Veronique Jephtas. Foto: Clement Cupido
Veronique Jephtas. Foto: Clement Cupido

’n AKTRISE WORD GEBORE

Veronique het in die Paarl grootgeword.

“Toneelspel het saam met my geboorte gekom,” vertel sy. “Ek was een van daai kinders wat nie gehuil het toe sy uitkom nie. Ek was toe al dramaties,” spot sy. “As kind het ek baie gepraat, baie gedans en met die grootste bos krulle rondgeloop.”

Dié oudleerder van die Sekondêre Skool Klein Nederburg op dié Bolandse dorp het ná haar matriekjaar drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Sy het verlede jaar haar tweede graad verwerf – ’n honneursgraad in kreatiewe skryfwerk.

“My eerste groot rol was as Amy in die derde seisoen van die regsdramareeks Fynskrif. Sjoe! Dit was lekker,” sê sy. “Tot vandag is Amy my gunstelingkarakter. Sy is so ’n boss. Ek is mal oor fierce karakters.”

BEKKIG, NES JO-ANN

Veronique is ook af en toe in die telenovelle Arendsvlei as die joernalis Jo-Ann Opperman te sien.

“Ek hou daarvan dat sy nie op haar bek geval is nie, nes ek,” sê sy. “Ek love dit dat sy altyd meer sê as wat sy eintlik sê, en die rol is lekker. Dis lekker om met my vriende saam te werk en by almal te leer.”

En hoe was haar eie skooldae?

“Ek was maar altyd uitgesproke. Hulle het geweet wie ek is, maar gewild? O nee!”

’n STEM VIR DIE STEMLOSES

“Ek was maar nog altyd iemand wat nie kon stilbly oor wat om haar aangaan nie. Al is ek bang, moet ek praat wanneer onreg om my gebeur,” sê Veronique.

Sy is in die media “die jong aktivis” gedoop nadat ’n video van haar gesproke gedig, “Dear Mr President”, wat sy aan pres. Cyril Ramaphosa gerig het, viral gegaan het. Daarin vertel sy hoe ongelukkig sy is oor al die geweld teen vroue en kinders en hoe sy voel dat die regering meer moet doen.

“Voor die video het ek myself nie as ’n aktivis gesien nie,” sê Veronique. “Ek het die gedig aan die president geskryf oor ek kwaad en seer was.” Sy is deesdae die gesig van die beweging SA Women Fight Back en ’n ambassadeur vir die organisasie Women For Change.

Veronique wys jong mense kan ’n verskil in die samelewing maak.

“Hierdie organisasies is ongelooflik en help so baie. Daar is altyd iets groters as onsself – en maatskaplike kwessies is dít vir my.”

FAMILIEVAS

Veronique is die eerste een in haar familie wat ’n universiteitsgraad verwerf het. “My ma, She-Earl, werk in ’n klerefabriek en my pa, Mario, werk by Paarl Media. My suster, Shamika Martin, is 14 en my broer, Jade Martin, is 12 jaar oud. Ons is baie close, veral ek en my broertjie,” sê sy.

Sy is baie bedrywig.

“Ek is nou besig met my digbundel, So rond ommie bos. Dit kom binnekort uit. Dan skryf ek teater, altyd. Ek skiet ook nog aan Arendsvlei en ’n nuwe reeks wat volgende jaar uitkom.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe