Vroeër vanjaar, toe Rhafiek vir haar gevra het om te trou, het Carmen aan hom verduidelik dat sy nog nie reg is vir dié groot stap nie.

Hul romanse het al verlede jaar vlam gevat, maar hulle was eers in ’n liefdesdriehoek met Nuraan (Liezel Swartz) vasgevang.

Carmen en Rhafiek. Foto: Verskaf.

Die dorp was in rep en roer ná Rhafiek gesê het hy kan nie voortgaan met sy verhouding en moontlike troue met Nuraan nie omdat sy hart aan Carmen behoort.

Die goeie tyding moet nog aan die Samsodiens en Carmen se ouers oorgedra word, wat moontlik tot nuwe spanning kan lei.

Carmen se ouers kom juis dié week nog in Ruiterbosch kuier en kykers gaan dan vir die eerste keer met haar pa, Gawie (Albert Maritz), kennis maak.

Indien Carmen en Rhafiek die knoop kan deurhaak, sal dit die derde bruilof in die sepie wees. Maar albei vorige troues het op ’n ramp afgestuur.

Foto: Verskaf.

Nicci (Gerwen Simon) het vir Tim (Marco Spaumer) voor die kansel gelos, en die glyjakkals Adam (Kevin Smith) het spoorloos met al Lee-Ann (Portia Joel) se geld verdwyn ná hulle ewige trou aan mekaar beloof het.

Een ding is vir seker, kykers gaan voor die kassie vasgenael sit om te sien of Carmen en haar “Fiekie” ’n gelukkige huwelik gaan hê.