Claudia Jones
Claudia Jones. Foto: Willem Botha

SEPIESTER

Claudia (28) het in 2018 in die kykNET-sepie Getroud met rugby die rol van die ambisieuse jong aspirantaktrise Candice Johnson begin vertolk. Destyds het nog ’n deur in Candice se gesig toegeklap, onthou Claudia.

“Sy het ’n oudisie nie gemaak nie en sy het regtig gevoel sy is vir meer bedoel – sy kan nie net ’n ekstra wees in ’n advertensie nie.” Dis juis om dié rede dat Claudia soveel aanklank by Candice vind.

View this post on Instagram

A post shared by Getroud met Rugby (@getroudmetrugbytv)

“My droom is om baie groter te wees as wat ek nou is. Ek wil groei en mense wys waartoe ek in staat is.” Haar karakter, Candice, het intussen liefde gevind by die rugbybreker Liam (David Johnson), maar hul huweliksbootjie het onlangs begin wankel toe haar oog begin dwaal en sy hom verkul het.

“As Candice dink ek die verhouding gaan hou,” sê Claudia. “Sy is baie oortuigend, en sy weet hoe om op haar knieë te gaan en te smeek vir wat sy wil hê.”

HAAR HARTSMENSE

Claudia het in Westbury in Johannesburg grootgeword as die oudste van drie kinders. Sy woon in haar ouerhuis saam met haar ma, Corinne (49), haar pa, Clifton (54), en jonger broers, Cameron Kith (27), ’n persoonlike afrigter, en Kingsley (22), wat by ’n IT-maatskappy werk. Haar ma is deesdae ’n voltydse huisvrou en haar pa ’n administratiewe klerk by ’n poskantoor.

“My broers is soos my beste vriende, en hulle bring altyd die goeie in ’n slegte situasie in,” sê sy. Haar gesin spoor haar aan om buite haar verwysingsraamwerk te dink.

“Westbury is maar bekend vir dwelmoorloë en bendegeweld. Dit is ’n groot prestasie om iets van jouself te maak as jy uit Westbury kom. Dit is amper asof daar nie ’n ingesteldheid is om iets te word nie.”

’N AKTRISE WORD GEBORE

Claudia het aan die Laerskool Bernard Isaacs haar liefde vir die verhoog ontdek. Sy het in 2010 aan die Nasionale Skool vir die Kunste gematrikuleer en ’n jaar later sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg gaan studeer.

“Ek het nog nie graad gevang nie; aan die einde van my tweede jaar het ek met opvoedingsteater begin saam met die 7de Laan-aktrise Nazli George.”

Maar sy glo sy is bestem om ’n sielkundige te word.

“Ek is eintlik meer iemand wat luister as iemand wat praat.”

Tog het Claudia net ná hoërskool tot in 2017 by Kofifi FM, ’n gemeenskapsradiostasie in Westbury, gewerk.

“Ek het onlangs weer begin met radio op RSG, waar ek in een van hul verhale, Goue koors, betrokke was,” vertel sy. Goue koors speel af in die Tankwa-Karoo en gaan oor Paul Kruger se verlore goue ponde.

“Radio en klankopnames is vir my die lekkerste, want niemand kan sien hoe jy lyk nie. Die druk is weg om goed te lyk.”

Claudia Jones
David Johnson en Claudia Jones in ’n toneel uit Getroud met rugby. Dié twee het kykers geskok toe hulle besluit het om ’n saamwoon-ooreenkoms aan te gaan. Nou bereik hul huwelik ’n nuwe uitdaging. Foto: KykNET

CLAUDIA VERTEL

Sy kon haar naam aanvanklik nie verdra nie.

“Mense het my altyd ‘Gloria’ genoem, en toe hou ek glad nie daarvan nie. Dit het my jare lank afgesit. Ek het eers aan die einde van hoërskool my naam en van saam as ’n eenheid begin waardeer.”

Sy het tydens haar laerskooldae haar televisiedebuut in die SABC1-program Soul Buddyz gemaak. “Ek kan nie eens die naam van my karakter onthou nie, so lank gelede was dit, maar alles was wonderlik op die stel.”

Claudia is tans enkellopend. “My perfekte man is iemand wat emosioneel sterker as ek is, wat snaaks of ’n goeie sin vir humor het en wat lojaal is.” Haar groot bederf is kos. “Ek is mal oor kos en om te gaan uiteet.”

Haar grootste obsessie is seep. “Ek is gek oor seep. Op enige plek waarheen ek gaan, gaan ruik ek die seep of gaan toets ek dit in die badkamer.” 

  • Getroud met rugby is weekdae om 18:00 op kykNET.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe