Iets aan die blondine in die kollig op die verhoog lyk bekend. Dis in daardie golwende hare, vol mond, sensuele lyftaal en smeulende vroulikheid. Sowaar, sy’s die ene Marilyn Monroe . . .

Maar toe die jong sangeres die mikrofoon lig en die eerste klanke oor haar rooi lippe spoel, is dit nie meer die ooreenkoms met die ikoniese sangeres en aktrise uit die vyftiger- en sestigerjare wat jou oorrompel nie – dis die unieke aantrekkingskrag van ons eie Demi Lee Moore (28).

Nie lank gelede nie was haar naam nog onbekend, maar nou is sy ’n ster uit eie reg – dié nuwe blonde bom op die musiektoneel.

Haar naam is onlangs by vanjaar se eerste Afrikaans Is Groot-konsert in die Sun Arena in Pretoria aangekondig as die wenner van die musiektalentkompetisie Die Kontrak, wat van 19 September af op VIA, kanaal 147 op DStv, uitgesaai is – en sy het daarmee ’n kontrak van ’n volle R1 miljoen by die platemaatskappy Coleske Artists losgeslaan.

Foto: Rowyn Lombard

Met haar sterk stem en gevoelvolle vertolking van wêreldbekende treffers was sy sommer vroeg reeds een van die gunstelinge in dié kompetisie, en toe sy tydens Afrikaans Is Groot (AIG) as die wenner aangekondig word, was die gehoor van 8 500 mense op hul voete. 

Terwyl die sangeres van Durbanville dié Vrydagaand op die verhoog na die dawerende applous staan en luister het, het die trane oor haar wange gerol . . .

In die gehoor was haar ma, Marlene, ewe emosioneel. Haar pa, Herman, is aan kanker oorlede toe sy net sewe jaar oud was, maar Demi Lee het geweet haar pa sou trots op haar wees.

Vroeg die volgende oggend verskyn dié nuwe sangsensasie op die stoep van die Maslowhotel in Pretoria. Haar oë sprankel sonder enige teken van moegheid, al het sy die afgelope nag net vier uur slaap ingekry.

Ná die vorige aand se konsert het sy saam met ’n handjie vol familie en vriende eers haar sege by ’n restaurant langs die hotel gevier, vertel sy.

Verwonderd kyk sy dan na die Sun Arena, sowat 40 m van die Maslowstoep af, waar die AIG-konserte aangebied word. Hier sal sy nou op elke AIG-konsert saam met van die grootste musikante in Afrikaans optree.

“Weet jy, ek was ’n laerskooldogtertjie, toe staan en sing ek so op my eie in my ouerhuis saam met die musiek oor die radio,” vertel sy. “Dan sing ek vir die mure om my en droom van die dag wanneer ek voor ’n skare mense gaan optree.”

’n Glimlag spoel om haar mond. Want die vorige aand het daardie droom waar geword . . .

Demi Lee se sangtalent was al van jongs af daar. Sy het 11 jaar lank, vanaf negejarige ouderdom, sanglesse geneem.

Tydens haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Durbanville in die Wes-Kaap het sy ook “meer in kultuurdinge as sport” belanggestel en aan elke skoolkonsert of revue deelgeneem, vertel sy.

Ná matriek het sy ’n paar maande as lugwaardin gewerk, “maar daardie beroep wou nie vlieg nie; ek wou eintlik net sing”.

Sedertdien sing Demi Lee heeltyds – sy het by sosiale en korporatiewe geleenthede opgetree en ook ’n vaste ooreenkoms gehad met die Twelve Apostles Hotel in Kaapstad, waar sy ’n paar keer per maand opgetree het. Maar haar groot droom – om in Afrikaans naam te maak – was haar nog nie beskore nie.

Demi Lee Moore
Sy het tydens die kompetisie haar hart uitgesing en sê gebed het haar gedra wanneer sy bang was sy sal volgende huis toe moet gaan. Foto: Instagram/@demileemoore
Demi Lee Moore
Foto: Instagram/@demileemoore

“Ek is dankbaar vir elke optrede en elke geleentheid, maar dan sing ek elke keer drie tot vier uur lank Engelse covers. Eintlik wil ek my eie musiek in Afrikaans sing,” maak sy hart oop.

Al het sy in 2014 sewende geëindig in die Idolssangkompetisie, het ’n nasionale deurbraak haar bly ontwyk. “Ek dink my tyd was nog net nie reg nie,” sê sy.

Maar toe VIA se musiektalentkompetisie in Mei vanjaar aangekondig word, het Demi Lee dadelik gevoel “vanjaar is dit my beurt . . .”

Sy moes nogtans seker maak. Eers het sy en haar kêrel van die afgelope vier jaar, die kitaarspeler Barthlo Visagie, wat vir onder andere Jack Parow die snare tokkel, dadelik op hul knieë gegaan om ’n antwoord te vra.

Daarna wou sy by haar ouer suster, Aimee Ackers, hoor wat sy dink. “Toe sy sê ‘doen dit’, toe weet ek ek moet hierdie kompetisie ingaan met die doel om te wen.”

Demi Lee vertel hoe dit juis Aimee se ongeluk in Januarie vanjaar was “wat tot die verdieping van haar menswees gelei het”.

Aimee is in Thailand deur ’n ander bromponieryer getref terwyl sy op haar bromponie gery het.

Haar skedel was onder meer gekraak en die dokters het gesê sy sal dalk eers oor ’n jaar weer kan loop. “Ek’t myself en my familie net aan die Here oorgegee,” vertel die sangeres.

“Ek het nie gebid nie; ek het gesmeek. En vier maande later het my sus weer geloop.”

Demi Lee was een van sowat 2 000 hoopvolle sangers wat vir die kompetisie ingeskryf het. Daaruit is agt finaliste gekies om dit voor die TV-kameras uit te spook.

Die sangeres Monique Steyn was tydens die opnames Demi Lee se afrigter en mentor.

Na afloop van elke program het Coleske Artists se grootbaas, Arnold Coleske, een deelnemer huis toe gestuur tot dit net Demi Lee en Ivan Roux was wat oorgebly het.

Demi Lee vertel terwyl sy en Ivan voor die eerste AIG-konsert agter die verhoog op die aankondiging van die kompetisie se wenner gewag het, was sy die bangste nóg in haar hele lewe.

“Ek was so gespanne, my arms en bene het net onophoudelik geruk.”

Nadat Bobby en Karlien van Jaarsveld, die aanbieders van Die Kontrak, haar naam as wenner uitgeroep het, het sy net 30 sekondes gehad om op die verhoog te kom vir haar sangoptrede.

In die harwar het sy skoon vergeet om haar skoene aan te trek. “Toe sing ek sommer kaalvoet,” vertel sy.

View this post on Instagram

Aanhouer WEN?? . . #10jaar #luckynumber7

A post shared by D E M I • L E E (@demilee.moore) on

“Kaalvoet is in elk geval my ding! Maar toe ek op die verhoog stap, voel ek die trane wil kom. Ek het net vir myself gesê: ‘Jy kan nie nou staan en huil nie.’ Toe ek die mikrofoon vat, het ek so gebewe, ek was bang ek laat dit val!”

Toe sy die laaste woorde van haar liedjie Mis Eet Slaap Herhaal sing, kon sy nie meer haar emosies in toom hou nie. En toe haar trane rol, was die gehoor op hul voete.

Hier waar ons by die Maslow met haar gesels, word sy kort-kort onderbreek deur mense wat haar wil gelukwens of ’n selfoonfoto saam met haar wil hê.

“Baie dankie, julle, ek waardeer dit vreeslik baie,” antwoord sy beskeie.

“Ek is regtig baie dankbaar vir soveel dinge,” sê sy dan. Die musiekvideo van Mis Eet Slaap Herhaal is binne drie dae vandat dit uitgereik is sowat 31 000 keer gekyk.

Haar album met dieselfde naam, wat in dieselfde week uitgereik is, is ook binne dae reeds by sommige musiekwinkels uitverkoop.

“Om te dink ek was tydens die kompetisie heeltyd bang dat ek volgende gaan wees om huis toe te gaan,” erken sy.

En hoe voel sy wanneer vreemdelinge en aanhangers nou opmerk sy lyk na Afrikaans se eie Marilyn Monroe?

“Wel, ek hou ook van rooi lippe!” lag sy. “Maar daar was al mense wat in die verlede, toe my hare nog kort was, dieselfde gesê het.”

Sy wil egter nie in iemand anders se spore volg nie – sy wil haar eie treë neem en haar eie merk laat.

“Nou is dit harde werk om landwyd op te tree en die album bekend te stel,” sê sy.

En dan erken sy met ’n laggie: Wanneer sy ná die AIG-konsertreeks terug is by die huis in Durbanville, gaan sy drie dae lank eers net slaap!