Lutendo Mugeri is ’n agtjarige seuntjie met albinisme wat die rol van Hansie vertolk.

Dié jong akteur is anders as sy karakter baie spraaksaam, nuuskierig en spelerig.

"Hy hardloop deur die gange en sê hy is vinniger as ’n cheetah," vertel Kayleen Bessit, 7de Laan se publisiteitsbeampte. "Wanneer daar foto’s agter die skerms geneem word, vra hy gereeld of daar ’n foto van hom alleen geneem kan word."

Lutendo Mugeri
Lutendo Mugeri verbeel hom hy is 'n kuberkraker.

Hansie se medekarakter Karmen, wat deur Gabriella Linton (6) vertolk word, het hom aanvanklik Hansie genoem, maar dit kom later aan die lig dat sy naam Hector is.

Karmen het hom in dr. Nathan Alexander se spreekkamer ontdek en al sê hy aanvanklik nie ’n woord nie, slaag Karmen daarin om ’n verhouding met hom te bou wat op die ou end sy redding is. Wanneer Hector meer gemaklik raak, word hy baie beskermend oor Karmen en vertolk sy rol as ouer broer meesterlik.

Lutendo Mugeri
Gabriella Linton wat die rol van Karmen Meintjies vertolk.

Lutendo is oorspronklik van Meadowlands in Soweto. Hy het ’n ouer suster wat ook albinisme het.

Bruce Sithole, die voorsitter van die Tassie Foundation, ’n organisasie wat hom beywer om sosiale euwels uit die samelewing te verwyder, het Lutendo ontdek toe sy ma ’n foto van hulle in die sosiale media gedeel het.

Hy het verlede jaar deelgeneem aan die organisasie se veldtog #AlbinismKillersMustFall, waar hy deel was van ’n optog na die Uniegebou in Pretoria en ’n toespraak gelewer het. Daar is ’n video van hom geneem en dit het by die kreatiewe span van die sepie 7de Laan uitgekom wat ’n versoek gerig het om hom te ontmoet.

"Lutendo se naam is Venda en dit beteken geloof," sê Kayleen. "Hy is lief daarvoor om te lees en bid baie. Hy het sy ma gevra of hy 10 persent van sy eerste salaris van 7de Laan aan die kerk kan betaal waaraan hy behoort."

Hy word na die stel toe gebring deur sy ouers, Dzivhu Luwani en Sibingile Mugerie, maar hy word nie deur iemand opgepas nie.

Lutendo se medeakteurs is gek oor hom, sê Kayleen. "Hulle het groot bewondering vir kinderakteurs, aangesien die ure lank is en dit uithouvermoë verg. Karmen en Lutendo was goeie maats regdeur die tyd wat hulle saam verfilm het."

Lutendo Mugeri
Lutendo Mugeri en Gabriella Linton is groot vriende agter die skerms.