doen, is so kosbaar en ’n mens moet elke oomblik koester, want dis nog ’n kans om iemand se storie te kan vertel en ek dink dis beautiful.

Jy het ’n dramagraad en het al teaterwerk gedoen. Wat geniet jy van jou werk?

Wat ek die meeste van teater geniet, is die proses en groei wat onder die geselskap plaasvind tydens die repetisieproses, wat weke kan duur.

Dis waar ’n mens bloed, sweet en soms letterlik trane insit.

’n Band vorm tussen julle terwyl die teks, karakters en produksie groei. Televisiewerk is ’n ander soort lekker.

Daar is die pas aansienlik vinniger. Wat ek die meeste geniet, is die band wat onder die geselskap en produksiespan vorm, maar ook die feit dat dit meer intiem is. Omdat die kamera reg voor jou gesig kan wees, word elke bietjie rou emosie gesien. Elke lagplooi, bewe in jou lip en traan teen jou wang word gesien. 

5 dinge wat jy oor Lee moet weet

  • Lee kom oorspronklik van Pretoria en het aan die Hoërskool Garsfontein gematrikuleer. Sy het in 2013 ’n graad in drama aan die Universiteit van Pretoria verwerf en woon steeds in dié stad.
  • In haar vrye tyd geniet sy dit om met grimering rond te speel. Sy deel gereeld video’s van haar grimeringtransformasies op haar YouTube-kanaal.

  • Sy is die oudste van haar ouers, Deonette en Phillip, se twee dogters. Sy het ook ’n jonger suster, Caelen (25).
  • Lee is in 2018 met haar man, Leander Boshoff, ’n tegniese projekkoördineerder, getroud.

  • Tydens die inperking het sy nie op haar louere gerus nie. Sy was bedrywig. Sy was hard aan die werk met planne vir ’n slypskool vir vrouebemagtiging wat sy by skole, sakeondernemings en vroueoggende wil aanbied. “Ek het ook aan ’n dramakursus gewerk wat ek graag in Augustus wil bekendstel,” sê Lee.

SPOORLOOS: HEKSEJAG IS DINSDAE om 20:00 OP KYKNET.