Sy karakter, JP, het einde Desember sy opwagting in Ruiterbosch gemaak, en sedertdien maak hy die lewe baie moeilik vir sy eksmeisie, Carmen Samsodien (Desiré Gardner), wat getroud is met Rhafiek (Irshaad Ally) en Suidooster-Eiendomme se binnehuisversierder is. En dis glo net die begin!

JP (Frank Rautenbach) het onlangs in Ruiterbosch opgedaag as Carmen (Desiré Gardner) se eks-kêrel. Foto: kykNET/Suidooster

“JP gaan stadig maar seker sy ware kleure begin wys,” vertel Frank aan Huisgenoot. “Hy is ’n moeilike kalant en hoe meer hy in ’n hoek gedruk word, hoe meer gaan hy reageer. Daar gaan in die komende weke nog baie pret wees,” voeg hy by.

Sedert hy in Ruitebosch opgedaag het, het hy onder meer vir Carmen oortuig om onwettige goedere uit Namibië te smokkel, en hom by haar man, Rhafiek, se besigheid ingewurm en die niksvermoedende Rhafiek by sy onwettige bedrywighede betrek.

rshaad ally,frank rautenbach,suidooster
Frank Rautenbach, Irshaad Ally en Desiré Gardner in 'n toneel uit die kykNET-sepie Suidooster. Foto: kykNET/Suidooster

Teen Woensdagaand was Ruiterbosch in rep en roer toe die nuus breek dat 'n spul smokkelaars in Namibië vasgetrek is – dit terwyl Rhafiek en JP se toergroep daar was. Carmen was buite haarself, want haar vriendin Michelle Gerber (Greta Pietersen) en dié se seun, Quinton Goliath (Leighmen Marshall), was deel van die toergroep en niemand kon hulle in die hande kry om te hoor of hulle veilig is nie.

Kykers hou nou asem op om te sien of JP se skelmstreke uiteindelik oopgevlek gaan word. 

Dis vir die akteur weer groot pret om in 'n sepie te verskyn. Foto: kykNET/Suidooster

Dit is die eerste keer in amper 20 jaar wat Frank, wat destyds bekendheid verwerf het vir sy rol as die stoutseun Tiaan Terreblanche in 7de Laan, weer in ’n sepie te sien is. 

Hy en sy fotograaf-vrou, Leigh, het in 2006 na Los Angeles in Amerika verhuis en Suid-Afrika vir die liggies van Hollywood verruil. 

En al was die 47-jarige akteur intussen in die Amerikaanse reeks Warrior en flieks soos The Bang Bang Club saam met Hollywood-sterre soos Ryan Phillippe te sien, sê hy dis groot pret om na al die jare weer in ’n sepie te verskyn – en dit boonop hier in sy geboorteland. Die paartjie woon vir nou in Kaapstad.

“Ek dink ek het 20 jaar gelede baie geleer, maar ek het dit nie so baie waardeer soos nou nie. ’n Sepie is ’n ander medium en verg baie dissipline,” vertel Frank. 

“Die vloer en die manier hoe die stelle gebou is, het my ook baie herinner aan hoe dinge by 7de Laan was,” vertel die akteur, wat steeds hier herken word as Tiaan van Hillside. 

Frank, wat vir net vyf weke in die gewilde Kaapse sepie Suidooster verskyn, sê hy is sedert sy debuut in Suidooster al op straat voorgekeer en uitgetrap oor sy skurk-karakter, JP.  

“Mense is gewoonlik baie verlig as hulle sien ek is net ’n normale ou wat in Tygervallei staan en krieket kyk, maar dis gewoonlik die ouer tannies wat my ’n klap op die boud wil gee,” vertel hy laggend. 

Dis nog onbekend vir hoe lank hy en Leigh, met wie hy al 23 jaar getroud is, nog in Suid-Afrika gaan wees, sê Frank. Vir nou geniet hulle eers die Kaap en kuier hulle gereeld saam met familie en vriende. 

Die akteur deel gereeld foto’s in die sosiale media van sy Kaapse avonture saam met die akteur en Survivor SA-aanbieder Nico Panagio wat destyds die rol van George Kiriakis in 7de Laan vertolk het. 

“Ek en Nico het op die stel van 7de Laan ontmoet en dadelik oor die weg gekom. Ons is al amper 20 jaar pelle. Ek dink ons persoonlikhede is baie dieselfde, daarom sal ons partykeer lag sonder om met mekaar te praat,” vertel Frank.

En al het dié twee die afgelope paar jaar in verskillende lande gewoon, het hulle "nog steeds dieselfde klere gedra". Hy het juis op Nuwejaar 'n kiekie op Instagram gedeel waar hy en Nico saam kuier en in eenderse klere vir die kuiertjie opgedaag het.

View this post on Instagram

Nope.....this was not planned ?? #happynewyear #2020

A post shared by Frank Rautenbach (@frank_rautenbach) on

“Ek geniet hom nie net vir sy professionele werk nie, maar hy is ’n goeie vriend, ’n great pa vir sy kinders en ’n great man vir sy vrou," vertel Frank oor Nico, wat getroud is met die voormalige 7de Laan-aktrise Christi Panagio. Die paartjie het twee dogters, Evah en Shay.

“Ons is dik pelle,” sê Frank.