Die aanbieder, Leah, het die top-10-boere tydens die reünie-episode weer gesien om uit te vind wie is nog enkellopend, en wie is deur Kupido se pyltjies getref.

En groot was die verrassing toe sy hoor dat ’n volle agt boere deur middel van hierdie seisoen iemand aan hul sy gekry het!

Hentie en Hantie asook en Graham en Ilne kon dit glad nie wegsteek dat hulle die skoot hoog deur het nie. Die ander boere het hardop gewonder wie van dié twee eerste die knoop gaan deurhaak, waarna Hentie teruggekorswel het dat hulle gou sal moet maak as hulle eerste wil wees.

Graham en Ilne het die skoot hoog deur.
Graham en Ilne het die skoot hoog deur.

Ook Willem en Sanel is baie danig met mekaar, maar hulle wou aanvanklik nie sê waar hulle met mekaar staan nie.

Aan die begin het Willem Leah se direkte vraag weggepraat met “jong, ek is maar erg oor hierdie enetjie”. En Sanel het vaagweg geantwoord “ons hou baie van mekaar”. Maar later erken hulle dat hulle amptelik ’n paartjie is.

Die hartsdinge wou nie vir Damian en Theunis regloop nie en hulle daag alleen op.

Damian vertel vir Leah dat hy steeds enkellopend i
Damian vertel vir Leah dat hy steeds enkellopend is.

Theunis sê hy is seker maar alleen omdat hy nog nie die regte een gekry het nie. “Dié wat ek kies, kies nie vir my nie.”

Graham sê Damian verdien geluk.

“Ek het eintlik nogal gehoop dat hy iemand saambring. Hy is die ordentlikste boer van ons almal met die beste maniere.”

Hentie sê hy en Hantie het reeds mekaar se familielede ontmoet. “Ons is deel van mekaar se lewens.”

Maar Hantie beplan nog nie om die Jakarandastad vir Clanwilliam te verruil nie. “Daar is eers praktiese goed wat ek in plek moet kry.”

Hentie en Hantie daag by die reünie op.
Hentie en Hantie daag by die reünie op.

Die ander vyf boere uit die Top-10 het ook almal iemand gekry wat hul harte warm laat klop.

Gerrit daag alleen op by die reünie, maar vertel later dat hy en iemand van sy tuisdorp, Citrusdal in die Wes-Kaap, mekaar nou beter leer ken.

Albert daag ook alleen op, maar sê hy het “die ongelooflikste mens ontmoet”. Weens werksverpligtinge kon sy nie saamkom nie. Hoewel sy nie een van die briefskrywers was nie, het sy hom wel op TV gesien.

Ook Rohan verklap vinnig dat hy goeie nuus het om te deel. Ja, daar is iemand in die prentjie, laat hy die aap uit die mou. Sy het egter nie saamgekom nie, want “ons wil nie te vinnig te mal gaan nie”.

Hy en dié vriendin het mekaar jare gelede ontmoet, maar toe kontak verloor. Ná sy verskyning op die kassie het sy hom weer gebel om te hoor hoe dit gaan. Hy het haar genooi om te kom kuier, en toe vat dinge vlam!

Franco daag saam met Nicole op. Sy was een van sy briefskrywers wat hy opgevolg het nadat hy nie die top-5 gemaak het nie, en daar was sommer dadelik ‘n vlam. Hulle is nog nie in ’n amptelike verhouding nie, maar daar is definitief iets tussen hulle, sê Nicole. “Anders sou ek nie vandag hier gesit het nie.”

Brandon daag op met Llani, en Theunis beskryf hulle as aangename mense.

“Hulle is nie soos die loud couples nie, hulle is bietjie meer op hul plek.”

Llani het nie vir die reeks ingeskryf nie, aangesien sy nie veel van Boer soek ‘n vrou weet nie, vertel sy. Maar nadat sy sy video-inskrywing gesien het, het sy hom orals op sosiale media gaan soek. Toe kry sy hom op Instagram.

Soveel wat liefde gevind het! Dan het Boer soek ‘n vrou mos sy rol vervul, som Albert die afgelope seisoen op.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.