Skuif jou gereed: Winter is coming . . . vir die allerlaaste keer. Dis nou al agt jaar en sewe seisoene sedert die gedoemde Ned Stark dié woorde, wat wêreldwyd ’n sêding geword het, die eerste keer geuiter het.

En nou staan alles einde se kant toe: Die finale seisoen van Game of Thrones (GoT), die fantasiereeks wat TV-rekords laat spat, oud en jonk voor die kassie vasgenael gehou en van onbekende akteurs super­sterre gemaak het, is eindelik hier.

Met GoT-koors wat nou hoog genoeg loop om vir altyd met die gevreesde winter klaar te speel, kyk ons terug na een van televisie se suksesvolste verskynsels.

NOG IN DIE SPEL

Die reeks is daarvoor bekend dat ’n gru-­noodlot byna niemand ontsien nie en van die deugsaamste karakters het al op afgryslike maniere gesterf.

Soos die bekleër van die Iron Throne, Cersei Lannister, al opgemerk het: “Wanneer jy die troonstryd aandurf, sal jy wen of sterf. Daar is nie ’n middeweg nie.”

Maar dié karakters het wonder bo wonder sewe seisoene lank oorleef en aan die akteurs wat dié rolle vertolk sterstatus besorg.

JON SNOW

Nadat Kit die gesogte rol van Jon Snow gekry het,
Nadat Kit die gesogte rol van Jon Snow gekry het, het hy supersterstatus behaal,

Kit Harington (nou 32) was maar 24 toe hy die pelsmantel as Ned Stark se buite-egtelike seun aantrek, maar in die vorige seisoen het kykers ontdek Jon is glad nie Ned se seun nie.

Nadat Kit die gesogte rol van Jon Snow gekry het, het hy supersterstatus behaal, en verlede jaar het sy allemintige salaris van R36 miljoen per episode hom een van die hoogs betaalde akteurs op die kassie gemaak.

In 2018 is Kit getroud met die aktrise Rose Leslie (32), wat sy GoT-liefie, Ygritte, gespeel het.

DAENERYS TARGARYEN

Emilia Clarke (32) se karakter in die eerste seiso
Emilia Clarke (32) se karakter in die eerste seisoen van die reeks was as ’n grootoogprinses in ballingskap.

Ons eerste ontmoeting met Emilia Clarke (32) se karakter in die eerste seisoen van die reeks was as ’n grootoogprinses in ballingskap.

Maar Daenerys het intussen ’n hele paar koninkryke verower, en die Mother of Dragons is slag­gereed om die Iron Throne van Westeros te bestyg.

Emilia het glo gehuil toe sy die draaiboek vir die laaste episode lees en was so geskok dat sy “drie uur lank doelloos” in die strate van Londen rondgestap het om dit te verwerk.

CERSEI LANNISTER

Lena Headey (45) vertolk die rol van Cersei Lannis
Lena Headey (45) vertolk die rol van Cersei Lannister.

Lena Headey (45), wat dié rol vertolk, sit tans op die Iron Throne as die Queen of the Seven Kingdoms of Westeros.

Cersei is in ’n bloedskendige verhouding betrokke met haar tweelingbroer, Jamie, wat boonop die pa van haar kinders is. Sy is ’n magshonger vrou wat al drie haar kinders verloor en talle mense vermoor het in haar stryd om die troon te bestyg.

Sy het ingestem tot ’n wapenstilstand om Jon en Daenerys te help om die Night King te verslaan – altans, dis wat hulle dink . . .

JAIME LANNISTER

Die Deense akteur Nikolaj Coster-­Waldau speel Cer
Die Deense akteur Nikolaj Coster-­Waldau speel Cersei se tweelingbroer.

Die Deense akteur Nikolaj Coster-­Waldau speel Cersei se tweelingbroer (en die pa van haar kinders).

Sy karakter was aanvanklik ’n pierewaaier, maar hy het ’n dapper ommeswaai gemaak en sy magsbehepte suster die rug toegekeer om Daenerys en die Starks teen die ondooies te help veg.

Sy laaste dag op die stel was uiters emosioneel, sê Nikolaj (48).

“Dit was die perfekte einde; ons het op ’n pragtige plek in Noord-Ierland geskiet. Die son was besig om te sak en dit was werklik skouspelagtig.”

TYRION LANNISTER

Peter Dinklage (49) se karakter is die jonger broe
Peter Dinklage (49) se karakter is die jonger broer van Cersei en Jaime.

Peter Dinklage (49) was die draaiboekskrywers, David ­Benoff en DB Weiss, se eerste keuse vir die bekkige karakter Tyrion en was dadelik ’n gunsteling onder kykers. Sy karakter is die jonger broer van Cersei en Jaime.

Nadat hy sy pa vermoor het, moes hy noodgedwonge van King’s Landing vlug om die toorn van sy suster te ontsnap.

Tyrion het hom toe by Daenerys geskaar en sy kennis oor die troonstryd ingespan om haar te help om die White Walkers te verslaan en die Iron Throne te bestyg.

SANSA STARK

Die aktrise Sophie Turner (23) is gebroke dat die
Die aktrise Sophie Turner (23) is gebroke dat die reeks wat haar beroemd gemaak het ten einde loop.

Die eens selfsugtige, bedorwe dogter van Ned Stark het in ’n formidabele jong vrou ontwikkel – en ’n mens kan net hoop sy gebruik haar mag ten goede noudat sy en haar familie by hul tuiste in die noorde, Winterfell, herenig is.

Ná soveel jare op die stel is die aktrise Sophie Turner (23) gebroke dat die reeks wat haar beroemd gemaak het ten einde loop.

“Dis soos om ’n familielid aan die dood af te staan,” sê sy.

“Ek verloor die karakter wat ek so lank gespeel het.”

ARYA STARK

Maisie Williams (22) was net 13 toe sy stof in die
Maisie Williams (22) was net 13 toe sy stof in die oë van meer as 300 aktrises vir die rol van die rabbedoe Arya skop.

Sansa se kleinsus is nog ’n tiener, maar die tyd wat sy as sluipmoordenaar in die stad Braavos deurgebring het, het van haar ’n dodelike vegter gemaak.

Maisie Williams (22) was net 13 toe sy stof in die oë van meer as 300 aktrises vir die rol van die rabbedoe Arya skop.

Sy het ’n beroering op Jimmy Fallon se geselsprogram, The Tonight Show, veroorsaak toe sy laat val dat haar karakter in die agtste seisoen gaan sterf, maar dit was toe eintlik ’n gekkedagpoets.

BRANDON STARK

Die Britse akteur Isaac Hemp­stead Wright (20), sp
Die Britse akteur Isaac Hemp­stead Wright (20), speel Bran.

Bran is in sy onderlyf verlam, maar sy bonatuurlike kragte maak van hom ’n magtige speler in die stryd om Westeros. Danksy sy visioene is hy dalk die koninkryk se beste kans teen die Night King.

Die Britse akteur Isaac Hemp­stead Wright (20), wat Bran speel, het so gewild geword dat hy in 2017 sy studie aan die Universiteit van Birmingham in Engeland moes staak omdat aanhangers hom gedurig lastig geval het.

“Ek kon nie by my koshuis uitstap sonder om ’n selfie te moet neem nie.”

WINTER HET BYNA NIE GEKOM NIE

As die skrywer George R.R. Martin sy sin kon kry, het GoT dalk nooit ’n reeks geword nie.

Game of Thrones, die eerste boek in sy reeks A Song of Ice and Fire, kon nie verfilm word nie omdat dit te ingewikkeld was, het hy gesê.

Maar die draaiboekskrywers David Benioff en DB Weiss het geglo hulle het reg aan die komplekse draaiboek laat geskied.

George was beïndruk, maar wou toets hoe goed hulle die teks ken. Toe hy vra wie Jon Snow se regte ma is en hulle Lyanna Stark antwoord, het hy geweet hulle is die regte mense vir dié reusetaak.

DIE WANKELRIGE BEGIN

Toe die eerste episode in 2009 verfilm is, was die produksiemaatskappy HBO nie tevrede nie. Agterna beskou, erken David en DB dit was ’n “stuk gemors”.

Tonele moes oorgeskiet en nuwe akteurs ingespan word. Die koste het glo R140 miljoen bedra, maar dit was ’n goeie besluit – GoT het sedertdien 47 Emmy-pryse gewen en wêreldwyd kultusstatus bereik.

Toe die eerste seisoen in 2011 uitgesaai is, het 2,53 miljoen kykers per episode voor die skerm ingeskuif en teen die sewende seisoen (2017) het 10,26 miljoen mense gekyk.

VAN BOEK NA SKERM – EN ANDERSOM

Vyf van George R.R. Martin se pennevrugte. Foto: t
Vyf van George R.R. Martin se pennevrugte. Foto: takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Dit het byna ’n jaar gekos om ’n nuwe seisoen te vervaardig, maar dit neem George ses keer so lank om nog ’n boek te skryf.

The Winds of Winter, die sesde in die reeks, is al meer as agt jaar in wording en die televisiereeks het die storielyn in die boeke vooruitgeloop.

George het vir David en DB vertel van die vernaamste storielyne wat hy beplan, maar hulle vrye teuels gegee om hul eie ding te doen.

George weet nie eens hoe die agtste seisoen eindig nie.

GoT-syfers
  • 47 Emmy-pryse
  • 5 Akteursgildepryse
  • 4 Getal onthoofdings in die eerste episode
  • 71 Getal naak- of sekstonele teen die begin van die sewende seisoen
  • 198 Getal mense wat Cersei doodgemaak het (dit maak haar die dodelikste karakter, volgens Statistica)
  • 9 produksie-bestemmings
  • 540 Getal sterftes in die sesde seisoen, wat die hoogste sterftesyfer het

BRONNE: VULTURE, ENTERTAINMENT WEEKLY, ESQUIRE, STATISTICA, GIZMODO, MARKETPLACE, VARIETY, VANITY FAIR; FOTO'S: HBO