Welkom by Binnelanders

Kim het onlangs haar buiging in die kykNET-sepie Binnelanders gemaak as dr. Jax Davids, ’n algemene praktisyn wat in ’n hospitaal in die Kongo gewerk het. Sy is nou terug in Pretoria ná al die drama in Afrika.

Haar grootste bekommernis is dat dr. Deon Visser (Pietie Beyers) se toestand nie verbeter nie.

Kim en Clint Brink (Steve Abrahams) in ’n toneel uit dié sepie. Foto: Instagram/@KykNet

Danny Jantjies (Bradley Olivier) is ’n welkome afleiding vir Jax, wat haar weer in die stad moet vestig nadat sy so lank in die “bos” gepraktiseer het.

“Ek en Jax het baie gemeen: Ons is albei sterk vroue en maak nie ’n moordkuil van ons hart nie. As ons ’n ding wil sê, sê ons dit,” vertel Kim (30).

Haar karakter is baie impulsief en beland gereeld in die sop daaroor, vertel sy.

#JaxWie

A post shared by Kim Syster (@kimmikaykay) on

“Dit, en die feit dat sy nie bang is om haar mond oop te maak nie, sal nog vir baie drama sorg.”

Steek oral kop uit

Dié boorling van die Wes-Kaapse dorpie Mamre woon tydelik in Johannesburg terwyl sy aan Binnelanders verfilm.

Kim is geen groentjie op die kassie nie. Sy is al sowat 11 jaar in die vermaakbedryf en het al in dramareekse soos Erfsondes en Sterlopers gesig gewys.

Sy is ook later vanjaar in die nuwe kykNET-dramareeks Spoorloos te sien as die aspirantjoernalis Sonja Landman.

“Dit was ’n lekker rol, want die karakter is ambisieus en probeer ’n storie oopvlek, wat dit spanningsvol gemaak het. Sy is verstrooid, maar probeer steeds hard om haar werk te doen.”

Vele gesigte

Sy het al op 10 besluit sy wil eendag ’n aktrise word, vertel Kim. Sy het in 2005 aan die Hoërskool Parow in die Kaap gematrikuleer en toe toneelspel aan CityVarsity studeer.

Sy het die een oudisie ná die ander afgelê voor sy haar eerste rol losgeslaan het in die Amerikaanse fliek van 2013 Death Race 3: Inferno, wat in die Kaap verfilm is.

“Ek het teenoor Danny Trejo gespeel. Ek was ’n verpleegster en Danny se karakter se stukkie,” vertel sy.

“Daarna het baie harde werk gevolg tot waar ek vandag ’n dokter in Binnelanders speel.”

Sy raak nie sommer opgewonde oor sterre wat sy ontmoet nie. Tog bieg sy: “Ek kan dalk net flou val as ek Marc Lottering ontmoet.”

En wie is Kim tuis?

Wat jy sien, is wat jy kry, sê sy. “En ek is die gelukkigste in ’n kombuis.” In haar vrye tyd kook sy en kyk werklikheidstelevisieprogramme. “Ek sou beslis meel in die oë van die deelnemers van The Great Bake Off kon skop,” skerts sy.

Liefde en familie

Jammer, manne, dié beeld­skone aktrise is reeds gevat.

Sy is al byna vier jaar lank getroud met Chris Lategan (31), wat ’n slaghuis op Mamre besit. “Hy is my beste vriend en iemand wat my veilig laat voel en my motiveer om my drome uit te leef,” koer sy.

Kim en haar man, Chris Lategan. Foto: Instagram/@KimSyster

Hy woon in hul huis op Mamre terwyl sy tydelik in Johannesburg aan Binnelanders skiet.

Haar ma, Yvonne (54), is haar grootste inspirasie. “Ons twee kan oor enigiets praat, en ons het nie geheime vir mekaar nie.”

Sy is die enigste drama queen in die gesin, spot Kim.

Counting down the seconds ?? #ManCrush all day every day!!! #MCM #MCE ??????

A post shared by Kim Syster (@kimmikaykay) on

Haar ma lei gr. R-onder­wysers op, haar jonger broer, Kewan (25), doen sy vakleerlingskap by Transnet en haar pa, André (58), werk in die boubedryf as ’n kontrakteur. 

Kim sê

  • Ek ly erg aan hoogtevrees.
  • As ek enige land in die wêreld kon besoek, sou dit Italië wees – vir die wyn, kos en kultuur.
  • Ek hou daarvan om PlayStation-videospeletjies saam met my man en broer te speel.
  • Ek het eers verlede jaar leer swem met die verfilming van Deep Blue Sea 2.
  • Ek kan verbasend goed braai.
  • Ek hou baie van brei, maar kan net ’n serp brei.
  • Ek wou nog altyd ’n aksieheldin wees soos Angelina Jolie in Tomb Raider.