“Ek was in die top-agt en dit was reeds vir my meer as genoeg. Ek het nie verwag om so ver te vorder nie. Ek is dankbaar daarvoor,” sê Faraway George (sy regte naam is Heinrich George Gunther) eksklusief aan Huisgenoot. 

Dit was benoude oomblikke en eindelik tog ietwat van ’n teleurstelling toe hy moes toekyk hoe Arnold Coleske van Coleske Artists sy kontrak opskeur.

“ ’n Mens het ’n verwagting wanneer jy al so ver in die kompetisie is dat jy ’n moontlikheid het om te wen, maar dit was ’n goeie geleentheid en ek is bly ek kon deel wees daarvan.”

Dit was 'n teleurstellende oomblik toe hy besef dis sy kontrak wat opgeskeur word. Foto: Luba Lesolle

Hy is immers reeds ’n gevestigde sanger en onafhanklike musikant wat sedert 2015 heeltyds musiek onder die naam Faraway George maak.

“Ek het in 2011 deeltyds begin sing, maar ek doen dit nou al vir vier jaar heeltyds.”

En waar kom die naam Faraway George vandaan?

“Ek het in Polokwane grootgeword en in 2011 Robertson (in die Wes-Kaap) toe getrek. Dit is baie ver uitmekaar en die woord ‘faraway’ was vir my ’n goeie beskrywing daarvoor. My tweede naam, George, was my oupa s’n en dit is baie spesiaal vir my.”

Om saam met Elvis Blue (een van die vier mentors in Die Kontrak) te werk, was vir hom ’n groot eer en ’n herinnering wat hy vir altyd sal koester.

“Elvis is great en iemand by wie 'n mens kan aanhou leer. Hy het al diep spore in die musiekbedryf getrap en is iemand wat altyd konstant bly, al probeer hy verskillende dinge met sy musiek. Hy is ’n diverse musikant en ek is bly ek kon by hom leer.”

Die sangers Tarryn Lamb, Dewald Wasserfall en Monique Steyn tree ook as mentors op.

Faraway George is die twee deelnemer om Die Kontrak te verlaat. Foto: Luba Lesolle

Maar vir dié gevestigde musikant beteken Die Kontrak nie die einde van sy loopbaan nie.

“Ek gaan aanhou musiek maak. Ek wil hê meer mense moet na my vertonings kom kyk en ek wil nuwe musiek uitbring. Ek dink ook dit is tyd dat my langverwagte vollengte-album eindelik uitgereik word.”

Hy het reeds ’n kort album met vyf liedjies uitgebring.

  • Nuwe episodes van Die Kontrak word elke Woensdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Sondae om 18:00. Die JOOX-app is die amptelike musiekstroomvennoot van Die Kontrak.