Die vele intriges draai dikwels om die wel en wee van die liefde, maar dit is geen gewone sepie nie. Die vroue is beeld­skoon en die mans aantreklik, maar hulle is allesbehalwe bekende gesigte op ons plaaslike skerms.

Trouens, ons ken die akteurs eintlik van g’n kant af nie . . .

Tog hou Turkse telenovelles – ja, nie net een van hulle nie, sommer ’n half­dosyn – derduisende Suid-Afrikaners deesdae elke weeksaand vasgenael voor hul televisieskerms.

Een van Suid-Afrika se gunsteling Turkse telenovel
Een van Suid-Afrika se gunsteling- Turkse telenovelles is Stiletto Vendetta. Foto: Verskaf

Dié reekse, wat vanuit Turks in Afrikaans oorgeklank word en ook Engelse onderskrifte kry, is trouens deesdae so gewild dat van die sterre wat eintlik ’n heel ander taal praat nou ’n groot Afrikaanse aanhang het. 

“Ek gee nie om of die kos op die stoof brand nie; ek wil nie hoor wat my man en kinders te sê het nie. Almal moet my uitlos sodat ek my stories kan kyk,” skryf die kyker Ronel Ferreira op die Facebookgroep “Turkse sepies op eExtra”. 

Dié “stories” is kykstof so lekker soos Turkish delight, kan jy maar sê.

Toe die eerste oorgeklankte episode van die telenovelle Gebroke harte in Oktober 2018 op eie bodem uitgesaai is, het ongeveer 120 000 mense landwyd ingeskakel.

Die kykergetal het intussen so gegroei dat meer as 2 miljoen mense nou die Turkse novelles – met name soos Bittersoet, Doodsondes en Stiletto-ven­detta – getrou op e.tv en en eExtra volg. Die eerste daarvan skop elke weeksaand om 17:30 af, en daarna word hulle die een ná die ander ingeryg tot om 22:30.

En wanneer aanhangers eindelik ná vyf uur se kykgenot van die rusbank opstaan, bespreek hulle druk die jongste gebeure in Facebookgroepe wat spesiaal daarvoor gestig is.

“Iemand moet net vir Koray ’n groot klap gee. Een wat hom sal laat lê. ’n Regte knockout-klap,” skryf ’n aanhanger op die blad van die novelle As die skoen pas.

“Ek stem 100% saam,” beaam ’n ander kyker. “Hy werk net op my nerves.”

Maar hoe kry die telenovelles, wat in ’n vreemde land met vreemde akteurs in ’n vreemde taal, verfilm is, dit reg om Suid-Afrikaanse kykers so mee te voer?

’n Aantreklike rolverdeling in stylvolle klere, boeiende intriges, pragtige natuurtonele en storielyne wat van goeie familiewaardes getuig, is van die bestanddele van die wenresep.

Omdat die telenovelles as “skoon” beskou word, kan oud en jonk daarna kyk, sê Marli Schulze, ’n inhoudspesialis by e.tv. Die Turkse kultuur is te bedees om vuurwarm tonele tussen die lakens op die skerm toe te laat, verduidelik sy.

“Eers ná tientalle episodes sal jy dalk ’n enkele vinnige kus tussen twee spelers sien. Die Turke het met hierdie programme die kuns vervolmaak om intimiteit grootliks deur die dialoog en ook deur die akteurs se spel uit te beeld.”

Ondanks hul gewildheid loop die telenovelles ook onder kritiek deur.

Hoewel swak toneelspel plek-plek deurslaan en die oorgeklankte Afrikaanse woorde nie altyd presies gesinchroniseer is met die beweging van die Turkse akteurs se monde nie, meen aanhangers die beeld­skone karakters en die uitmuntende gehalte van die Afrikaanse dialoog en Engelse onderskrifte vergoed daarvoor.

En moenie dink dit is net vroue wat saans regskuif vir die volgende episode van hul gunsteling- oorgeklankte program nie. Onlangse kykernavorsing deur e.tv wys mans van alle ouderdomme – van tienerseuns tot gryskoppe – kyk dit ook graag saam met hul ma of die vrou in hul lewe.

Een van Suid-Afrika se gunsteling Turkse telenovel
Een van Suid-Afrika se gunsteling- Turkse telenovelles is As die skoen pas. Foto: Verskaf

Die Turkse telenovelles – van romantiese komedies en dramas tot speurverhale – is nie net in Suid-Afrika ’n wegholsukses nie; dit word ook in ander tale oorgeklank en maak opslae in Sentraal- en Oos-Europese lande. Ook in Spanje en Latyns-­Amerikaanse lande verkoop die reekse soos soetkoek, al lewer dié lande ook hul eie gewilde plaaslike kykstof op.

En hoe verskil die telenovelles van meer tradisionele sepies?

Anders as ’n sepie het so ’n novelle ’n begin, middel en einde, verduidelik Marli.

“Dit verloop oor meer as 60 episodes en kom eindelik tot ’n einde. ’n Sepie kan deur die jare net aanhou en aanhou.”

Sy beskou die Turkse telenovelles geensins as ’n plaasvervanger vir ons plaaslike sepies nie, sê Angela Richardson van Redhead Global, ’n televisie­verspreidingsmaatskappy wat internasionale programme na Afrika-uitsaaiers bring.

“Dit dien eerder as net nog ’n vorm van televisievermaak vir kykers.”

Die Turke het ’n wonderlike manier van stories vertel, meen sy. Sy glo die emosionele en spannende dialoog asook die hoë produksiegehalte van die reekse help om dit ’n wenresep plaaslik te maak.

“Jare gelede het e.tv die goeie inhoud van die Turkse programme raakgesien en gedink dit sal wonderlik wees vir hul Afrikaanse mark, vertel sy.

“Hulle het die puik idee gehad om ’n groot verskeidenheid Afrikaanse plaaslike stemme – veral van die Wes-Kaapse mense, insluitend die dia­lek van inwoners van die Bo-Kaap en Kaapse Vlakte – vir die oorklank van die programme te gebruik sodat kykers makliker met die spelers kan identifiseer.”

En intussen het die gewildheid van die reekse – en die getal plaaslike stemme wat daarin gehoor kan word – net toegeneem. Van die gesoute akteurs wat al in die Turkse novelles hul stemme laat opklink het, is Rolanda Marais, Lochner de Kock, Deon Coetzee, Henriëtta Gryffenberg, Abduragman Adams, Marion Holm en Simon Bruinders.

“Ons herskryf die Afrikaanse teks met plaaslike idiome en sêgoed sodat kykers hulle met die karakters kan vereenselwig,” vertel Marli. En op dié manier bring die reekse oorsese drama huis toe.

Famous Turkish telenovelle
Stephanie is Sanem se stem en Johan is Can s’n in Droomverlore. Foto: Sharon Seretlo

Wanneer e.tv die Turkse novelles aankoop, is die Turkse teks reeds in ­Engels vertaal.

Dan spring sowat 200 mense – onder wie regisseurs, klank­ingenieurs en stemkunstenaars – in om dit in ’n Afrikaanse reeks te om­skep. Nadat vertalers die Engelse teks in Afrikaans vertaal het, herskryf teks­skrywers die dialoog om dit meer toepaslik vir die Afrikaanse gehoor te maak.

Die episodes word dan na drie verskillende oorklankingsateljees in Johannesburg en Kaapstad gestuur waar plaaslike akteurs en stemkunstenaars dit in Afrikaans oorklank.

Daarna word die Afrikaanse dialoog in Engels vertaal vir die onderskrifte.

In die ateljee kyk die stemkunstenaars na die Turkse beeld op ’n skerm terwyl hulle die Afrikaanse oorklanking doen.

“Hulle probeer dan om die woorde in die akteur se mond te laat pas. Hulle praat wanneer die akteur praat en stop wanneer hy of sy ophou praat. Hulle sug wanneer die akteur sug en gee ruspouses wanneer daar een is,” verduidelik Marli. “Daarna word die episode stuk vir stuk aanmekaargesit met die musiek en klank­effekte.”

Ongelukkig glip klein jakkalsies soms in, erken sy. Perfekte sinchronisasie tussen die Afrikaanse woorde en Turkse monde is nie altyd moontlik nie.

“Die gehalte van die verfilming, die Turkse musiek en die uitsonderlike storielyne vergoed daarvoor,” meen sy. “Danksy die Afrikaanse dialoog is die episodes bekend genoeg vir die kykers, maar dit is steeds eksoties genoeg om hulle deurentyd te boei.” 

Magda van Biljon (regisseur), Johan Joubert (akteu
Magda van Biljon (regisseur), Johan Joubert (akteur), Stephanie Baartman (aktrise) en Geoffrey Hanson (klankingenieur) in die ateljee. Foto: Sharon Seretlo
Hoe voel dit om 'n ander akteur se stem te word?

Een van die bekende stemme wat in die Turkse telenovelles gehoor word, is dié van die akteur Denver Vraagom.

In Dokter Ali, ’n nuwe reeks wat binnekort uitgesaai word, speel hy ’n dokter.

“Met oorklanking doen jou stem basies jou hele werk. Dis heerlik en sielsvervullend, want jy moet die karakter se stem inkleur,” vertel die akteur wat al sedert 1990 oorklankingswerk doen.

Boonop het die werk baie akteurs van ’n inkomste voorsien toe die vermaakbedryf hard getref is deur die pandemie en inperking.

“Stemoorklanking het my lewe gered tydens die inperking,” sê Denver. “Ek kon my kar vol diesel maak.”

Ook die Suidooster-aktrise Gerwen Simon, wat Dilara in die telenovelle Deur dik en dun speel, sê die oorklankingswerk het haar “verskrik­lik baie gehelp” toe covid-19 verlede jaar uitbreek. Dit ver­skil baie van gewone akteurswerk, vertel sy.

“Daar is nie ’n teks wat jy vooraf kry wat jy moet memoriseer nie. Jy lees die teks wanneer jy in die ateljee kom.

“Ek kyk gewoonlik eers na die Turkse toneel voor ek die oorklanking doen om seker te maak hoe my karakter reageer. Dan sit jy emosie en klem op die Afrikaanse woorde om dit realisties te maak.”

Charl van Heyningen het Haroen in Gebroke harte gespeel, en nou praat Erkut met sy stem in Elif.

Met oorklanking is jy “amper soos ’n verkleurmannetjie”, sê die akteur, wat al as kind oorklankingswerk begin doen het.

“Jy kan nie jou eie vertolking gee nie; jy moet dít weergee wat jy op die skerm sien.

“En jy moet seker wees jou Afrikaanse woorde pas oor die mens se lippe. Dit verg ver­skriklik baie konsentrasie.”