Dit was ’n groot teleurstelling toe dit nié sy naam is wat op die Afrikaans is Groot-verhoog by die Sun Arena in Pretoria uitgeroep word nie, vertel die sanger Woensdag aan Huisgenoot.

Tog het hy geweet: Dié is maar die begin van groot dinge . . . En buitendien gun hy dié gesogte wentitel “deur en deur” vir Demi Lee Moore, sê hy.

“Ons albei het so hard vir Die Kontrak se wentitel gewerk en so hard daarvoor gehoop, dat dit tog maar ’n teleurstelling was toe ek nie die reeks gewen het nie."

"Maar dit was van korte duur, ek was onmiddellik gevul met die grootste dankbaarheid; ek het geweet 10 jaar se harde werk betaal nou af – selfs al is ek ook nie die wenner nie,” vertel hy.

Met die aanvang van Die Kontrak sou slegs die wenner van die reeks ’n album losslaan, maar later is anders besluit en nou is sy debuutalbum, Daai Ding, in die top-6 verkopers in die land.

“Daar is geen manier wat ek ooit genoeg sal kan dankie sê vir wat Coleske en Die Kontrak oor die laaste weke vir my beteken het nie. Die leiding, die vriendskappe en die raad . . . Dis iets wat ek my lewe lank saam met my sal dra. Ek sal altyd weet watter groot aandeel die program in my loopbaan het.”

Dit was vir hom ’n “groot verrassing” toe Arnold Coleske, die grootbaas van die Coleske platemaatskappy, hom einde verlede met die nuus gebel het dat hy ook by die Afrikaans is Groot-konsertreeks sou optree, sê die sanger.

Sy vrou, Marida (24), was ook uit haar vel oor dié nuus. “Ek het die oproep Saterdagoggend vroeg ná die eerste konsert van Arnold ontvang,” vertel hy.

“Hy het vir my gevra hoe dit met my stem gaan omdat ek in daardie stadium effens siek was. Ek het gesê as ek moet sing, kan ek sing. Toe sê hy ek moet maar terugkom Sun Arena toe want ek gaan ook in die konsertreeks optree. Dit was ’n absolute blessing; ek kon my nie indink dat ek so gelukkig is nie.”

Sy optredes by die afgelope naweek se konserte was ’n groot droom wat bewaarheid is, meen hy.

“Dit was donker op die verhoog . . . En oomblikke voordat die luidsprekers en ligte aangegaan het, het ek na die gehoor gekyk. Dit was volgepak van links na regs; ’n magiese oomblik."

“Ek het vir myself gesê: Ivan, hierdie is jou beurt om vir hulle te wys dat jy in die eerste plek moes wees,” terg hy. “Toe gee ek my alles – nes elke optrede vantevore – en dit was een van die grootste oomblikke van my loopbaan.”

Hy sê dis vir hom nie toeval dat hy op 28 ’n deurbraak gemaak het nie. Sy mentor Dewald Wasserfall en die sanger Theuns Jordaan, wat Wasserfall se mentor was, het albei ook op 28 groot name in die plaaslike musiekbedryf geword.

“Dit is ’n teken van God – een dat ek op die regte plek is . . . Dat groot dinge wag.”

In die komende weke beoog die sanger om te fokus op die Afrikaans is Groot-konsertreeks en die beplanning van volgende jaar se konserte.

Die konserte waar hy reeds te sien gaan wees, is reeds op sy Facebook-blad beskikbaar. Natuurlik is daar ook nóg groot drome in die toekoms: ’n Ghoema-toekenning en ’n plek op die Innibosfees-verhoog.

“Die toekoms is vol wonderlike geleenthede en opwindende gebeurtenisse. En ek kan nie wag om elkeen daarvan voluit te geniet nie.”