Sarah Paulson. Foto: Gallo Images/Getty Images
Sarah Paulson. Foto: Gallo Images/Getty Images

DUBBELE SUKSES

Ons ken Mildred Ratched as die sadistiese verpleegster in Ken Kesey se 1962-boek, One Flew over the Cuckoo’s Nest, wat in 1975 in ’n fliek omskep is.

Nou blaas die aktrise Sarah Paulson (45) weer lewe in dié karakter in die nuwe sielkundige rillerreeks Ratched, wat 20 jaar voor die gebeure in die boek afspeel. Mildred daag op by ’n psigiatriese hospitaal in Kalifornië op soek na werk. Sy lyk na die perfekte kandidaat, maar dié verpleegster is eintlik op ’n donker sending.

Sarah se eerste gedagte toe sy die draaiboek gelees het, was: “As ek nie dié rol kry nie, gaan ek ’n vloermoer in die straat gooi,” onthou sy.

Sy het die skepper, Ryan Murphy, gebel. Sy het al talle karakters in sy gruwelreeks American Horror Story gespeel. Toe slaan sy die rol in Ratched los én kry die kans om vir die eerste keer ’n uitvoerende vervaardiger te wees.

Sarah Paulson as die verpleegster Mildred Ratched
Sarah Paulson as die verpleegster Mildred Ratched in die reeks Ratched. Foto: Netflix

KLEIN BEGIN

Sarah is in Tampa, Florida, gebore. Haar ouers, Catharine en Douglas, is uitmekaar toe sy vyf was. Sy en haar ma en jonger suster het daarna New York toe verhuis. Daar het haar aspirantskrywer-ma as ’n kelnerin gewerk. In hul woonstelletjie in Queens het hulle op ’n matras op die vloer geslaap.

Terwyl ander hoërskooltieners by partytjies uitgehang het, was Sarah ’n bleeksiel wat op haar akteursloopbaan gefokus het. Maande nadat sy met skool klaar was, het sy haar eerste Broadway-rol losgeslaan.

“Ek het die deur oopgemaak en gesê: ‘Ma, ek het die rol gekry!’ ” onthou sy. “Haar eerste reaksie was: ‘Ag nee, gaan jy dit regtig doen?’ ”

DONKER ROLLE

Sarah het op 21 Los Angeles toe verhuis. Sy is te sien as die konserwatiewe betoger Alice Macray in die reeks Mrs. America en het ’n Emmy én Golden Globe losgespeel vir haar rol as die staatsaanklaer Marcia Clark in The People v. O.J. Simpson: American Crime Story.

Sarah is bekend vir die donker rolle wat sy vertolk, veral in American Horror Story. Sy het in die nege seisoene van dié reeks minstens 10 karakters gespeel.

ONAFSKEIDBAAR

Sarah en die aktrise Holland Taylor (77) is sedert 2015 ’n paartjie. Hulle het tydens die inperking hul tyd tussen hul huise in Los Angeles verdeel – dis net vyf minute van mekaar af. Maar die tonge klap oor hul ouderdomsverskil van 32 jaar.

Sarah en die aktrise Holland Taylor is al vyf jaa
Sarah en die aktrise Holland Taylor is al vyf jaar in ’n verhouding. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Daar is baie jong mense op die internet wat al aaklige dinge vir my getwiet het en wat nie ons verhouding steun nie. Dis wreed,” sê Sarah. “Maar as mense dink ek is vreemd omdat ek lief is vir die wonderlikste mens op die planeet, is dit hul probleem.”

5 KITSFEITE OOR SARAH

1 Sy is bang vir vlieg. “Ek vlieg nie tensy hulle my in die stuurkajuit toelaat om eers met die vlieënier te praat nie,” het sy al vertel.

2 Die aktrise het tydens die inperking ’n hond aangeneem. Winnifred is haar eerste hondekind in nege en ’n half jaar. Sy het ’n tatoe van die voorletters van haar ou honde, Alice en Millie, aan haar pols.

3 Op 25 is ’n melanoom op haar rug gevind, maar dit is verwyder voor dit kon versprei.

4 Net soos haar karakter in Ratched is sy uiters stylvol; Sarah is in 2018 deur die modewebtuiste Net-a-Porter as een van die bes geklede vroue aangewys.

5 Sy is te “selfsugtig” om kinders te hê. “Dit was moeilik vir my ma om oral te wees – om ’n produksie by my skool by te woon én te werk.” Sy wil haar nie so in twee skeur nie.

Ratched is nou op Netflix beskikbaar.

BRONNE: THEGUARDIAN.COM, VOGUE.COM, CRAFTY.DIPLY.COM, HARPERSBAZAAR.COM, NYTIMES.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.