Farah in "Suidooster" 

lee-ann van rooi in suidooster
'Suidooster' se Farah op haar troudag. Foto: Erina Niemand

Lee-Ann van Rooi se karakter in Suidooster het kykers behoorlik warm onder die kraag gehad, in so ’n mate dat die aktrise in die sosiale media geteister is. Farah Adjerahn het haar opwagting as ’n skynbaar onskuldige entrepreneur in Ruiterbosch gemaak. 

Nadat sy daarin geslaag het om met die geliefde apteker AB Samsodien (Cedwyn Joel) te trou en onmin te saai tussen dié en sy eerste vrou, Mymoena (Jill Levenberg), het Farah se ware kleure stadig na vore gekom. 

Toe AB, sy broer Nazeem (Irvine van der Merwe), en Chris du Plooy (Marcel van Heerden) Farah se leuens ontbloot het, het AB besluit om van haar te skei. 

Wilmien in "Suidooster"

Die veteraanaktrise Isadora Verwey het blitsvinnig in Suidooster as die skatryk Wilmien verskyn, maar dit was lank genoeg om die sepie se kykers ontstoke te laat oor haar gekonkel. 

Wilmien het die arme Tim du Plooy (Marco Spaumer) se smagting na haar wynlandgoed in Durbanville vir haar eie gewin misbruik en hom in vele duistere situasies laat beland. 

Nie net het sy met Tim, wat met Zoë (Lauren Joseph) getroud is, flankeer nie; sy het ook stories opgemaak oor hoekom sy nie op die landgoed wil woon nie. Ná vele dreigemente dat sy iets aan haarself gaan doen, het Wilmien haar eie lewe geneem en Tim in skok gelaat. 

Francois in "Suidooster"

In ’n toneel saam met Annelisa Weiland. Foto: Vers
In ’n toneel saam met Annelisa Weiland. Foto: Verskaf

Sedert haar dogter, Michelle Gerber, en dié se man, Stefan, saam met hul seuntjie, Quentin, na Prins Albert verhuis het, het Kate (Annelisa Weiland) deel geword van die Ruiterbosch-gemeenskap. In Oktober vanjaar het Kate se kleinseun, Francois (Phillip Schnetler), by haar kom kuier en sommer gou moles begin maak. 

Terwyl hy soos ’n engel voor sy ouma opgetree het, het hy partytjie gaan hou in een van die eiendomsagentskap Suidooster Eiendomme se skouhuise en agter tralies beland ná ’n aandjie uit saam met Joy (Monique Rockman).

Francois het ook Bennie (Richard September) se mensliewende geaardheid uitgebuit en voorgegee dat hy dié help om geld in te samel om voëls te red, terwyl hy die geld vir sy eie plesier gebruik het. 

Nadat die skelmstreke ontbloot is, het sy ouma Kate hom teruggepos na sy ouers in Pretoria. 

André Vosloo in "7de Laan"

Skoolfoto's
Marcus Muller. Foto: Verskaf.

In Junie vanjaar het die prokureur André Vosloo (Marcus Muller) se aggressieprobleem hom gedryf om Mariaan Welman (Deirdre Wolhuter), met wie hy in ’n verhouding was, fisiek aan te rand.

Die sepie se vervaardigers sê hulle poog om deur middel van hul storielyne as ’n spreekbuis op te tree en kwessies soos mishandeling in verhoudings aan te pak. 

André is in Desember skuldig bevind aan verkragting en tronk toe gestuur. 

Rachel Bishop in "Inconceivable"

Carine Rous as die advokaat Rachel Bishop in die d
Carine Rous as die advokaat Rachel Bishop in die dramareeks Inconceivable. Foto: M-Net

Die dramareeks op M-Net het kykers behoorlik laat gons met sy storielyn waarin Rachel, ’n ryk prokureur gespeel deur Carine Rous, die arm en weerlose Tamsin Watts (Jay Anstey) se baba steel nadat haar eie voor geboorte gesterf het. 

Rachel het kykers warm onder die kraag gehad oor die web van leuens wat sy gespin het waarby sy later haar beste vriende, die ginekoloog Marieke Meyer (Anel Alexander) en die prokureur Busi Nkosi (Refilwe Madumo), asook haar man, James (Langley Kirkwood), betrek het. 

In die laaste episode van die eerste seisoen het Tamsin haar baba teruggekry, maar dit lyk nie of Rachel klaar is met haar gekonkel nie. 

Bompie Galant in "Arendsvlei"

Vanaf die oomblik toe Jarrid Geduld se karakter, Bompie Galant, sy debuut in die telenovelle Arendsvlei gemaak het, het kykers geweet hier kom moeilikheid. Bompie is immers die seun van Arendsvlei se grootste bendebaas, Desmond Galant. Hy het nie net sy eksmeisie, die matrikulant Monique Ross (Robyn Rossouw), se lewe hel gemaak nie. In Desember het hy besluit as hy haar nie kan kry nie, kan niemand nie en het hy haar koelbloedig doodgeskiet. En dit lyk nie of dit die einde van Bompie se molesmakery is nie.

Wendy Newman in "Arendsvlei"

Die slinkse Wendy Newman (Rehane Abrahams) het in 2020 kykers van die telenovelle Arendsvlei oudergewoonte op die punt van hul stoele gehou. In ’n skokwending het Wendy haar liefie, Steve Mortlock (Elton Landrew), met wie sy op trou gestaan het, doodgeskiet nadat dié teen haar wou draai. Kort daarna het Wendy amper van haar dogter, Debra (Kay Smith), en pa, Pieter van Schalkwyk (Ivan Abrahams), ontslae probeer raak. Gelukkig het sy nie oorgegaan tot die gruweldaad nie!

Felicity Price in "Legacy"

Mary-Anne Barlow se karakter, Felicity Price, is die feeks wat almal se sake vir hulle werk in die telenovelle Legacy op M-Net. In die eerste episode van die reeks, wat in Augustus begin het, het kykers se oë gerek toe sy haar skatryk sakeman-pa, Sebastian Price (Deon Lotz), van ’n heuwel afgestamp het nadat hy besluit het om eerder die leisels van sy beleggingsryk aan sy tweede vrou, Dineo (Kgomotso Christopher), pleks van haar te oorhandig.

Sebastian het die val oorleef, en toe hy dreig om Felicity in die tronk te laat stop, tree sy chauffeur, Stefan Potgieter (Sean-Marco Vorster), met wie sy die kat in die donker knyp, toe tussenin en skiet haar pa dood. Die twee probeer sedertdien hul gruweldaad toesmeer. 

Al probleem is iemand het die moord gesien en sedertdien dreig hy om die waarheid oop te vlek en Felicity te laat boet. Maar sy konkel om elke hoek en draai om te keer dat dit gebeur.


Dr. Annelize Roux in "Binnelanders"

Binnelanders
Cindy Swanepoel as Annelize. By haar is Ilne Nienaber, wat die rol van dr. Elana Bester vertolk. Foto: Verskaf.

Noem net die naam Annelize Roux en menige kyker van die hospitaaldramareeks Binnelanders se bloed begin sommer kook. Annelize se gekonkel en bose streke ken geen einde. Sy is boonop ’n tiran by die hospitaal en die arme hospitaalpersoneel loop gereeld deur. Haar plan om aan die vername At (Hans Strydom) se sy te bly, het toe nie gewerk nie, maar Annelize het keer op keer gewys sy sal tot die uiterstes gaan om te kry wat sy wil hê.

In Mei vanjaar het Annelize saam met die booswig Rian Malherbe (Erik Holm) gekonkel om swartmark-medikasie en mediese toerusting in Binneland se suster-kliniek, Thusanang, te plant.

Rian, wat hoof is van Binneland se mededinger, Southern Hope, wou hê Binneland moet Thusanang verloor sodat sy hospitaal die kliniek, wat gewoonlik minderbevoorregte gemeenskappe help, kon oorneem vir kanker-navorsing. In die proses het Annelize vir Quinton (Ramey Short), wat pas aangestel is as Thusanang se bestuurder, onder die bus gegooi.

En ons sidder om te dink watter slinkse planne sy in 2021 in die mou voer.