• Die tienersuperheldreeks Cloak & Dagger se hoofkarakters is Tandy Bowen (Olivia Holt) en Tyrone Johnson (Aubrey Joseph). Dié karakters, wie se agtergrond verskil, woon in New Orleans in die Amerikaanse staat Louisiana.
  • Aubrey (20) het sy debuut op Broadway as die jong Simba in Disney se Lion King gemaak. Hy was later in drie episodes van HBO se bekroonde The Night Of te sien. Die akteur het ook in Law & Order: SVU gespeel. Hy is die middelkind van drie seuns.
  • Natuurlik is die program reeds ’n sukses, want die rolprentateljee Marvel Studio, wat ook verantwoordelik is vir Black Panther en Avengers, is ook hier betrokke. Die dagblad USA Today beskryf die reeks as “nie net een van die beste superheldreekse van die jaar nie; dit kan een van die beste TV-drama’s van 2018 wees”.
  • Tandy en Tyrone het kleintyd die vernietiging van ’n laboratorium tydens ’n orkaan oorleef. Maar nou het hulle superkragte wat misterieus met mekaar verband hou.
  • Olivia (20) is een van die jong Hollywood-sterre om dop te hou. Sy is ’n voormalige Disney-ster en het ’n EP, Olivia, met vyf popliedjies daarop uitgereik. Haar laaste liedjie, History, is al meer as 95 miljoen keer op Spotify geluister. Haar mees onlangse liedjie is Generous. Sy het Bears, ’n Disney-fliek van 2014, se temalied, Carry On, gesing.
  • Nuwe Avengers? Die reeks se vervaardiger, Joe Pokaski, wou voor die première nie veel verklap oor hoe die twee hoofkarakters by die Avengers-flieks kan inskakel nie. “Ons het ’n hele paar opwindende gesprekke gevoer oor hoe ons Tandy en Tyrone (na ander Marvel-skeppings) kan vat. Hulle kan oral verskyn.”
  • Hul kragte: Tandy het vlymskerp ligstraaldolke en Tyrone kan mense in donkerte omhul. Die twee karakters raak verlief op mekaar en besef hul kragte werk beter wanneer hulle saam is. Maar hul gevoelens vir mekaar maak hul ingewikkelde wêreld selfs uitdagender.
  • Die strokiesprent: Hierdie reeks is gegrond op die Marvel Comics-strokiesprent met dieselfde naam. Die skrywer Bill Mantlo en kunstenaar Ed Hannigan het dié karakters geskep. Hulle het die heel eerste keer in die strokiesboek Peter Parker, The Spectacular Spider-Man Vol. 1 van Maart 1982 verskyn.
Kyk dit
Cloak & Dagger se eerste episodes is onlangs eksklusief op Showmax beskikbaar gestel. Nuwe aflewerings van die tiendelige reeks sal tot Augustus weekliks op Showmax uitgereik word pas nadat dit in Amerika uitgesaai is.